Reis Saam Met Jesus — 40 Dae Lydenstyd OordenkingVoorbeeld

Die omvang van Jesus se kruisiging is in die natuur waargeneem. Duisternis het oor die aarde gekom. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars.
Dit was onmoontlik vir iemand wat dit aanskou het om dit as toeval te beskou. Die natuur het die aakligheid van die oomblik weerspieël.
Die offisiere en soldate het baie bang geword en uiteindelik erken dat Jesus die Seun van God was.
Dit is egter twee totaal en al verskillende goed om die feit te erken en om jou geloof in Jesus te plaas. Die feit is dat die Satan ook erken dat Jesus die Seun van God is. Wat jy met daardie kennis doen bepaal jou lewe hier en vir ewig.
Die natuur getuig van die glorieryke krag van God. In Romeine 1: 20 skryf Paulus: "Van die skepping van die wêreld af kan 'n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat 'n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie."
Laat ons nie ophou om uit te roep: "Hierdie man was werklik die Seun van God" nie. Kom ons sê met vreugde dat Hy my God is.
Oordink
Wat doen ek met my kennis van God? Verander dit die manier hoe ek lewe?
Gebed
Genadige God, soms word ek vasgevang in feitlike kennis. Dit sink nie in my hart in nie. Ek laat nie toe dat u waarheid my verander nie. Vergewe my as ek gevoelloos en onverskillig teenoor u Woord staan. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

"Reis Saam Met Jesus" is 'n leesplan om ons te help om saam met Jesus deur die laaste twee hoofstukke van Matteus te stap. Ons staan stil om op Jesus se laaste dae op hierdie aarde te fokus en wat dit vir ons beteken. Hoe verander dit vandag wie ek is en aan Wie ek behoort? Ons sal tydsaam deur die Skrifgedeeltes gaan en dit laat insink met vrae wat ons sal laat nadink oor waar ons onsself bevind in hierdie reis om Jesus te leer ken.
More