Reis Saam Met Jesus — 40 Dae Lydenstyd OordenkingVoorbeeld

Die Een wat ons verdedig, het nie Homself verdedig nie. Die Een wat ons Voorspraak is, het nie namens Homself gepraat nie. Die Een wat ons skild en skuilplek is, het nie probeer om Homself te beskerm nie.
Hy het verkies om kwesbaar te wees sodat ons oorwinning kan ervaar.
Pilatus kom voor die mees onwaarskynlike koning te staan, verdeeld tussen wat hy behoort te doen en die druk vanaf die skare mense. Die Romeinse goewerneur praat oor en weer met die strydlustige skare en Jesus. Hy kom senuweeagtig voor.
Jesus, in teenstelling, staan daar soos 'n koninklike. Hy weet presies wat gaan gebeur en Hy twyfel nie oor sy besluit om daarmee voort te gaan nie.
In die evangelie van Johannes, vra Pilatus vir Jesus: "Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?"
Jesus is heeltemal gerus en antwoord: "U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie."
Jesus het rus gevind in die oppermag van God. Al was Hy volkome mens, het Hy nie toegelaat dat twyfel en vrees Hom aanval nie, en Hy het ook nie probeer wegstap van die verhoor nie. Hy het eerder sy Vader vertrou, wat in volkome beheer was. Hy het die groter prentjie gesien. Die regte, egte, groot prentjie. Hy het dinge vanuit 'n ewige perspektief gesien en sy lewe vir ons opgegee.
Oordink
Vind ek rus in God se oppermag? Of is ek bang vir my toekoms? Laat ek God toe om my Verdediger te wees of wil ek die heeltyd myself verdedig?
Gebed
Hemelse Vader, dankie vir die voorbeeld wat Jesus gestel het toe hy stil gebly het voor die gesag van daardie tyd. Dankie dat Hy vir ons wys wat dit beteken om in u oppermag te vertrou en rus te vind in u beloftes. Dankie vir die beste geskenk van alle tye — die ewige lewe in Jesus. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

"Reis Saam Met Jesus" is 'n leesplan om ons te help om saam met Jesus deur die laaste twee hoofstukke van Matteus te stap. Ons staan stil om op Jesus se laaste dae op hierdie aarde te fokus en wat dit vir ons beteken. Hoe verander dit vandag wie ek is en aan Wie ek behoort? Ons sal tydsaam deur die Skrifgedeeltes gaan en dit laat insink met vrae wat ons sal laat nadink oor waar ons onsself bevind in hierdie reis om Jesus te leer ken.
More