Reis Saam Met Jesus — 40 Dae Lydenstyd OordenkingVoorbeeld

Journeying With Jesus - 40 Days Lent Devotional

DAG 16 VAN 40

Dis 'n somber Skrifgedeelte. Die uitspraak is gelewer. Jesus is geboei en weggelei. En ewe skielik is Judas vol berou oor wat hy gedoen het.

Hy probeer om sy skuld minder te maak deur die 30 silwerstukke te gaan teruggee. Hy probeer verantwoordelikheid neem vir sy sonde, maar hy doen belydenis teenoor die verkeerde mense. Hy probeer 'n end aan sy skuld maak, maar hy begaan 'n groot fout — hy soek nie vergifnis by 'n genadige God nie. Hy probeer sy sonde op sy eie manier "regmaak". Hy besluit om sake in sy eie hande te neem, insluitend sy eie lewe. 

Berou en spyt oor sonde is maar net die beginpunt. Ware gebrokenheid en belydenis teenoor God, is waar vergifnis begin — asook die daaropvolgende vryheid. Die Bybel sê in 1 Johannes 1: 9: "Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 

'n Sondige lewe is net 'n lewe wat wag om gered te word. 

Oordink

Probeer ek my foute op my eie manier regstel? Kom ek na God toe met gebrokenheid oor my sonde? Onthou ek dat die verdorwenheid van my sonde nooit die diepte van God se genade kan oortref nie?

Gebed

Hemelse Vader, help my om te onthou dat ek nooit my probleem met sonde kan regstel nie. Help my om te onthou dat ek nooit u genade kan uitput nie, hoe groot die foute ook al is wat ek maak. As ek my bekeer en tot rus kom, sal ek gered word. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Journeying With Jesus - 40 Days Lent Devotional

"Reis Saam Met Jesus" is 'n leesplan om ons te help om saam met Jesus deur die laaste twee hoofstukke van Matteus te stap. Ons staan stil om op Jesus se laaste dae op hierdie aarde te fokus en wat dit vir ons beteken. Hoe verander dit vandag wie ek is en aan Wie ek behoort? Ons sal tydsaam deur die Skrifgedeeltes gaan en dit laat insink met vrae wat ons sal laat nadink oor waar ons onsself bevind in hierdie reis om Jesus te leer ken.   

More

Baie dankie aan Susan Narjala wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.susannarjala.com