Blywende Hoopគំរូ

Sy Liefde Faal Nooit Nie
Lees: 1 Korintiërs 13; 1 Johannes 4:9–11
SOAP: 1 Johannes 4:9–11
Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê.
Oordenking
Liefde is die fondament van ons hoop. Hoop stel ons nooit teleur nie want dit is vasgewortel in God se liefde. Sonder liefde het ons geen hoop nie. As God ons nie liefgehad het nie, sou Hy Jesus nie gestuur het om vir ons te sterf en deur sy offer volkome verlossing vir ons te bewerk nie. Sonder liefde sou God nie soveel moeite gedoen het om ons met Hom te versoen en die ewige lewe vir ons te gee nie. Sonder liefde is daar niks om voor te hoop nie.
Die hoop wat ons het sal ons nooit teleurstel nie omdat dit in God se liefde vasgewortel is: ons hoop faal nooit want God se liefde faal nooit nie. Ons kan hoop hê na aanleiding van die oordadige manier waarop God ons liefhet, die manier waarop Hy sy enigste Seun gestuur het om vir ons te sterf. Ons hoop berus op sy onveranderlike, onwankelbare liefde.
Ons kan nie die gawe van hoop ten volle begryp as ons nie God se liefde verstaan nie. Ons kan hoop hê – nie net op die ewige lewe nie maar in al ons huidige omstandighede – omdat God ons liefhet. Jesus het ons so lief dat Hy vir ons gesterf het, en Hy het ons so lief dat Hy ons die vreugdevolle en seker verwagting van die goeie gee. Hy laat ons sien dat Hy aan die werk is, dat Hy getrou is, en dat Hy by ons is, selfs in ‘n gebroke wêreld waarin ons leef.
Ons kan diegene om ons liefhê omdat God ons liefhet. Ons kan hoop hê in ons verhoudings en die goeie vir ander verwag omdat God ons liefhet. Ons sal nie totaal verpletter wees wanneer mense ons teleurstel nie. Ons hoop is immers nie in hulle en hul goedheid geanker nie, maar in Christus en sy liefde. As gevolg van hierdie groter hoop sal ons diegene wat ons seermaak kan liefhê.
Soos ons ons studie voortsit, sal ons sien hoe geloof en hoop verbind is en hoe liefde die fondament van beide is. Liefde is die rede waarom ons geloof en hoop het. En watter gawe is dit nie! Dit maak nie saak wat nie, ons hoop is veilig want God se liefde vir ons verander nooit nie.
អត្ថបទគម្ពីរ
អំពីគម្រោងអាននេះ

"BLYWENDE HOOP" is ‘n ses weke lange Bybelstudie oor hoe om hoopvolle lewens te bou. Terwyl ons bestudeer wat die Skrif sê oor hoop en hoe om hoopvol te leef, sal ons die ongelooflike beloftes van God en sy oneindige liefde ontdek wat ons deur tydperke van swaarkry lei en versterk. Wanneer ons in hoop wandel, kan ons elke dag met vreugde en vrede leef, ongeag ons omstandighede.
More