Blywende Hoopគំរូ

Ontsteld oor Leuens
Lees: Psalm 77
SOAP: Psalm 77:11–14
En ek sê: "My grootste smart is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie." Ek wil dink aan die dade van die Here, ja, ek wil dink aan u wonderdade van vroeër. Ek wil nadink oor al u werk en oor al u dade peins. Alles wat U doen is heilig, o God. Waar is 'n god so groot soos God?
Oordenking
Dit is nie altyd maklik om God se karakter te onthou nie. Wanneer ons lewe inmekaartuimel, vergeet ons soms dat Hy goed is. Wanneer sake onregverdig lyk, kan ons vergeet dat Hy regverdig is. Wanneer ander ons seermaak, kan ons vergeet dat Hy vol deernis en liefde is.
Terwyl die psalmdigter sy hart voor God uitstort, het hy reguit vrae gevra en gewonder waar God in sy ellende is. Ons was al almal daar — oorweldig deur twyfel, vrees en wanhoop. Maar dan sê hy: "My grootste smart is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie" (Psalm 77:11). Wanneer ons voor beproewings te staan kom, sal die wêreld en die vyand ons toegooi met leuens oor wie God is. Die psalmdigter het hierdie leuen oor God se karakter raakgesien en dit ontstel hom hewiglik.
Dan, in plaas daarvan om toe te gee en die leuen te glo en in wanhoop te verval, verkondig hy die waarheid van wie God is: dat Hy 'n God is wat wonderdade doen.
Die lewe is nie maklik nie. Wanneer die ergste gebeur, kan ons eerlik en reguit wees met God oor ons twyfel en vrese. Ons kan Hom vrae vra en terwyl ons weeklaag ons harte voor Hom uitstort. Maar dan, in plaas daarvan om te swig voor leuens wat ons kan oorweldig wanneer ons seer het, wend ons ons tot die waarheid.
Sonder hoop kan ons nie die leuens van die vyand beveg nie. Hoop bewapen ons met waarheid en herinner ons om die goeie te verwag omdat ons 'n goeie God dien. Wanneer ons fokus op wat waar is omtrent God se karakter, bou dit volharding en geloof. Wanneer ons hoop gesetel is in die goedheid van God is en nie die toestand van ons omstandighede nie, sal ons nooit wankel nie.
Ons God doen wonderlike dinge. Dag na dag openbaar Hy sy krag aan ons. Terwyl ons fokus op die waarheid van wie God is, help dit ons as ons onthou van sy getrouheid in die verlede, om te weet dat Hy ook in die toekoms getrou sal wees. Ons hoop is verseker omdat dit in Hom is. Hy antwoord nie altyd soos ons hoop Hy sal nie; Hy gee nie altyd vir ons die uitkoms wat ons wil hê nie, maar Hy is altyd goed. Ons hoop berus nie op die uitkoms van ons omstandighede nie, maar op die karakter van ons God. Want Hy verander nooit en sal nooit onaktief raak nie.
អត្ថបទគម្ពីរ
អំពីគម្រោងអាននេះ

"BLYWENDE HOOP" is ‘n ses weke lange Bybelstudie oor hoe om hoopvolle lewens te bou. Terwyl ons bestudeer wat die Skrif sê oor hoop en hoe om hoopvol te leef, sal ons die ongelooflike beloftes van God en sy oneindige liefde ontdek wat ons deur tydperke van swaarkry lei en versterk. Wanneer ons in hoop wandel, kan ons elke dag met vreugde en vrede leef, ongeag ons omstandighede.
More