Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Delf dieper deur Openbaring

DAG 1 VAN 28

Inleiding

Die boek Openbaring is die belangrikste boodskap wat Jesus Christus aan sy kerk gegee het in ’n openbaring aan Johannes. Dit is aan die een kant die testament van sy nalatenskap aan ons, maar aan die ander kant ook sy agenda met die verlossingsplan vir die wêreld. Die agenda sluit die kerk in, dit omvat die heelal en dit word in die geskiedenis uitgewerk.

Openbaring handel nie net oor die apokaliptiese gebeure van die eindtyd waarin ons is nie. Dit bemoedig en versterk gelowiges om vas te staan in geloof en getrou te bly aan die opdrag om as koninkryk van priesters vir God die Vader op te tree (Openb. 1:6) ten spyte van die aanslag op hulle lojaliteit en verbintenis aan God (Openb. 12:17; 13:7-10, 11 vv). Die motivering vir hierdie opdrag is God wat besig is om sy heerskappy te vestig om as alleenheerser op aarde erken te word, soos dit reeds die geval in die hemel is. (Openb. 11:15).

Dié boodskap sluit aan by die boodskap van die evangelies sowel as die briewe van die Nuwe Testament. Met Jesus se menswording het die eindtyd immers reeds aangebreek, die kairos (tyd) is vervul vir die tyd van God se koninkryk. Die tyd van die evangelie het aangebreek. Dit roep mense op tot bekering en geloof (Mrk. 1:15). Petrus sê daarom van Jesus se menswording dat dit in die "laaste tye geopenbaar is" (1 Pet. 1:20). En Johannes verwoord die tyd waarin ons nou leef as die "laaste uur" (1 Joh. 2:18), die tyd net voor die einde, dié dinge wat “gou moet gebeur” (Openb. 1:1).

Openbaring trek dus die gordyn oop op die onsigbare werklikheid van die lewe vir God se mense. Daar is 'n geestelike oorlog aan die gang, en die opgestane Jesus openbaar hierdie visioene aan Johannes sodat God se kerk bewus sal wees van wat reeds nou gebeur sowel as in die toekoms. Alhoewel die vreemde beelde skrikwekkend mag voorkom, is die uiteindelike boodskap van Openbaring hoopvol. Alhoewel dit lyk asof die kwaad seëvier, is God op die troon.

Die goeie nuus van Openbaring is dat Jesus weer kom. “Ek kom gou,” sê Hy vir Johannes in die eerste visioen (Openb. 1:7). Met: “Ek kom gou,” sluit Hy die laaste visioen af (Openb. 22:20). En die Gees en die bruid sê: “Kom!”

Johannes as skrywer

Openbaring is waarskynlik deur die apostel Johannes geskryf (Openb. 1:2, 4, 9). Hy was ook verantwoordelik vir die evangelie van Johannes, sowel as die drie Johannes briewe. Só word dit in die kerklike tradisie aangedui, onder andere deur Justinus die Martelaar (155 n.C.), hoewel daar nie enige interne getuienis daaroor in die geskrif self is nie.

Johannes was een van die seuns van Sebedeus. Hy en sy broer, Jakobus, wat ook een van die apostels was, het by Jesus die bynaam van Boanerges of “manne van die donder” gekry (Mrk. 3:17), maar hy was ook bekend as die een wat Jesus lief gehad het (Joh. 21:20).

Johannes was ten tye van dié openbaring op die eiland Patmos, 60 km suid-wes van Milete, ’n hawestad van Efese. Patmos was dus naby aan Efese in die Egeïese See van Klein-Asië (Turkye) geleë. Omdat ons weet dat die apostel Johannes die laaste deel van sy lewe daar deurgebring het, maak dit die identifikasie van die skrywer van Openbaring met die apostel Johannes heel waarskynlik.

Daar is redelike eenstemmigheid dat hy die visioene aan die einde van die tyd van keiser Domitianus (81-96 n.C.) , ongeveer 95 n.C., gesien het. Dit is onder andere volgens die getuienis van die kerkvader Irenaeus oor Johannes, maar klop ook met die interne gegewens van die boek oor die vervolging waaraan die gemeentes in Klein-Asië blootgestel is.

Irenaeus wat in die laaste helfte van die 2de eeu n.C. opgetree het, is interessant genoeg juis in een van die gemeentes wat in Openbaring genoem word, naamlik Smirna, gebore, en was dus bekend met die situasie in Klein-Asië.

Hy word later biskop in Lyons, Frankryk, ver van sy geboorteland. Hy is een van die groot apologete van sy tyd wat vir die waarheid van die evangelie gestry het, sowel as ’n uitnemende pastor wat in sy gemeente en geloofsgemeenskap daarvoor geëer is.

Boodskap aan die eerste gemeentes

Die sewe gemeentes van Klein-Asië was die eerste gehoor wat hierdie Openbaring gelees het. Johannes skryf aan al die diensknegte van Jesus Christus (Openb. 1:1) en aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië (Openb. 1:4) – Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.

As gevolg van gelowiges se weiering om aan die keiserlike godsdiens (keiseraanbidding) deel te neem, het hierdie gemeentes godsdienstige vervolging uit Rome, sowel as plaaslik van die Joodse en heidense godsdienste ondervind, wat in baie gevalle tot die dood gelei het.

Openbaring kritiseer dus die drie leidende godsdienste van hulle tyd.

1. Die Romeinse imperiale godsdiens – en Domitianus, die keiser ten tyde van die skrywe van Johannes. Dit was nie net die gildes wat dit moeilik gemaak het vir Christene in die ekonomie, soos in die gemeente van Tiatira nie (Openb 2:18-29), maar die hele ekonomiese sisteem wat deur die politieke leiers in stand gehou is, soos aan die einde van Openbaring openbaar word (Openb. 17-18).

2. Die Griekse godsdiens het steeds ‘n groot invloed gehad, veral in die gemeentes van Turkye, met die hoofgod Zeus – die troon van Satan – wat veral in die gemeente van Pergamum gelowiges vervolg en gemartel het (Openb. 2:12-17).

3. Die Joodse godsdiensdie sinagoges van Satan – het ook op talle plekke die Christene vervolg, soos ons in die briewe aan Smirna (Openb. 2:8-11) en Filadelfia (Openb. 3:7-13) lees.

Dit is benewens die kritiek in die sewe briewe op die afgodsdiens en onsedelikheid waaraan die gemeentes blootgestel is, nie net vanuit die samelewing waarin hulle geleef het nie, maar selfs van binne af deur die invloed van dwaalleraars. Dit is die leringe van :

  • die Nikolaïete in Efese (Openb. 2:1-7) en in Pergamum (Openb. 2:12-17),
  • die aanhangers van die leer van Bileam en Balak in Pergamum (Openb. 2:12-17), soos geïllustreer in die praktyke van
  • die gruwelike profetes Isebel wat mense geleer het dat losbandigheid deel kan wees van die Christelike godsdiens – dinge wat Jesus die “dieptes van Satan” noem (in Tiatira – Openb. 2:18-29).

Johannes vermaan dus die volk van God om standvastig te staan in die verdrukking wat hulle ervaar. Aan die een kant teen die uitdagings van buite – polities, ekonomies, en godsdienstig. Aan die ander kant teen die uitdagings van binne – afgodsdiens en onsedelikheid.

Hy moedig hulle aan om tot die dood toe getrou te bly en geen kompromie met die wêreld aan te gaan nie, nie in die samelewing nie, ook nie in die gemeentes nie.

Boodskap aan alle gemeentes

Johannes se visioene in Openbaring lewer vandag dieselfde boodskap van hoop wat dit aan sy oorspronklike gehoor gegee het. Jesus het reeds die oorhand gekry. Hy sal eendag aan bewind kom om sy volk ten volle te verlos en saam met hulle in die nuwe hemel en aarde gaan woon. Verseker van hierdie waarheid kan gelowiges hoop hê om te volhard in hierdie wêreld.

Die boodskap van Openbaring, wat die boodskap van die briewe aan die sewe gemeentes insluit, is ‘n boodskap wat aan alle gelowiges regdeur die eeue gerig is. Elkeen van ons, in elke gemeente deur die eeue, speel 'n belangrike en onontbeerlike rol in die kosmiese stryd tussen lig en duisternis. Ons mag nie op die kantlyn sit en wag vir die einde van die geskiedenis nie. Jesus self roep ons om saam met Hom te werk aan die koms van die koninkryk (Openb. 2:7; 17:14; 21:7).

’n Openbaring deur Jesus Christus – Openbaring 1:1-3

In die volksmond praat ons baie keer van die Openbaring van Johannes. Dit is eintlik verkeerd. Die boek is duidelik ‘n openbaring van Jesus Christus wat deur God aan Hom gegee is. Jesus tree aan die eenkant nie op sy eie op nie. God die Vader stuur Hom met ’n baie spesifieke opdrag. Aan die ander kant tree Jesus met volle gesag op om aan die gelowiges te toon wat binnekort moet gebeur, soos die Vader Hom gewys het. Daarvoor gebruik Jesus ‘n engel.

Wat die engel vir Johannes gewys het, raak nou die “woord van God” aan die gelowiges. Dít is die laaste woorde van Jesus aan sy mense in verband met die eindtyd wat naby is. Maar belangrik: dié woord van God is nie die getuienis oor Jesus Christus nie, maar “die getuienis van Jesus Christus”. Jesus word as die uitvoerder van God se opdrag aangedui en die Een wat deur die getuienis van Johannes aan die woord kom. Kragtig! In die lees van dié boek het ons dus met die selfgetuienis van Jesus Christus te make. Hy praat met ons deur die boek.

Daarom sê Johannes dat God almal wat dié profesie van die boek (voor)lees – d.w.s. die leraars of bedienaars van die Woord wat dit voorlees – geseënd verklaar, sowel as dié wat daarna luister, en belangrik, dit wat daarin geskrywe staan, nakom. Die dringendheid hiervan het met die tydsgewrig te make waarin hulle lewe. Die openbaring gaan oor wat binnekort moet gebeur. Die tyd is naby.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Openbaring

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com