Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Die Here Jesus Christus kom verseker – Openbaring 22
Die boek Openbaring sluit in hoofstuk 22 af met:
- ’n prentjie van die utopiese karakter van die Nuwe Jerusalem wat herinner aan die oorspronklike paradys, tuin van Eden, in Genesis 2 sowel as die saligspreking van Psalm 1 wat ook met ’n boom metafoor werk – verse 1 tot 5 en
- ’n versekering van die Here Jesus Christus se wederkoms in ’n wisselspraak tussen die engel, die Here Jesus self, die Heilige Gees, die bruid, Johannes en die veronderstelde lesers van die boek – verse 6 tot 21.
Water van lewe en genesing vloei uit die Nuwe Jerusalem – Openbaring 22:1-5
Soos die vorige hoofstuk die impak van God uit die nuwe stad Jerusalem – die metafoor vir die geloofsgemeenskap – op die omliggende nasies beskryf met die metafoor van LIG wat lewe gee, só beskryf Johannes op soortgelyke wyse die impak van God in hierdie hoofstuk met die metafoor van WATER so helder soos kristal, wat lewe gee.
Hierdie water loop soos ’n rivier uit die troon van God en die Lam en gee lewe asook genesing deur middel van die boom van die lewe wat by die rivier geplant is en sy maandelikse vrugte en oorvloed van blare wat genesing bring. Dit sluit baie nou aan by Esegiël 47 wat beide oor die stroom van water uit die heiligdom en die blare van die bome daar langsaan wat genesing bring, skrywe. Dit laat ‘n mens ook dink aan Psalm 1 se prentjie van die oorvloed wat iemand beleef wat na God luister en met ’n boom wat by watervore geplant is, vergelyk word.
In dié Utopia, hierdie Eden, sal daar geen vervloeking meer wees nie. In die grondteks staan daar: “Geen vloek sal daar meer wees nie.” In die konteks beteken dit dat God nie meer sal oordeel nie. Dit sal nie meer nodig wees nie, want almal sal met onbedekte gesig die lig van God se teenwoordigheid indrink en daarin en daaruit leef. Die vloek van die sondeval van Genesis 3 is opgehef.
Sy Naam sal op hulle voorkoppe geskryf staan. En hulle sal vir ewig as konings saam met Hom leef.
Die wederkoms van die Here Jesus Christus – Openbaring 22:6-21
In die laaste visioen van Openbaring 22:6-21 verseker Jesus vir Johannes van sy wederkoms. Jesus sal binnekort weer kom, 'n belofte wat die sekerheid, en daarom hoop van Johannes se boodskap, bevestig.
Hierdie versekering van die Here Jesus Christus se spoedige wederkoms kom in ’n wisselspraak tussen die engel, die Here Jesus self, die Heilige Gees, die bruid, Johannes en die veronderstelde lesers van die boek Openbaring.
Dat die Here Jesus dit self drie keer herhaal, gee aan dié slotgedeelte ’n besondere krag: verse 7, 12, 20: “Kyk, Ek kom gou!”.
Dat die woorde van dié boek as betroubaar en eg geag word, soos die engel aan Johannes te kenne gee, gee besondere krag aan die oproep om gehoorsaam te wees. Trouens, Jesus se eerste belofte van sy wederkoms word as saligspreking daaraan verbind: “Geseënd is dié wat vashou aan die woorde van die profesie van hierdie boekrol.”
Soos in Openbaring 19 is die oomblik só groot vir Johannes dat hy weer die boodskapper probeer aanbid, maar word weereens gehelp om sy fokus op God te plaas, terwyl hy ook aangemoedig word om die woorde van die profesie wyd te versprei weens die spoedige aard daarvan in belang van die lewens van mense.
Die woorde in vers 11 kan op twee maniere verstaan word: as ’n beskrywing van wat in werklikheid gebeur – sondaars hou aan met sondig, dié wat gehoorsaam is, groei in gehoorsaamheid – óf as ’n waarskuwing aan goddeloses dat hulle op ’n pad is wat na die verderf lei en omgekeerd ’n aanmoediging aan gelowiges dat hulle moet volhou op die pad wat na die volle gemeenskap met God lei.
Die beloning van die Here Jesus dui nie op ’n verdienstelike karakter van die wederkoms nie, maar op die sekerheid van die redding van diegene wat in ’n verhouding met Hom lewe, wat 'n beloning sal insluit. Dit word gekontrasteer met dié wat nie deel aan die stad sal hê nie – honde (seksuele perverte), towenaars, onsedelikes, moordenaars, afgodsaanbidders en leuenaars – ’n soortgelyke lys as wat in hoofstuk 21 gegee is.
Die Gees en die bruid eggo die belofte van die Here Jesus se koms met die byvoeging dat daar nog genadetyd beskikbaar is vir dié wat dors het en luister. Hy is immers die loot en nakomeling van Dawid (vgl. Jes. 11:1), die helder môrester (Num. 24:17).
Johannes bevestig self ook die inhoud van sy boek, dat dit gesagvol is; een van die redes waarom die boek uiteindelik in die kanon ingesluit is, komende van ’n apostel wat die Here Jesus op aarde geken het. Niemand mag hieraan verander nie, anders sal hy of sy nie net die plae wat in die boek beskryf is ondervind nie, maar ook uit die boek van die lewe uitgeskryf word.
Die boek sluit met die derde belofte van die Here Jesus Christus dat Hy op pad is om terug te keer, waarop die kerk asof in ’n liturgie antwoord: “Amen! Kom, Here Jesus!”, asook ’n seënbede in die naam van die Here Jesus en sy genade.
Boodskap en betekenis
Johannes sluit Openbaring 22 af met 'n kragtige bevestiging van Jesus Christus se spoedige wederkoms. Drie keer herhaal Jesus self: "Kyk, Ek kom gou!", wat die sekerheid en nabyheid van sy terugkeer beklemtoon. Die engel verseker ons dat die woorde van die profesie betroubaar is en moedig gelowiges aan om gehoorsaam te wees, met 'n spesiale saligspreking vir dié wat vashou aan die woorde van die boek.
Die Heilige Gees en die bruid bevestig Jesus se belofte en nooi mense uit om die lewende water gratis te ontvang, terwyl dit nog beskikbaar is.
Johannes sluit af met 'n laaste oproep tot gehoorsaamheid, 'n troos aan gelowiges en 'n laaste waarskuwing aan dié buite die koninkryk: “Kyk, Ek kom gou!”
Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.
More
Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com