Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Die boodskap aan Pergamum: “Stry teen valse leringe” – Openbaring 2:12-17
Die stad Pergamum
Pergamum, die amptelike hoofstad van dié gebied, was ‘n groot stad wat bekend was vir ‘n hele paar dinge. Dit was een van die plekke waar Asklepius, die god van gesondheid – gesimboliseer deur 'n slang (mediese simbool) – aanbid is.
Pergamum het ook een van die grootste biblioteke gehad in dié tyd met ongeveer 200 000 boeke en bronne, wat net oortref is in grootte deur die een in Alexandrië. Hulle het uitgemunt in die produksie van boeke, veral op die velle van diere, wat vereer is deurdat die moderne woord perkament van die stad se naam, Pergamum, afgelei is. Vandag is dit die stad Bergema.
Beskrywing van Jesus
Geen wonder dat Jesus Homself aan hierdie gemeente bekendstel as die een wat die skerp swaard met die twee snykante het nie.
Hierdie swaard het ‘n dubbele betekenis.
Aan die een kant is dit die wapen van God se oordeel. Dit is hoe God Homself onder andere in die Ou Testament bekend gestel het.
1. Daar was ‘n vlammende swaard wat heen en weer beweeg het wat die toegang tot die boom van die lewe in Eden bewaak het (Gen. 3:24).
2. Daar was ‘n engel met ‘n ontblote swaard wat Bileam gewaarsku het om net te sê wat God vir hom gee om te sê, en nie enige vloek oor Israel uit te spreek nie (Num. 22:31; vgl. Jos. 5:13; 1 Kron. 12:12,16). Dit is dieselfde Bileam wie se leringe net hierna aan die kaak gestel sal word.
3. Met Moses se derde en laaste toespraak net voor die volk die land Kanaän sou binnetrek, skets hy ‘n prentjie van die Here wat met die skerpgemaakte blink swaard van sy oordeel voor hulle sal uittrek en die land aan hulle sal gee (Deut. 32:41; vgl Job 19:29; Ps. 7:13; 17:13; Jes. 27:1; 31:8; 34:5-6; 66:16; Jer. 12:12; 47:6; 48:2; Eseg. 21:1-12; Amos 7:9; Sef. 2:12; Sag. 13:7).
4. Dieselfde prentjie van God word in Openbaring geteken waar Jesus as die ruiter op die wit perd geteken word. Hy voer aan die einde van die tyd oorlog teen die nasies: “Uit sy mond het daar ’n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref” (Openb. 19:11-21).
Maar aan die ander kant is die swaard ‘n simbool van die Woord van God. So sê Jesaja alreeds in die Ou Testament (Jes. 49:2). Maar dit is ‘n helder boodskap in die Nuwe Testament, soos ‘n mens ook in die beskrywing van die ruiter op die wit perd agterkom (Openb. 19).
5. Paulus praat van die Woord as die swaard van die Gees (Ef. 6:17). Dit is deel van die wapenrusting van die gelowige teen die bose geeste in die lug wat die verspreiding van die evangelie teenstaan.
6. Die Hebreërskrywer beskryf die woord van God as lewend en kragtig: “Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart” (Hebr. 4:12).
Jesus word dus nie deur die kennis wat in biblioteke versamel is, getroef nie. In ‘n stad wat bekend was vir boeke, stel Jesus Homself bekend as die een van dié Boek.
Beskrywing van die gemeente
Die grootste uitstaande kenmerk van Pergamum was egter dat dit een van die hoofsentrums van keiseraanbidding in die streek was, met ’n reuse altaar vir Zeus Soter, die verlosser god.
Hierdie altaar het ‘n wrede doel gedien. Daar is 24 uur elke dag, 7 dae ‘n week, mense op dié massiewe altaar geoffer. Die mense is binne-in ‘n brons bul vasgebind, ‘n vuur is onder die bul aangesteek, en dan is die persoon lewendig soos in ‘n oond gebraai. Die gille het uit die bul weerklink wat dit laat klink het asof die bul lewe. Grusaam. Alles ter ere van Zeus.
Antipas
Midde-in hierdie uitdagende omgewing – die plek waar die Satan bly, daar waar die troon van Satan is, so verskriklik was die plek, sê Jesus – het die voorganger en die gemeente aan die Here getrou gebly selfs toe Antipas, een van die gemeente se getroue getuies, die hoogste prys vir sy getrouheid moes betaal.
Antipas se naam het waarskynlik sy getuienis beskryf. Die naam beteken “teen alles”. Dit is ‘n naam wat óf aan hom gegee is, weens sy opstand teen die vergrype van ‘n samelewing wat God nie eer nie. Óf dit kan ook wees dat hy verteken is asof hy “teen alles” was. Dit kan ook wees dat dit sy regte naam was, en dat dié naam ‘n profesie was van watter pad sy getuienis sou inslaan as kind van die Here.
Hoe dit ook al sy, hy is deur die owerhede doodgemaak weens sy getuienis. Moontlik juis verbrand in die afgod Zeus, soos die tradisie oor Antipas lui.
Jesus bemoedig die gemeente
Die Here Jesus bemoedig die voorganger en gemeente om getrou te bly, selfs al kos dit hulle dood. Antipas is hulle voorbeeld. Almal moet soos Antipas wees, want hy was die getroue getuie van die Here Jesus.
Beskrywing van hulle dwaling
Daarom spreek die Here hulle aan om voort te gaan daarmee en nie toe te laat dat valse leringe die gemeente soos suurdeeg infiltreer en hulle verstrik word in afgodery en onsedelikheid nie.
Soos Bileam stel dié mense ‘n strik vir die gemeente, leer hulle die gemeente om van die afgodsoffers te eet en hulle onsedelik te gedra. Dit is ook wat die Nikolaïete die mense in Efese geleer het. Hulle het nou ook aanhangers in Pergamum verwerf.
Hierdie mense het dus van die kerk ‘n “wêreldvriendelike” kerk probeer maak. Hulle het die waardes en lewenstyl van die samelewing binne die kerk aanvaarbaar gemaak, en só die gelowiges verlei om “wêreldgelykvormig” te raak.
Vriendskap met die wêreld is egter vyandskap met God, só het die broer van Jesus, Jakobus, geleer (Jak. 4:4). Daar is nie 'n kompromie moontlik met die wêreld se waardes en wêreldse immoraliteit nie. Ons is immers vreemdelinge in hierdie wêreld en vermy vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel, so het Petrus ons geleer (1 Pet. 2:11).
Die gemeente word dus opgeroep om op te tree teen dié mense wat nie meer aan Jesus se leringe getrou was nie, en die leer van Bileam aanhang. Dit was nie so ‘n groot probleem by hulle soos by Tiatira nie – waarby ons nog kom – maar dit was al genoeg rede vir die Here Jesus om hulle ernstig teen die dwaling te waarsku. ‘n Klein bietjie suurdeeg beïnvloed mos ‘n groot hoeveelheid meel.
‘n Bietjie agtergrond oor Bileam
Bileam het die simbool geword van ‘n profeet wat deur sy gekonkel gelowiges deur onsedelikheid tot afgodery verlei. Die verhaal in Numeri 22-24 vorm die agtergrond vir hierdie verwysing in Openbaring.
Dit is die verhaal waar koning Balak vir Bileam, die profeet, huur om die Israeliete te vervloek net voor hulle die land Kanaän sou inval. Die Here keer egter telkens vir Bileam om dit te doen, onder andere deur die donkie wat praat en die ontblote swaard van die engel. En in plaas van vloeke, kon Bileam net woorde van seën oor Israel uitspreek, tot Balak se ontsteltenis.
Maar dan beraam Bileam ‘n slinkse plan. Ons lees daarvan in Numeri 31:6 (vgl. 1 Kor. 10; Judas 14 en 2 Pet. 2:15). Bileam stuur ‘n klomp Midianitiese vroue om die Israeliete te verlei tot onsedelikheid en afgodsdiens. En die manne val vir die verleiding van die vroue. Hulle verval in onsedelikheid en afgodery, sodat God hulle met ‘n groot ramp tref waarin 24 000 manne sterf (Num. 25).
Dieselfde soort leringe van Bileam, sê Jesus, is deur die Nikolaïete gehandhaaf, soos dit ook die geval was in Efese, waaroor ons reeds nagedink het.
Vrysinnigheid het dus ingesluip, die begin van ‘n liberale siening van die evangelie, waar die ortodokse siening van die evangelie en die Skrif vervang word met die insluiting van leringe wat van buite af kom, wat gebaseer is op ervaring, geleen by die waardes van die samelewing van die dag, en geakkommodeer word met die term diversiteit.
Opstand teen die ooreenkoms van Handelinge 15
Daar is egter meer.
Wat ons hier raaksien, is dat daar ‘n groeiende opstand by sommige in die gemeente van Pergamum was teen die ortodokse leer en lewe wat die apostels vir hulle nagelaat het.
Hulle het veral nie gehou van die akkoord wat al die gemeentes in Jerusalem met mekaar aangegaan het nie, waarvan ons lees in Handelinge 15.
Hulle het in opstand gekom teen die besluit dat alle gelowiges onsedelikheid en afgodery (“van afgodsoffers, van bloed en van wat verwurg is”) moet vermy. Dit het gelowiges uit die Jodedom ingesluit sowel as gelowiges uit die heidendom. En dit het regdeur die Christelike kerk gegeld.
Paulus het regdeur die wêreld van sy tyd geleer dat gelowiges oor ander sake kon verskil – die besnydenis (Hand. 15), kos en wyn (Rom. 14), en die sabbat (Kol. 2).
Maar hy het vasgestaan oor die kernsake van die Christelike geloof. Dinge soos die opstanding (1 Kor. 15), die verbod op afgodery (2 Kor. 6) en die verbod op onsedelikheid (1 Kor. 6). Daaroor was geen diversiteit moontlik nie.
Hoekom is die verbod op afgodery en onsedelikheid so absoluut?
Want, die verbod op die eet van vleis met bloed in Handelinge 15 gaan nie net terug op die wet van Moses nie, maar nog vroeër na die verbond met Noag. Die verbod op afgodery en onsedelikheid geld dus van die begin af.
Die verbond met Noag, en die eise wat God daarin gegee het, geld vir alle mense. Dit is waar God die eerste keer die opdrag gegee het dat mense nie vleis met bloed daarin mag eet nie.
Net so word in Genesis 9 die eerste verhaal van onsedelikheid vertel. In die boek Jubilees, ‘n vroeë Joodse kommentaar op Genesis – wat deel uitmaak van die kanon van die Ethiopiese Ortodokse kerk – word die verbod op onsedelikheid aan Noag verbind:
Noah began to prescribe for his grandsons the ordinances and the commandments—every statute which he knew. He testified to his sons that they should do what is right, cover the shame of their bodies, bless the one who had created them, honor father and mother, love one another, and keep themselves from fornication, uncleanness, and from all injustice.
Die Joodse eksegete het dus van vroeg af die verhaal van Gam met ongeoorloofde seksuele gemeenskap verbind (vgl. Steven Greenberg en David Goldenberg). Die frase: “... het sy vader se naaktheid gesien ...” (Gen. 9:22) word immers vir seksuele gemeenskap gebruik in Levitikus (bv. Lev. 20:17).
Wat God verbied, mag jy nooit doen nie. Wat God gebied, moet jy altyd doen. God verwag persoonlike, volkome, noukeurige en volhardende gehoorsaamheid van elke mens. Dit sluit die verbod op afgodery en onsedelikheid in.
Dit is dus waarom die gemeente van Pergamum opgeroep word om afgodery en onsedelikheid te bestry, om dié dwaalleringe te identifiseer en daarteen te stry. Dit kom reeds van vroeg af, van Genesis 9 in die Ou Testament en van Handelinge 15 in die Nuwe Testament.
Boodskap en betekenis
Hoekom is dit só belangrik?
Jy kan afgodery as die “wortel van alle sondes” beskou. Soos die apokriewe boek, Die Wysheid van Salomo, dit beskryf: “... die aanbidding van die onnoembare afgode is die begin, oorsaak en eindpunt van alle boosheid.”
Dieselfde is waar van onsedelikheid. Seksuele onsedelikheid (porneia) kan as die “moeder van alle kwaad” beskou word. Dit is waarom afgodery en onsedelikheid so sterk regdeur die Nuwe Testament verbind word.
1. Die eerste “sinode” in Handelinge 15 waarsku alle gelowiges daarteen (Hand. 15:20,29; 21:25).
2. In sy eerste brief waarsku Paulus die Galasiërs dat onsedelikheid en afgodery jou uit die koninkryk van God uitsluit (Gal. 5:19-21).
3. Paulus volg dit op in sy eerste brief aan die Tessalonisense en waarsku hulle teen afgodery (1 Tes. 1:9) en onsedelikheid (1 Tes. 4:3).
4. Paulus brei nog meer uitvoerig daaroor uit in Romeine 1 in sy toepassing van die band tussen afgodery en onsedelikheid in enige geslagsgemeenskap buite die veilige ruimte van die huwelik tussen een man en een vrou.
5. Hy doen dieselfde in sy eerste brief aan die Korintiërs deur hulle te waarsku dat onsedelikes en afgodsdienaars nie die koninkryk van God kan beërwe nie (1 Kor. 6:9-11).
Die punt wat Paulus maak, is dat jy ontrou aan God raak as jy buite die huwelik beweeg met jou seksualiteit. Dit is per definisie wat afgodery is; om God se wil vir die lewe te ignoreer; om in sy wêreld te lewe asof Hy nie bestaan nie; om te doen wat Hy jou beveel om nie te doen nie. Dit is nie net sonde nie. Dit is afgodery.
Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.
More
Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com