Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Die boodskap aan Laodisea – “Bekeer julle” – Openbaring 3:14-22
Die stad Laodisea
Die skerpste oordeel van Jesus word gereserveer vir die boodskapper van die gemeente van Laodisea. Die gemeente is waarskynlik deur Epafras gestig (Kol. 1:7; 4:12-13). Paulus het ook ‘n brief aan hulle gestuur wat ongelukkig verlore geraak het (Kol. 4:16).
Die stad Laodisea is 250 jaar v.C. gebou, die laaste stad op die antieke posroete van Klein-Asië. Een van die drie stede in die Likusrivier-vallei, saam met Hiërapolis (10 km noord) en Kolosse (16 km oos), was ongeveer 65 km suidoos van Filadelfia geleë.
Ná ‘n groot aardbewing in 600 n.C. is Laodisea verwoes. Die ruïnes van die stad is naby die dorp Eskihisar. En ‘n nuwe stad wat vandag Denizli genoem word, is daar langsaan gebou.
Laodisea was 'n belangrike handelsentrum. Die mense was welvarend en voorspoedig, 'n spilpunt vir die bankdienste in die streek. Die stad het ook in die vervaardiging van sagte, swart wol gespesialiseer waarvan luukse klere en matte gemaak is. Die stad was daarby 'n leier in antieke medisyne. 'n Mediese skool in die omgewing het 'n oogsalf ontwikkel wat oral in die Grieks-Romeinse wêreld verkoop is.
Hulle watervoorsiening was egter uiters swak.
- Die nabygeleë Hiërapolis was bekend vir sy natuurlike warmwaterbronne.
- Aan die ander kant was Kolosse wat 'n standhoudende, koue, natuurlike rivier gehad het. Laodisea se naaste waterbronne was egter besoedel of ontoereikend.
Om die probleem te bowe te kom, het Laodisea 'n ondergrondse akwaduk gebou om water vir die stad te lewer. Maar op die roete van 8 km deur klip- en kleipype, het die water vuil en onaangenaam by die stad aangekom. Dit was nóg warm nóg koud. Die sentrale reservoir in die stad was gevolglik vuil en onwelriekend.
Die gemeente was waarskynlik gestig tydens Paulus se bediening in Efese (Hand. 19:10). Epafras (Kol. 1:7) en Argippus (Kol. 4:17) was moontlik op 'n stadium leiers in die gemeente.
Beskrywing van Jesus
Jesus begin weereens met ‘n beskrywing van Homself; die Een wat getrou was aan sy lewenstaak, getrou in sy getuienis, getrou in sy skeppingswerk. Hy kan hulle dus aanspreek oor hulle louwarm dade, want Hy het enduit gedoen wat Hy moes.
Jesus is die Amen. Die Een wat beveel en dit geskied.
Jesus is die getroue en ware getuie. Hy het nooit iets anders gesê as wat God Hom gegee het om te sê nie. Hy het altyd die waarheid gepraat. Selfs al het dit Hom sy dood gekos.
Jesus is ook die begin van God se skepping. Trouens, Hy was die Woord wat God in die skepping gebruik het (Joh 1).
Beskrywing van die gemeente
Vanuit hierdie beskrywing van Jesus spreek Hy die gemeente aan oor hulle dade. En hulle skiet erg tekort:
- Efese se dade was bó verdenking – saam met hulle inspanning en volharding – al was dit nie genoeg nie, weens die feit dat hulle hulle eerste liefde verlaat het. Die liefdelose gemeente.
- Tiatira se dade was aan die groei – saam met hulle liefde, geloof, diens en volharding – al was dit nie genoeg nie, omdat hulle in afgodery en onsedelikheid verval het. Die korrupte gemeente.
Laodisea se dade was egter nóg hier, nóg daar; nóg koud, nóg warm. Soos Sardis was hulle dade doodgewoon net nie goed genoeg nie.
Miskien het jy al die idee gehoor dat dit beter sou wees dat hulle koud was. Want, as hulle geestelik koud was, dan kon hulle nog tot bekering gelei word.
Maar, dit is nie wat daar staan nie. Jesus sê, was julle maar koud of warm!
Jesus verwys hier na iets wat die mense van Laodisea goed geken het – hulle watervoorsiening.
- Die water van Laodisea was nie so lekker koud soos die heerlike koue waterbronne van Kolosse, ongeveer tien km oos van hulle af nie.
- Die water van Laodisea was ook nie so warm soos die heerlike warmwaterbronne van Hiërapolis, so tien km noord van hulle af nie.
Laodisea se water het van die Denizli-bronne gekom en nadat dit oor ’n kalkkrans gestort het, louwarm en onsmaaklik by hulle aangekom. Nie koud nie. Ook nie warm nie. Louwarm.
- Kyk, ‘n beker koffie wat lekker warm is, smaak vorentoe. Só ook ‘n koppie sop.
- En ‘n beker koue water, les jou dors.
- Maar louwarm koffie, of louwarm water, is nie lekker nie.
Net so hou die Here nie van mense wat louwarm is nie. Wat nie warm of koud is nie. Hulle deug nie vir sy doeleindes nie.
Beskrywing van hulle dwaling
Wat doen die Here met mense wat geestelik lou is? Hy spoeg hulle uit sy mond uit. Soos louwarm koffie of water.
Hulle kon wel trots wees op hulle materiële voorspoed – Laodisea was een van die rykste kommersiële sentrums in die wêreld – maar hulle het nie hulle geestelike louheid, hulle geestelike armoede, raakgesien nie.
Hulle geestelike lewe was in skerp kontras met Jesus self – die “Amen, die getroue en ware getuie, die begin van God se skepping” (Spr 8:22,30; Gen 1:1), die Een wat beantwoord het aan sy doel, en in die oortreffende trap!
Daarom raai Jesus hulle aan:
- Om eerder ryk in God te word – suiwer goud van Hom te koop.
- Om onberispelik te lewe – wit klere om hulle onsedelikheid te bedek.
- Om in geestelike insig toe te neem – salf vir hulle oë te koop.
Dit was metafore wat spesifiek op die drie uitstaande kenmerke van die stad gemik was – die bankwese, die klerebedryf en die mediese skool.
Laodisea was bekend vir hulle bankwese, vir die klerebedryf, veral vir hulle swart wol industrie en die salf van hulle aptekersbedryf. Dié salf is veral geassosieer met die beroemde oogkundige Demosthenes Philalethes.
- Jesus sê hiermee dat al die geld in die wêreld niks beteken indien hulle nie ryk in God is nie. Hy praat hier van hulle geloof wat so kosbaar is soos goud, soos Petrus skryf: “Hieroor moet julle jubel, al moes julle nou eers vir 'n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word. Die doel was dat dit duidelik sou blyk dat die egtheid van julle geloof — 'n egtheid wat baie kosbaarder is as goud wat verganklik is, maar nogtans met vuur getoets word — uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word” (1 Pet. 1:6-7).
- Hulle moenie trots wees op hulle swart wolklere nie, maar eerder op die wit klere wat Jesus gee om hulle onreinheid en onsedelikheid te bedek.
- Hulle moenie hoogmoedig wees oor die oogsalf waarvoor hulle bekend is nie, maar eerder vra vir die geestelike insig wat net Jesus kan gee.
Hulle geestelike lewe was dus so louwarm en onsmaaklik soos hulle water! ‘n Toonbeeld van onverskilligheid.
Die oplossing was om God ywerig te begin gehoorsaam, aan sy stem gehoor te gee, die geestelike deur van hulle persoonlike en gemeentelike lewe vir Hom oop te maak en in gemeenskap met Hom te leef.
Elkeen wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek!
Natuurlik kon Laodisea aanstoot neem aan hierdie skerp boodskap. Wat eintlik die dinge waarop hulle in hulle stad trots was, gebruik om hulle aan te spreek. Wat nog te sê, hulle te herinner aan die water wat hulle geweet het nie lekker gesmaak het nie.
Jesus verduidelik egter vir hulle hoekom Hy so skerp is: “Elkeen wat Ek liefhet (phileō), bestraf en tugtig Ek!” Jesus sê hiermee dat Hy met hulle geassosieer is, dat Hy hulle Here is en daarom doen Hy die moeite om hulle aan te spreek. Dit is wat die Vader met sy kinders doen.
Trouens, tugtiging is ‘n teken van God se teenwoordigheid in jou lewe:
- Spreuke 3:12: “want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos ’n vader die seun in wie hy behae het.”
- Hebreërs 12:5-6: “En julle het die aansporing wat julle as kinders aanspreek, heeltemal vergeet: ‘My seun, moenie die tugtiging van die Here geringskat nie en moenie moedeloos word wanneer jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tug dié wat Hy liefhet, en Hy straf elke seun wat Hy aanneem.’”
Aansporing en belofte aan dié wat oorwin
Dan kom Jesus by die eintlike ding wat hulle hele lewe sal verander — dat Hy by die deur is en klop: “As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek instap by hom en saam met hom eet en hy saam met My” (Openb. 3:20).
Hierdie boodskap is gerig aan die hele gemeente, maar die fokus is op enigiemand wat bereid is om te luister. Dit is net dié wat luister, wat oopmaak vir die stem van die Here Jesus, wat uiteindelik met Hom gemeenskap sal hê. Hy sal instap en saam met hom eet.
Jesus nooi ons hiermee uit tot ‘n aktiewe gemeenskap met Hom. Dit is hoe ons begin om aan ons doel te beantwoord. Soos warm koffie. Of koue water.
Enigiemand wat luister, sal ervaar dat Jesus instap en sy intrek by hom of haar neem. Selfs al is dit ‘n boodskap wat deur die gemeente geïgnoreer word.
Vir diegene wat luister, wat voorberei om die Here Jesus te ontvang, wat Hom innooi, kom daar ‘n ekstra belofte — ‘n posisie van gesag in die koninkryk van God. Hom wat oorwin, sal Jesus saam met Hom op sy troon laat sit, net soos wat Hy ook oorwin het en saam met sy Vader op sy troon sit.
En hulle sal deelneem aan sy heerskappy. Dit sal die oordeel oor die engele, soos Paulus aan die Korintiërs skrywe (1 Kor. 6:3) en die oordeel oor die nasies, soos Johannes verder in Openbaring skrywe (Openb. 20:4-6), insluit.
Boodskap en betekenis
‘n Mens sou die vraag kon vra, hoekom Johannes dié sewe briewe afsluit met die brief aan Laodisea? Hoekom nie dit só skryf dat ‘n mens die boodskap aan Smirna of Filadelfia in jou gedagte kan hou nie? Die gemeentes wat volhard het, wat getrou was, wat ‘n belofte van oorwinning gekry het, wat ‘n oop deur vir die evangelie gekry het?
Die rede is dat die laaste uitnodiging van Jesus vir alle tye betekenisvol is. Dat Hy eintlik by elke gemeente se deur staan en vra om in te kom. Vir Laodisea sal dit beteken dat hulle weer die warmte van God se teenwoordigheid sal ervaar. Vir Efese sal dit beteken dat hulle die eerste liefde weer herontdek. Vir Sardis sal dit beteken dat hulle weer sal herleef uit hulle doodse gemeentewees. Vir Pergamum en Tiatira sal dit beteken dat hulle van die skande van dwaalleer verlos sal word.
Hulle sal ervaar wat vir Smirna en Filadelfia al reeds ‘n werklikheid geword het. Dat die Here reeds daar is juis in hulle vervolging, en hulle die oorwinning sal laat behaal. Dat Hy die deur vir die evangelie oopmaak, soos hulle die deur vir Hom oopgemaak het.
Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.
More
Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com