Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Die boodskap aan Sardis – “Versterk die wat oor is” – Openbaring 3:1-6
Die stad Sardis
Sardis – vandag die klein dorpie Sart – is sowat 45 km suid van Tiatira geleë aan die voetheuwels van die berg Tmolus, naby die Paktolusrivier. Die rivier was ‘n bron van groot goudneerslae wat Sardis een van die rykste stede in die antieke wêreld gemaak het. Dit was vroeër die hoofstad van die Lidiaanse ryk, wie se koning Kroesos (595-546 v.C.) nog steeds 'n maatstaf vir rykdom is. Hy was skatryk. Ons lees nie in die Bybel van die stigting van die gemeente in Sardis nie. Dit is waarskynlik gestig tydens Paulus se bediening in Efese (Hand. 19:10).
Beskrywing van Jesus
Weereens hou die prentjie van Jesus verband met die prentjie van die gemeente. Jesus word geteken as die Een wat nie net die Gees van die Here in sy volheid besit nie – voorgestel deur die sewe Geeste van God – maar ook die sewe sterre in sy hand hou – die sewe voorgangers van die gemeentes. In Hom het hulle alles wat nodig is om oorwinnend te lewe.
Beskrywing van die gemeente en hulle dwaling
Die boodskapper van die gemeente, sowel as die gemeente self, is egter in ’n tragiese geestelike toestand. Hulle het die naam dat hulle lewe, maar hulle is eintlik geestelike lyke. Buite blink. Binne stink.
Tog, sê Jesus, as jy mooi kyk, is daar ‘n paar mense wat nog tekens van lewe toon. As jy mooi kyk, haal hulle nog asem. Maar hulle sal baie vinnig gered moet word, ander is dit klaarpraat met hulle en is die gemeente verlore.
Waarskuwing
Hulle dade is in die oë van God net nie goed genoeg nie. Al raad is om vyf dinge te begin doen, soos dit in verse 2 en 3 uitgespel word. Die leraar word aangespreek dat hy geestelike noodhulp moet toepas met die volgende vyf stappe:
- Wees wakker! Hy/hulle moet wakker skrik uit die doodslaap van selfgenoegsaamheid waarin hulle verval het. Eerstens die leraar en tweedens dié wat nog oorbly.
Die agtergrond hiervoor lê waarskynlik in die geskiedenis van die stad. Die stad Sardis is twee keer ingeneem weens hulle nalatigheid om die stad te beskerm.
Een daarvan was in die tyd van die bekende Griekse koning Kroesus, soos Herodotos ons vertel. Die Persiese koning Kores – van wie ons ook in Jesaja en Daniël lees – het vir Kroesus aangeval in die 6de eeu v.C. maar Kroesus het teruggeval na die oënskynlik oninneembare vesting van Sardis.
Kroesus het hom egter lelik misgis, want Kores het sy dromedaris kamele tot groot effek in die veldslag gebruik. Kroesus se perde was ongewoond aan die reuk van die kamele en het onbeheerbaar geword. En só het Kores nie net die veldslag gewen nie, maar kon hy Sardis inneem, en die stad verower.
Die gemeente moet wakker skrik en waaksaam word vir die stryd vir die evangelie. Hoogmoed en selftevredenheid oor jou vermeende vermoëns kan jou suur bekom.
- Versterk die oorlewendes. Hy/hulle moet dié versterk wat nog oorgebly het, sodat die herlewing van hulle af kan versprei. Hulle moenie tevrede wees met middelmatigheid nie.
- Verbind hulle aan die Bybel. Hy/hulle moet die boodskap – waarskynlik beide die roepingsboodskap van die boodskapper as die evangelie boodskap – nie net die wat nie, maar veral die hoe – soos die apostels dit aan hulle oorgelewer het – in herinnering roep, dit weer omarm en daarvolgens begin lewe.
- Bewaar die boodskap. Hy/hulle moet die boodskap bewaar, d.w.s. dit gehoorsaam en daarin volhard.
- Bekeer jou. Hulle moet tot bekering kom, d.w.s. hulle lewens en denke vernuwe om volgens dié evangelie te leef.
Só kan die Gees aan die werk kom in die gemeente. Anders is dit verby met die boodskapper en die gemeente. Jesus sal kom op ‘n tyd wat hulle dit nie verwag nie – soos ‘n dief in die nag – in oordeel oor hulle onbekeerlikheid.
Die oordeel word nie uitgespel nie, wat dit onheilspellend maak, juis omdat Jesus nie presies sê wat Hy met hulle gaan doen nie.
Bemoediging
Tog is daar steeds klein tekens van lewe in die gemeente; mense (in die Grieks staan “name”) wat hulle klere nie met afgodsdiens en heidense gebruike besoedel het nie. Hulle sal wit klere – simbool van reinheid en oorwinning – uit die hand van die Here self ontvang. Hulle gehoorsaamheid sal beloon word deurdat hulle saam met Jesus sal wandel, waar almal dit sal sien, en almal sal moet erken hulle was ware volgelinge van die Here Jesus.
Boodskap en betekenis
Die versekering is daar dat hulle name nooit uit die boekrol van die lewe geskrap sal word nie. Hulle sal nie net ‘n hoë status op aarde hê nie. Hulle sal ‘n hoë status hê in die hemel. Trouens Jesus belowe dat Hy hulle self voor sy Vader en die engele in herinnering sal roep. Ek ken hierdie “naam”. Ek ken daardie “naam”. Wat ‘n voorreg! (vgl. Matt 10:32; Luk 12:8).
Die kerkgeskiedenis vertel ons dat Sardis geluister het. ‘n Paar dekades later het biskop Mileto daar opgetree en groot werk gedoen om die kanon van die Bybel vas te stel en ook die parallelle tussen die Ou- en Nuwe Testament uit te wys. Hy het ‘n groot invloed op die vroeë kerk gehad.
Mileto het ook ‘n invloed op die Romeinse ryk probeer uitoefen met ‘n verdediging van die Christelike godsdiens aan Markus Aurelius, hoewel dit eers later in die 4de eeu in die lewe van Konstantyn vrug afgewerp het.
Mileto word as ‘n eunug beskryf wat ongetroud gebly het en, in navolging van Jesus se reëling in Matteus 19, sy lewe aan die Here gewy het.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.
More
Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com