Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Die boodskap aan Filadelfia – “Gaan deur die oop deur” – Openbaring 3:7-13
Die stad Filadelfia
Filadelfia – Alaşehir – was bekend as ‘n sentrum wat ‘n groot rol gespeel het om die Griekse taal en denke te versprei.
Nou sou hulle die gemeente word wat op ‘n veerkragtige manier die Christelike geloof versprei. Hulle sou spesifiek effektief raak in hulle bediening aan die Jode; so wil dit voorkom.
Filadelfia was ongeveer 45 km suidoos van Sardis, in die Cogamis-riviervallei. Die stad was ook bekend vir sy landbou – veral sy wingerde. Die bekermheer en god van die stad was Dionisos, die god van wyn.
Daar was ook ‘n tempel ter ere van keiser Tiberius waarvan ons by Jesus se geboorte lees (Luk 3:1). Uit dankbaarheid vir Rome se hulp om die stad ná ‘n groot aardbewing te herbou, het hulle vir 'n paar jaar die stad se naam na Neocaesarea ("Nuwe stad van Caesar") verander. Soos die ander kerke in Klein-Asië, is die gemeente waarskynlik gestig tydens Paulus se bediening in Efese (Hand 19:10).
Filadelfia was dus steeds ‘n heidense omgewing waarin die afgode en die keiseraanbidding die publieke verbeelding gevorm het.
Die gemeente het hulle egter nie daardeur laat afsit nie. Hulle het hulle aan die Here verbind, man en muis, en in alles aan Hom en sy woord gehoorsaam geleef.
Dit is die Here wat deure toemaak en oopmaak
Hoe moet dit verstaan word dat dit die Here is wat deure vir die evangelie toemaak en oopmaak?
- Jesus gaan by die leerstellig suiwer gemeente van Efese verby, want hulle het hulle eerste liefde verloor.
- Jesus gaan by die liberale gemeente van Pergamum verby, want hulle het valse leringe toegelaat.
- Jesus gaan by die korrupte gemeente van Tiatira verby, want hulle het in onsedelikheid verval.
- Uiteraard gaan Jesus ook by die doodse gemeente van Sardis verby, want daar gaan niks aan nie. Wel, totdat hulle tot inkeer gekom het, want soos ons later van hulle hoor, het Mileto ‘n oop deur gehad.
Solank ‘n gemeente verdeeldheid oor die boodskap van die evangelie ervaar, kan daar geen effektiewe getuienis na buite toe wees nie.
Solank ‘n gemeente wêreldgelykvormig leef – sodat jy later nie meer weet of jy met ‘n kerk of ‘n klub te make het nie – is dit beter dat niemand daar buite iets van hulle af hoor nie. Die boodskap gaan nie helder oorkom nie.
- Gee vir die Here ‘n arm gemeente wat getrou bly, soos Smirna en Hy kan hulle voorbeeld gebruik om sy naam te eer; deur hulle lyding kanHy lewe bring vir ‘n verloregaande wêreld.
- Gee vir die Here ‘n gehoorsame gemeente, soos Filadelfia, en Hy kan hulle gebruik om die evangelie die wêreld in te stuur; om die grense van geloof te versit.
Beskrywing van Jesus
Soos met al die gemeentes begin Jesus met ‘n beskrywing van Homself. Hierdie keer hou die beskrywing van Jesus verband met die oop deur wat Hy vir hulle en die verkondiging van die evangelie gee.
Jesus is die Een wat die sleutelmag het. Jesus is die Een wat oopmaak en niemand sal dit toesluit nie. Jesus is ook die Een wat toesluit en niemand sal dit oopmaak nie.
Wat sê die Here Jesus verder van Homself?
- Jesus is die heilige. Hy is die hagios. Hy duld geen onheiligheid soos by die korrupte Tiatira nie. Hy is sonder sonde en het juis gekom om ons te verlos van die sonde. Hy wil ons dus heilig sodat ons onbelemmerde gemeenskap met Hom kan hê.
- Jesus is die ware. Hy is die alēthēs. Dít wat in ooreenstemming is met die ware feite. Die Een wat die waaragtige is, die outentieke. Dit is wat die Griekse woord beteken. Jesus duld dus ook geen valse leringe soos by Pergamum nie.
Waar heiligheid en die waarheid nie in plek is nie, kan die Here nie sy gemeentes inspan nie. Waar getrouheid en gehoorsaamheid aan die waarheid nie in plek is nie, kan die Here nie ‘n gemeente gebruik nie.
Maar – en dit is die wonderlike boodskap – as daardie dinge in plek kom, is daar niks wat God nie met ‘n gemeente kan uitrig nie. Al is hulle arm, soos met Smirna. Al is hulle krag min, soos met Filadelfia.
Die Here Jesus het die sleutels van Dawid. Hier gebruik Jesus die verhaal in Jesaja waar verwys word na die dienskneg van die koningshuis van Dawid, Eljakim, wat die sleutels van die paleis gehad het en kon besluit het wie die koning mag sien en wie nie (Jes 22:22). Jesus maak dit op Homself van toepassing. Dít is nou die rol wat Jesus met betrekking tot die koninkryk van God het. Jesus bepaal wie kan in en wie nie. Jesus het die sleutels van die koninkryk.
Beskrywing van die gemeente
Soos die geval was met die gemeente van Smirna, het die Here Jesus net goeie woorde wat Hy aan die boodskapper van die gemeente van Filadelfia rig. Ironies genoeg is dit ook die twee gemeentes waar die Joodse teenstand op sy hewigste was.
En soos met die vorige gemeentes, hou die beskrywing van Jesus verband met die manier waarop die gemeente in die weegskaal vaar.
Twee dinge staan uit van die gemeente van Filadelfia:
1. Die Here ken hulle dade. Die dade word nie omskryf nie, maar die feit dat die oop deur wat die Here vir hulle gee daaraan gekoppel word, beteken ten minste dat hulle dade bewys het dat hulle die uitdaging van die oop deure kan aanpak.
Sommige geleerdes is van mening dat die toe deur verwys na die Joodse sinagoge wat die Christene uitgeskop en die deure vir hulle toegemaak het. Daaroor hoef hulle hul egter nie te bekommer nie sê Jesus, want die Here bekommer Hom nie oor die Joodse teenstand nie. Hy sal hulle dwing om sy teenwoordigheid by die Christene openlik te erken.
2. Die gemeente was gehoorsaam aan God se woord, ten spyte van die feit dat hulle krag min is – dit kan doodgewoon beteken dat hulle min in getal was – en dat hulle nie die Naam van die Here verloën het nie.
Hulle was dus gehoorsaam aan God se woord. Hulle het daarin geleef. Hulle het daarin volhard. En hulle was getrou in hulle getuienis. Hulle was lojaal. Hulle het die Naam van die Here nie verloën nie, ten spyte van die teenstand.
Daarom belowe die Here vir hulle ‘n oop deur.
Boodskap en betekenis
Die Here volg die belofte van ‘n oop deur op met twee ander beloftes.
- Die belofte dat die teenstanders tot insig en moontlik inkeer sal kom.
- En die belofte dat Hy hulle sal bewaar van die uur van beproewing wat aan die kom is.
1. Die eerste belofte is dat die Here sal sorg dat lede van die “sinagoge van die Satan” – die Joodse teenstanders – voor hulle sal kom neerbuig.
Die Griekse woord (proskuneō) beteken in dié konteks letterlik “kruip”. Hulle teenstanders sal erken dat die gemeente van Filadelfia ‘n besondere band met die Here Jesus het.
Die agtergrond hiervoor is Jesaja 60:14. Daar het Jesaja vir Sion belowe dat “dié wat jou verdruk het, sal na jou toe kom en buig, almal wat jou met minagting behandel het, sal by jou voete kniel.”
- Ons hoor daarin aan die een kant ‘n belofte dat die Here die reg sal handhaaf; dat die vervolgers sal moet kom erken dat hulle verkeerd was, en dat die mense wat hulle vervolg het, reg was. Dat God inderdaad by dié was wat gehoorsaam was aan sy Woord. Daarom sal die Jode in die stof “kruip”.
- Maar ‘n mens hoor hierin ook aan die ander kant die moontlike belofte dat hierdie vervolgers tot insig en geloof sal kom. Dit is wat ‘n mens uit Jesaja 60 kan aflei. Dat die nasies na die lig sal kom en God se werk in die Messias en die gemeenskap wat Hy skep, sal erken. En as ‘n mens dié agtergrond inlees in hierdie teks, want dit staan nie so helder in Openbaring nie, dan kan dit ook waar wees van hierdie Jode in Filadelfia.
2. Die tweede belofte is dat Jesus – omdat hulle volhard het om sy woord te gehoorsaam – hulle “van” of “gedurende” die beproewing wat wêreldwyd kom, sal bewaar.
Hierdie tyd van beproewing kan op twee maniere geïnterpreteer word:
1. Dit kan ‘n tyd van beproewing wees wat die gemeente in hulle tyd sou ervaar, soos dit die geval was by Smirna. Talle geleerdes kies dié interpretasie.
2. Ander wys daarop dat dit die hele bewoonde wêreld is wat daaronder sal deurloop, soos dit in die teks staan. Dit verwys dus volgens hulle na die intense vervolging wat net voor die wederkoms van die Here sal plaasvind.
Die bewaring kan ook op twee maniere geïnterpreteer word:
1. Die Griekse woord ek wat hier gebruik word kan beteken dat hulle “van” die beproewing bewaar sal word, d.w.s. nie daaraan blootgestel sal word nie.
2. Of dit kan beteken dat hulle “gedurende” die tyd van beproewing wat kom, bewaar sal word, d.w.s. wel deeglik daardeur sal moet volhard.
Die keuse vir watter van hierdie interpretasies ‘n mens moet kies, is baie moeilik om te maak. Die belangrike punt is egter, wat jou keuse van interpretasie ook al is, die Here niesal toelaat dat hulle struikel nie, hetsy deur hulle uit die situasie te haal, of in die situasie te beskerm.
Aansporing en belofte aan dié wat oorwin
As beloning sal hulle as ’n pilaar in die tempel van God opgerig word. Vir die mense van Filadelfia, wat geteister is deur aardbewings, sou dit ‘n geweldige bemoediging en aansporing gewees het om getrou en gehoorsaam te bly.
Die Here belowe dat hulle vastigheid en permanensie in die huis van God sal kry, die plek wat Jesus vir hulle voorberei. Trouens, hulle sal – by wyse van spreke – deel van die las-draende struktuur wees van die plek wat Jesus vir ons voorberei. Daar sal hulle nooit weer hoef uit te gaan nie. Daar sal aardbewings hulle nie weer bykom nie. Hulle sal ook nooit weer belewe dat iemand hulle uitskop, soos wat die Jode dit in Filadelfia gedoen het nie. God sal hulle nooit uitskop nie. Sy plek sal nie inmekaarstort nie.
Op die koop toe sal Jesus op drie verskillende maniere toon dat hulle aan Hom behoort.
- Hy sal die Naam van sy God op hulle graveer.
- Hy sal die naam van die stad van sy God op hulle graveer.
- En Jesus sal sy eie nuwe Naam op hulle graveer.
‘n Baie effektiewe metafoor, want die naam van Filadelfia is twee keer in sy geskiedenis verander. Eers is dit na Tiberius vernoem vir ‘n paar jaar (Neocaesarea) en ‘n tyd later na Vesapsian (Flavia).
Soos Filadelfiaegter telkens weer hulle naam teruggeneem het, só sal die naam van God vir ewig geskryf word op dié wat oorwin.
Daarmee verklaar Jesus onteenseglik dat hulle totaal en al aan Hom behoort, dat Hy trots is op hulle en dat Hy Hom met hulle assosieer.
“Wie ore het, moet luister na wat die Gees aan die gemeentes sê” (Openb 2:7).
Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.
More
Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com