Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Die Openbaring van die Here Jesus Christus – Openbaring 1:4-20
Johannes se boodskap – Openbaring 1:4-5a
Die aanhef van die brief volg nou waarin Johannes die sewe gemeentes in die provinsie Asië (Wes-Turkye) aanspreek en groet met die Drie-enige genade (Griekse seënbede) en vrede (Hebreeuse sjalôm) van
- die Vader wat is en wat was en wat kom – ’n beskrywing van die dinamiese karakter van God;
- die sewe Geeste voor sy troon – ‘n beskrywing van die Heilige Gees in sy omvattende teenwoordigheid en werk (vgl. ook Openb. 3:1; 4:5; 5:6 asook Sag. 4:6) – en
- Jesus Christus.
Jesus word as die geloofwaardige of betroubare getuie geteken – d.w.s. sy getuienis kan geglo word – die Een wat nie net as eersgeborene uit die dood opgestaan het nie, maar ook reeds die heerser oor die konings van die aarde is. Ons hoor hierin die getuienis van Psalm 2 weerklink, dat Hy God se gesalfde koning is en dat almal vir Hom ontsag moet hê. Let ook op hoe dit as ’n teenswoordige realiteit beskryf word, nie iets wat eers met die wederkoms aanbreek nie.
Lofprysing aan die Verlosser – Openbaring 1:5b-8
Aan dié betroubare getuie kom waarlik die heerlikheid en sterkte toe vir ewig en ewig, soos Johannes in ’n lofprysing dit doen. Dit is Hy wat ons nie net liefhet en verlos het nie, maar ons ’n koninkryk gemaak het, priesters vir God, sy Vader (vgl. ook 1 Pet. 2:9). Daarmee word nie net Jesus se werk as Verlosser verheerlik nie, maar word ook ons taak en opdrag as ’n koninkryk van priesters vir God, sy Vader, uitgespel, om met Hom in kontak te lewe voor die mense en Hom publiek te dien.
In ’n verdere lofprysing word nie net Jesus se eerste koms in herinnering geroep nie, maar ook sy tweede koms, ’n koms op die wolke, waarin die Hemelvaart van Handelinge 1 in herinnering geroep word, maar ook die wederkoms vooruitgesien word, een van die sleuteltemas van die boek Openbaring. Almal sal Hom dan sien, selfs ook dié wat Hom verwerp het en aan die kruis deurboor het (vgl. Joh. 19:37). Al die volke op aarde sal oor Hom treur, waarskynlik vanweë ‘n vernietigende verwyt.
Hierdie Verlosser, verklaar die Here God, die Almagtige, is die Alfa en die Omega – die eerste en die laaste letter van die Griekse alfabet – die Een wat is, en wat was, en wat kom.
Baie kommentare maak hierdie beskrywing op God die Vader van toepassing, maar daar is drie redes waarom ek dink dat dit iets is wat Jesus oor Homself openbaar.
1. Die eerste rede is dat die mededeling in die eerste persoon geskrywe is (“Ek is ...”). Dit pas beter in by die Openbaring wat Jesus hier aan Johannes gee.
2. Die tweede rede is dat God die Vader nêrens in Openbaring direk aan die woord kom nie, behalwe moontlik op een plek in Openbaring 21:5-8. Maar selfs die woorde in daardie gedeelte pas eintlik beter in die mond van Jesus.
3. Die derde rede is dat Jesus Homself hieronder in vers 17-20 weer direk as die Alfa en Omega identifiseer, die Een wat dood was, maar nou die Lewende, wat vir ewig sal lewe. Hy verwys dus na sy verlede, hede en toekoms wat goed ooreenkom met die frase: wat is, wat was, en wat kom, en ook verbind word met die ander titels van vers 8.
Dit is drie sterk redes vir my standpunt dat dit regdeur Openbaring 1 die Here Jesus is wat aan die woord is.
Johannes se visioen van Jesus Christus – Openbaring 1:9-20
Johannes noem homself hulle broer en ’n deelgenoot in drie werklikhede: die verdrukking onder Domitianus wat hom na Patmos verban het, die koninkryk van God wat onkeerbaar aan die kom is in die wêreld en “die volharding in Jesus”, soos dit letterlik daar staan.
Dit is ’n ongelooflike troosvolle beskrywing. Hy het nie net deel aan die verdrukkende werklikheid van die Romeinse vervolging van gelowiges nie – spesifiek omdat hy die woord van God verkondig het, d.w.s. die getuienis deur Jesus Christus – maar ook aan die koninkryk van God wat besig is om in te breek in hierdie wêreld.
Hy praat daarby oor volharding as ’n gawe van God wat Johannes van Jesus binne die verhouding met Hom ontvang. Volharding is dus vir Johannes nie net ’n opdrag wat uitgevoer moet word nie, maar ook ‘n gawe wat ontvang en vasgehou moet word. Dit moet hom laat moed skep!
Johannes vervolg dan met die beskrywing van die visioen van Jesus Christus wat hy gesien het, op die dag van die Here, dit is Sondag, toe die Gees van hom “besit geneem” het (dit is wat “in die Gees” beteken), en die Here Jesus die opdrag aan Johannes herhaal om aan die sewe gemeentes te skryf wat hy sien.
Jesus het tussen sewe goue kandelare gestaan – die simbole van die sewe gemeentes – en Johannes eien Hom as die Seun van die mens, op die voetspoor van Daniël se vroeëre beskrywing (Dan 7:13; 10:4-6; 12:6-13).
By sy lang kleed het hy ’n goue band om sy bors gedra, dié plek waar werkers gewoonlik hulle gordel vasgemaak het ná hulle klaar gewerk het. Sy werk word dus as afgehandel geteken.
Sy voorkoms was verder besonder treffend en uitermate verheerlik met veral die skerp swaard met twee snykante uit sy mond – ’n toespeling op die kragtigheid en priemende karakter van sy woorde (vgl. Hebr. 4:12) – en die feit dat hy sewe sterre in sy regterhand gehou het – die simbool van die leraar-leiers van die gemeentes – die uitstaande kenmerke.
Jesus word dus as die handelende instrument van God in die lewe van die gemeentes sowel as die leraars geteken, Een wat die reg verdien het om op te tree en wat dit met gesag en effektiwiteit doen.
Hierdie visie se doel was om Johannes gerus te stel dat Jesus die dood oorwin het – trouens dat Hy die sleutels van die dood en die doderyk (Hades of onderwêreld) besit en vir ewig en ewig lewe – en nou aan almal kan bekend maak wat reeds gebeur het, nou aan die gang is en hierna gaan gebeur – verlede, hede en toekoms (weereens ‘n bevestiging dat Hy ook die Een is “wat is, en wat was, en wat kom”).
Boodskap en betekenis
Openbaring 1 is die selfopenbaring van die Here Jesus Christus. Dit bevestig sy goddelike oorsprong en verleen daarom absolute gesag aan hierdie openbaring. Hy is die getroue getuie, die eersgeborene uit die dood, en die heerser oor die konings van die aarde.
Sy heerskappy is ook 'n teenswoordige realiteit, nie net 'n toekomstige belofte nie, want Jesus word as Verlosser, as die Alfa en die Omega, as die Een wat was, en is en kom, beklemtoon. Hy is dus soewerein oor die verlede, die hede en die toekoms.
Soos sy geboorte hierdie heerskappy ingelei het, só sal sy wederkoms dit voltooi tot vreugde van al die gelowiges, en tot afgryse van sy vyande.
Dit is hierdie soewereine Verlosser wat sy gesag uitoefen midde-in al die gemeentes (die kandelare) en sy gesag oor hulle openbaar. Hy laat sy gesag geld deur sy Woord (swaard uit sy mond) en deur die leiers wat Hy gee (sterre in sy hand).
Openbaring 1 is dus baie meer as maar net 'n inleiding op die boek. Dit is 'n fundamentele openbaring van Jesus se identiteit, gesag, en rol as die Seun van die mens, die Getuie, die Verlosser en die Heerser. Dit verskaf die basis vir die boodskap van die res van die boek, waar Christus God se plan vir sy volk en die hele heelal laat ontvou.
Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.
More
Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com