Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Delf dieper deur Openbaring

DAG 3 VAN 28

Die boodskap aan Efese: “Herontdek julle eerste liefde” – Openbaring 2:1-7

Die Here Jesus dikteer vervolgens aan Johannes sy onderskeie boodskappe aan die sewe gemeentes. Telkens lui die opskrif van die (brief)boodskappe: “Skrywe (ook) aan die engel van die gemeente in ...” Die term engel val op, want dieselfde woord as dié vir engel in Openbaring 1:1 word gebruik. Hier is dit egter nie die engel van Jesus Christus nie, maar die engel of boodskapper van die gemeente, d.w.s. die leier, leraar of voorganger van die gemeente, soos dit in baie vertalings weergegee word.

Meesal word die boodskapper in die enkelvoud aangespreek, wat die boodskap oordra dat die leierskap in die gemeente ’n baie spesifieke verkondigingstaak het, ’n taak wat die Here self aan hulle opgelê het en waaraan Hy hulle getrouheid, al dan nie, meet. Die N.A.V. vertaal ongelukkig regdeur in die meervoud, wat dié feit weg vertaal.

Dit is egter darem ook duidelik dat die boodskap vir die hele gemeente bedoel is, soos dit ook eksplisiet in die brief aan Tiatira vermeld word (Openb. 2:23-24) en elke keer aan die einde van ’n brief meervoudig geïnterpreteer word: “luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.” Elke boodskap bevat ook elemente wat eintlik op alle gemeentes van toepassing is (Openb. 2:23).

Die opskrif van elke brief aan ’n gemeente maak dit egter duidelik dat daar ’n dure plig op dié in leierskap rus om hulle begeleidingsrol – soos deur die Here aan hulle toevertrou – met oorgawe te vervul.

In vier van die briewe – aan Efese, Pergamum, Tiatira en Sardis – word gefokus op ’n eerlike beoordeling van die sterk- en swakpunte van die gemeentes, en word hulle begelei met vermanings en voorstelle hoe om te luister na wat die Gees sê en hulle lewens daarvolgens in te rig. In twee van die briewe – aan Smirna en Filadelfia – word hulle net geprys en in een brief – aan Laodisea – word hulle net bestraf.

Die stad Efese

Die stad Efese (naby Selçuk) was nie net die belangrikste stad in Wes-Turkye nie, maar het ook die belangrikste gemeente in daardie geweste gehuisves. Die gemeente is deur Paulus op sy tweede (Hand. 18) en derde sendingreis besoek (Hand. 19). Hy het ook ‘n brief aan hulle uit die tronk in Rome geskryf.

In daardie tyd was Efese ‘n hawestad aan die rivier Cayster wat ongelukkig mettertyd toegeslik het. Dit was ‘n groot handelsentrum waar die Romeinse goewerneur gebly het. Vier handelsroetes het daardeur gegaan. Daar was ook ses tempels wat die keisers vereer het. Efese was bekend as die “lig van Asië”. Veral die tempel van Artemis (Diana in Latyn) was besonders. Trouens, dit was een van die sewe wonders van die antieke wêreld. Ons lees in Handelinge 19 van die konflik wat ontstaan het rondom haar afgodsbeeldjies.

Beskrywing van Jesus

Soos met elke brief begin Jesus in die eerste plek met ‘n beskrywing van Homself. Dit is waar alles in die geestelike lewe begin. By God wat Homself aan ons openbaar.

Let op dat Jesus beskryf word as die Een wat rondbeweeg tussen die gemeentes!

Jesus is teenwoordig, ook nou hier in hierdie gemeente. Hy weet wat aangaan. En Jesus hou hulle vas! Dit is een van die belangrikste dinge wat ons van Jesus moet weet, dat Hy ons nie gelos het nie, maar steeds voortgaan om vir ons in te tree, ons te begelei, en aan ons die belofte gee dat Hy nie net ONS geloof sal voleindig nie, maar DIE geloof, soos die Hebreërskrywer dit vir ons verseker (Hebr. 12:2).

Beskrywing van die gemeente

Die tweede ding wat ‘n mens in die brief raaksien, is dat die uitstaande kenmerk van die voorganger, en daarom ook van die gemeente, was dat hulle nougeset gedoen het wat God vra en veral sorg gedra het dat alles leerstellig suiwer gebeur.

Hulle het nie moeg geword om te stry vir die oorgelewerde waarheid van die evangelie nie. Hulle het groot volharding aan die dag gelê ter wille van die waarheid van en oor die Here Jesus Christus.

Geen wonder nie, want dit is waar Paulus hulle vir drie jaar bedien het op sy derde sendingreis (Hand. 20:31). Dit is waar hy die eerste brief aan Korinte geskryf het (1 Kor. 16:8-9). Dit is waar Timoteus sy tande geslyp het in die bediening (1 Tim. 1:3). Dit is waar Maria, Jesus se moeder, volgens oorlewering gewoon het. Dit is waar die skrywer van Openbaring, Johannes, gebly en bedien het. Dit is waar die slaaf Onesimus (vgl. die brief aan Filemon) later ‘n biskop geword het, soos die kerkvader Ignatius ons vertel.

Dit was ‘n uitstaande gemeente. Daarom het die gemeente vals apostels uitgewys in die geledere van die ander apostels in diens van die Here Jesus, die reisende sendelinge van daardie tyd. Soos ‘n mens uit Paulus se briewe agterkom, het hulle meer as hulle kwota sodanige apostels gehad (Ef. 4:14; 1 Tim. 1:3-4), maar hulle kon hulle verset teen die vals apostels omdat Paulus hulle daarvoor toegerus en teen dwaalleraars gewaarsku het (Hand. 20:29-31).

Hulle het daarom ook – soos God – die Nikolaïete se dade gehaat (vers 6). Uiteraard nie die mense self nie, maar wel hulle dade.

‘n Bietjie agtergrond oor die Nikolaïete

Die Nikolaïete – wat ook in Pergamum ‘n probleem was (Openb. 2:15) – was mense wat godsdienstige en sedelike kompromieë met hulle omgewing aangegaan het.

Die leringe kan moontlik verbind word met Nikolaus, een van die eerste diakens. Lukas sê van hom dat hy “... van Antiogië afkomstig was en vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het” (Hand. 6:5).

Die kerkvaders Irenaeus en Hipolitus het Nikolaus aan die leer van die Nikolaïete verbind. Klemens van Alexandrië het egter daarmee verskil en gesê dit was nie Nikolaus self nie, maar sy volgelinge wat dié dinge gedoen het.

Of dit dus hyself of sy volgelinge was wat dié leringe versprei het, die punt is dat dit gebeur het. En hulle het hulle verset teen die reël wat die “sinode” in Jerusalem neergelê het, soos ons in Handelinge 15 lees.

Ons lees daarvan in die eerste kommentaar op Openbaring waarin die skrywer Victorinus van Pettau – die vader van die herkapituleringsteorie – vermeld dat die Nikolaïete hulle spesifiek téén die reëling van die kerk in Jerusalem verset het – dat offervleis nie geëet mag word en bloed nie gedrink mag word nie (Hand. 15).

Wat hierdie inligting nog meer belangrik maak, is dat die Nikolaïete aan die leringe van Bileam verbind word in die brief aan Pergamum. Daar skryf Jesus dat die Nikolaïete hulle op dieselfde manier as die Bileamiete gedra (Openb. 2:15). Dit maak dit waarskynlik dat Isebel deel van die Nikolaïete en Bileamiete was, omdat sy presies dieselfde dinge gedoen het in Tiatira as wat Bileam in die Ou Testament en die Nikolaïete in die Nuwe Testament gedoen het.

Die gemeente in Efese het egter sterk gestaan teen hierdie afvalligheid. Hulle het mekaar onderling vermaan en gewaarsku en kon ‘n reguit pad stap ten spyte van die geweldige uitdaging van die losbandige en goddelose gemeenskap waarbinne hulle moes leef, selfs binne die kerk. Hulle het ‘n suiwer leer en ‘n suiwer moraliteit gehandhaaf.

Beskrywing van hulle dwaling

Daar was dus tog ‘n probleem, sê Jesus. En dit was groter as al die ander uitstaande kenmerke van die gemeente saam. Die voorganger en die gemeente het hulle eerste liefde verlaat.

In die weegskaal van die Here Jesus het al die goeie dinge nie swaar genoeg geweeg nie.

Hulle dade, hulle inspanning, hulle volharding, hulle onverdraagsaamheid teenoor slegte mense, hulle toetsing van gewaande apostels en die uitwysing van hulle valse leer, en hulle volharding ter wille van die Here Jesus se Naam waarin hulle baie verduur het sonder om moeg te word, was wonderlik.

Maar, wat swaarder geweeg het as al hierdie dinge, was die feit dat hulle God nie meer so lief gehad het soos by die begin van hulle Christelike lewe nie.

Die gemeente van Efese se leer en lewe was dus onberispelik, hulle het volhard onder moeilike omstandighede, hulle het suiwerheid in leer en ‘n onberispelike morele lewenswandel nagejaag, maar hulle het hulle entoesiasme en "Geesdrif" verloor.

Hulle was baie besig met die dinge van die Here, maar nie meer so baie met die Here van die dinge nie.

Die waarheid is, waar die liefde vir God vervaag, kan die liefde vir die gemeente en die liefde vir ‘n verloregaande wêreld nie volgehou word nie. Jou geestelike energie en motivering kan nie kom uit dié dinge waartéén jy is nie, maar moet kom uit dié dinge waarvóór jy is.

Boodskap en betekenis

Wat is Jesus se boodskap dan vir dié gemeente wie se goeie eienskappe nie genoeg weeg in sy weegskaal nie?

Jesus se boodskap is: ontdek weer jou eerste liefde.

Hoe doen ‘n mens dit?

Jesus sê, daar is drie dinge wat jy kan doen.

1. ONTHOU: Kom tot stilstand en laat die verhale van jou eerste entoesiasme vir die Here weer jou gedagtes volmaak.

Onthou “waarvandaan jy uitgesak het en bekeer jou: Gaan doen weer wat jy vroeër gedoen het.” Laat die herinnering aan daardie eerste liefde van God jou motiveer om tot inkeer te kom en weer die dinge te doen wat jy vroeër gedoen het.

2. BEKEER JOU van jou foutvindery, en vind jouself weer aan die voete van jou Leermeester, die Een wat jou liefhet, en wie se woorde jou hart aanvanklik geroer het.

Daar is só baie vandag wat ons hare laat rys. Dinge in die politiek. Dinge in die ekonomie. Dinge in die media. Dinge in die kerk. En ons moet daaraan aandag gee.

Maar, ‘n mens groei in die rigting waarop jy fokus. As jy op die pad van foutvindery uit is, gaan jy al hoe meer foute raaksien. Daarvan moet ons tot bekering kom.

Daarom sê Jesus:

3. DOEN WEER die dinge wat jy aan die begin gedoen het.

Só herstel jy die verhouding met die Here, raak jy weer lief vir die Here soos dit aan die begin was, en sal jy dit weer regkry om te leef vanuit die liefde vir God.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Openbaring

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com