Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Delf dieper deur Openbaring

DAG 6 VAN 28

Die boodskap aan Tiatira: “Stry teen onsedelikheid” – Openbaring 2:18-29

Die stad Tiatira

Tiatira – die moderne stad Akhisar – was bekend vir sy groot hoeveelheid gildes of vakbonde waarom die lewe in die stad gedraai het. Vakbonde vir die klerebedryf, vir die bakkersbedryf, vir die leerlooiers, vir die pottebakkersbedryf, vir dié wat met linne gewerk het, vir dié wat met wol gewerk het, vir skoenmakers, vir kopersmede en slawehandelaars.

Lidia van Filippi, die vrou wat met pers wol handel gedryf het, was byvoorbeeld van Tiatira afkomstig (Hand. 16:12-15). Omdat die gode aan dié gildes verbind was, het dit die werksituasie van Christene baie bemoeilik. As jy aan een van die gildes behoort het, was jy gekonfronteer met die gode wat die gilde aanbid het. En dit was ‘n dilemma!

Beskrywing van Jesus

Jesus kondig Homself nou in die gemeente van Tiatira, in teenstelling met dié gode, aan as die Seun van God, die Een wat nie net alles sien nie (oë soos ’n vlammende vuur), maar in sy wese standvastig en heerlik is (voete soos gloeiende koper).

Aan die een kant is Hy die een wat alles sien, waarmee die gesag waarmee Hy kan oordeel uitgebeeld word. Hy is nie net die Voorspraak nie. Hy is ook die Regter, die een wat as Voorspraak kan intree, maar ook as Regter kan optree.

Aan die ander kant kan Hy ook midde-in só ’n verlammende situasie stabiliteit bring, vir dié wat aan Hom sal vashou tot met die Wederkoms. Hy is dus ook steeds die Verlosser vir dié wat op Hom vertrou.

Beskrywing van die gemeente

Jesus prys Tiatira vir vyf kenmerke van hulle gemeentelewe. Hulle dade, liefde, diens, geloof en volharding, wat op die koop toe steeds in ’n groeiende fase is. Hulle latere werke oortref hulle eerste werke. Hulle was ‘n gemeente wat uitgeblink het in sosiale hulp en barmhartigheid. By hulle was jy altyd welkom, is jy ingesluit en voor omgegee.

Beskrywing van hulle dwaling

Maar in die weegskaal van die Here Jesus het Hy agtergekom dat hulle insluitende karakter beteken het dat hulle nie ‘n goeie oordeel aan die dag gelê het nie. Weens die impak van een persoon in die gemeente, Isebel, die een wat haarself ‘n profetes noem, maar dit nie is nie, het hulle onsedelikheid en afgodery toegelaat.

Die gemeente het gereken dat hulle haar insluit om te kan wys dat hulle alles en almal kan akkommodeer, dat hulle verdraagsaam is, en niks daarvan sal oorkom nie.

Daarmee het hulle seks buite die huwelik goedgepraat (porneuō), sowel as egbreuk (moicheuō), dinge wat tot egskeiding aanleiding kon gee.

Maar, Jesus weet van beter. Hy weet dat ‘n klein bietjie suurdeeg die hele deeg deursuur. En die situasie in Tiatira was slegter as in Pergamum. Dit was nie meer ‘n klein minderheid wat die afgodery en onsedelikheid beoefen het nie. Dit was die meerderheid. Die gemeente is gedomineer deur die afvalliges en dwaalleraars.

Die probleem is dat onsedelikheid en afgodery die twee kernsake is wat ‘n kerk kan korrupteer, wat die ortodokse leer en lewe verander in ‘n “anything-goes”- leer en ‘n lewe waar enigiets en enigiemand toegelaat word om in die naam van diversiteit en verdraagsaamheid te glo en te leef soos hulle wil.

Gewoonlik is dit dan ook dié mense wat eenheid bó alles stel. Niemand word uitgesluit nie. Geen dissipline nie. Geen poging om “in die liefde by die waarheid te bly nie” (Ef. 4:15). Nee, ‘n Gods-water-oor-Gods-akker benadering. Maak vir almal ruimte in die kerk, al dink hulle nie soos ek nie.

Waarskuwing

Jesus is daarom onwrikbaar daaroor dat dié leringe nie geduld kan word nie. Dit rand die gemeente in sy diepste wese aan.

En Jesus vat nie net vir Isebel aan nie, maar die hele gemeente. Hy het teen hulle dat hulle as ‘n gemeente nie optree teen die vrou Isebel nie, die een wat ons herinner aan die Baäl-aanbiddende koningin van Israel, Agab se vrou, wat met Elia swaarde gekruis het (1 Kon. 17 vv).

Gnostiese dwaalleringe

Hierdie Isebel – dit was moontlik ‘n titel wat Jesus haar gegee het – was ‘n selfaangestelde profetes, alreeds ‘n lasterlike oortreding. En sy het die gemeente verlei om kompromieë aan te gaan met hulle omgewing, wat talle tot onsedelikheid en afgodery verlei het. So het sy die gemeentelede die sogenaamde “diepere dinge van Satan” aangeleer.

Hierdie dieper dinge dui waarskynlik op die begin van die Gnostiese leerstellings wat daarop neerkom dat dit nie saak maak hoe jy lewe nie. Dit maak net saak wat jy weet en wat jy glo. Jou geloof hoef dus nie in ’n lewenstyl beliggaam te word nie. Jy kan leef soos jy wil. Solank jy kan sê: “Ek glo.”

Afgodediens

Nou moet ons ook verstaan, die probleem was nie die eet van die afgodsvleis as sodanig nie. Dit gaan oor die eet van die afgodsvleis asof dit inderdaad met afgode verbind kan word, soos Paulus die gemeente in Korinte (1 Kor. 8) en ook die gemeente in Rome gewaarsku het (Rom. 14). Omdat sommige mense geglo het dat die afgodsvleis inderdaad met afgode verbind kon word, sê Paulus, sal hy liewer géén vleis eet nie, as wat iemand deur sy voorbeeld in afgodery gestort word.

Getuienis van die gemeente in gedrang

Die probleem was verder nie net dat Isebel toegelaat is om haar verleidelike invloed in die gemeente uit te oefen nie, maar dat sommige van die gelowiges haar nagevolg en haar leer aangegryp het en daaraan meegedoen het. Dit het die getuienis van die gemeente ernstig in die gedrang gebring.

Jesus tree beslissend op

Interessant genoeg is Isebel ’n kans gegee om haar te bekeer. Sy het egter geweier. Dit het Jesus met groter intensiteit laat optree deur haar aan siekte te onderwerp. Daar staan letterlik dat Hy “haar op die bed neergegooi het”, ‘n metafoor vir die siekte wat sy as straf vir haar onsedelikheid sou ontvang.

Dieselfde geld vir haar volgelinge. Hulle word aan verdrukking blootgestel en van haar “kinders” – waarskynlik haar dissipels – is aan ‘n dodelike siekte onderwerp. “Ek sal hulle doodmaak met die dood!” staan dit letterlik daar. Jesus sal hulle uitwis.

Jesus sal hulle met die dood straf, soos Hy al geïllustreer het in die vroeë kerk van Jerusalem met Ananias en Safira wat vir die Gees gelieg het (Hand. 5) en in Korinte met gelowiges wat ‘n oordeel oor hulleself geëet en gedrink het by die nagmaal. Soos Paulus sê: “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ’n aantal het ontslaap” (1 Kor. 11:30).

Wat ons moet agterkom, is dat Jesus nie met Hom laat speel nie. Hy tree op as daar onsedelikheid en afgodery in gemeentes voorkom. Sy oordeel sal God se regverdigheid en soewereiniteit bevestig, sodat almal sal weet dat dit Hy is “wat die niere en harte deurgrond,” (Jer. 17:10), ’n Hebreeuse idioom wat dui op die mens se diepste gevoelens (niere as setel van emosies) en gedagtes (hart as setel van die intellek).

Jesus straf dus steeds – soos in die Ou Testament deur Moses verkondig (Deut. 28) – want Hy beloon afvalliges volgens hulle dade. Hy is nie net Verlosser en Voorspraak nie; Hy is terselfdertyd ook regter.

Alle gemeentes moet dit weet, sê Jesus. Gesamentlik dra hulle die verantwoordelikheid om toe te sien dat sulke dinge nie by hulle voorkom nie. God wil sonder enige kompetisie van afgode aanbid word. Hy duld geen onsedelikheid by enige van sy volgelinge nie.

Boodskap en betekenis

Diegene wat kies om aan God getrou te bly, wat in opstand kom teen die leringe van Isebel en nie daarmee saamgaan nie, spring dié oordeel vry. Hierdie gelowiges, sê Jesus, sal geen ekstra “las” opgelê word nie, soos die eerste “sinode” in Handelinge 15 dit ook besluit het.

Jesus beklemtoon dus, soos die eerste “sinode”, net hierdie twee ononderhandelbare goed. Die morele kant van die wet – geen onsedelikheid nie – en die geestelike kant van die wet – geen afgodery nie. Dit is wat Noag se verbond geleer het. Dit is wat Moses se verbond geleer het. Dit is wat die nuwe verbond ook vir ons leer.

Dit is só belangrik om hierdie aansporing te hoor. Die goddelose invloed van die dwaalleraars, die Isebels van hierdie wêreld moet weerstaan word. Die gelowiges moet eenvoudig die druk weerstaan en opkom vir die waarheid van die Skrif.

Waarvoor ons moet wag, is die Here se reinigingswerk om in te skop, sodat ons nie val vir die askese of die hedonisme nie, maar vir heiligheid in die huwelik.

Dit is ‘n geweldige troos vir die getroue gelowige wat in ‘n kerk wat sonde goedpraat, vasgevang is. Die Here is nie blind vir ons situasie nie. Hy sien die korrupsie wat rondom ons floreer. Hy wil hê dat ons getrou sal bly en enduit doen wat Hy sê.

Die gelowiges wat luister, wat enduit volhard in die ortodokse boodskap van die Woord, sê Jesus, sal uiteindelik seëvier. Hulle sal saam met Jesus oor die nasies regeer.

God laat nie met Hom speel nie. Hy laat nie met Hom spot nie. Hy sal nie sy oordeel onbepaald uitstel nie. Hy sal dié wat teen Hom in opstand is soos kleipotte stukkend slaan met ‘n ysterstaf (in ’n sinspeling op die Messiaanse belofte in Psalm 2).

Die gelowiges wat luister na hierdie waarskuwing van Jesus, sal dus ’n aandeel hê in die komende Messiaanse heerskappy oor die nasies en daarby Venus, die môrester, ontvang – die simbool van die nuwe dag wat in God se koninkryk met Jesus se wederkoms sal aanbreek.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Openbaring

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com