Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Delf dieper deur Openbaring

DAG 4 VAN 28

Die boodskap aan Smirna: “Bly getrou tot die dood toe” – Openbaring 2:8-11

Die stad Smirna

Smirna – die moderne stad Izmir – was en is ‘n pragtige stad, ‘n hawestad aan die Hermusrivier aan die Egeïese See. Die groot Griekse digter Homerus is met die stad geassosieer. Hulle was bekend vir hulle wetenskapsbeoefening, vir goeie wyn, pragtige geboue, groot welvaart en vir medisyne. Daar was onder andere ‘n groot tempel van Asklepius, die god van medisyne.

Hierteenoor was die gemeente in Smirna arm. Die woord wat Johannes hier gebruik vir hulle armoede (ptōcheia) dui daarop dat hulle nie net min gehad het nie. Hulle was brandarm. Waarskynlik weens die teenstand wat hulle van die Jode en die owerhede ervaar het – soos op baie plekke in die Romeinse ryk – wat baie keer konfiskering van hulle bates en eiendom tot gevolg gehad het (Hebr. 10:34).

Smirna was getrou in vervolging

‘n Mens sou dink dat hierdie gemeente dit nie sou maak nie. Dat hulle invloed sou kwyn. Dat hulle deur die stad se invloedrykes geïgnoreer sou word.

Tog nie. Smirna het staande gebly al was hulle in die spervuur. Hulle was ‘n klippie in die skoen van die Jode. Hulle was ‘n steen des aanstoots vir die owerhede. Maar, Smirna wou nie inval by die heersende heidense verering van die keiser nie, selfs nie by die ooreenkomste wat die Jode gesluit het met die owerhede ter wille van hulle relatiewe godsdiensvryheid nie.

Beskrywing van Jesus

Hoekom? Want, hulle was verbind aan Jesus, die Eerste en die Laaste, die een wat dood was, maar wat lewend geword het.

Hiermee bemoedig Jesus die gemeente weens die feit dat Hyself God is, maar nie geskroom het om ter wille van die redding van die uitverkorenes die dood te smaak nie.

Hy bemoedig hulle nie net met die kruis nie, maar ook met sy opstanding.

Beskrywing van die gemeente

Laat ons egter vir geen oomblik die vervolging en verdrukking van die gemeente van Smirna onderskat nie. Hulle is op talle maniere verdruk. Hulle is wreed vervolg. Hulle is publiek verguis. Maar hulle het volhard. Hulle het getrou gebly aan die geloof in die Here Jesus Christus.

Veral die Joodse sinagoge het ‘n fel aanslag op die Christene geloods. Soos dit altyd gebeur, as jy nie met jou afwykende teologiese idees hond haaraf maak nie, wend jy jou tot die publiek en draai die publieke mening in jou guns teen jou teologiese opponente.

In plaas daarvan om met die gelowiges in gesprek te tree oor die Messias, en saam te gesels oor die wyse waarop die Skrifte daaroor praat, het die Jode die teologiese gesprek verlaat en die Christene by die staat in die rug gesteek.

Jesus noem daarom hierdie Jode in Smirna ‘n sinagoge van Satan, soos hy op ‘n keer die duiwel die vader van die Joodse leiers genoem het (Joh. 8:44). Die Joodse teenstand teen hierdie arm Christene het hulle ware aard gewys – hulle vyandskap is deur die Satan self aangesteek teen die Christene.

In Jesus se weegskaal is die gemeente ryk

In Jesus se weegskaal is hierdie arm gemeente egter daarom een van die top gemeentes. Smirna kry net lof van die Here, soos dit ook met Filadelfia die geval is.

Wat Jesus van Smirna sê, is: “Ek ken jou verdrukking en jou armoede, maar tog is jy ryk.” Die voorganger en gemeente in Smirna word geprys deur Jesus en dit vir hulle “rykdom”.

Wat was Smirna se rykdom? ‘n Mens sou kon sê van Laodisea dat hulle ryk was. Hulle was ‘n welvarende voorspoedige gemeente. Hulle was regtig fisiek ryk. Maar Smirna? Hierdie brandarm gemeente?

Ja, sê Jesus. Julle is ryk, want Jesus meet rykdom nie in terme van geld nie. Smirna se rykdom lê in hulle getrouheid. Ten spyte van die vervolging. Ten spyte van die teenstand. Ten spyte van die armoede. Dit is waarom Jesus hulle as ryk tipeer, omdat hulle aan Jesus getrou gebly het, die bron van hulle hoop en volharding.

Boodskap en betekenis

Jesus gee hulle geen waarskuwing nie. Geen teregwysing nie. Net ‘n bemoediging.

Hulle gaan dit beslis nodig kry. Hulle verdrukking is nog nie klaar nie. Daar wag nog meer daarvan op hulle.

Jesus waarsku hierdie top gemeente van Hom dat daar nog ‘n groter vervolging is wat wag. Die grootste teenstand, sê Jesus, gaan kom van die verdrukking deur die duiwel self, God se groot teenstander. Die duiwel sal homself nie kan keer nie. Hy sal die blote bestaan van ‘n gemeente in Smirna wil uitwis.

Hulle hoef egter nie te vrees nie, sê die Here Jesus, want al gaan sommige van hulle weens die duiwel se werk in die gevangenis gegooi word, sal dit vir ‘n beperkte tyd wees. Jesus sal dit temper.

Wat hulle moet help om vas te staan, om verder getrou te bly, is die besef dat die doel van al die teenstand en die lyding van die verdrukking, is om hulle volharding te toets. As ‘n getuienis aan die res van die kerk. Dit sal tien dae lank duur, sê Jesus.

Daarmee bedoel Hy waarskynlik nie ‘n letterlike tien dae nie, doodgewoon dat daar ‘n einde sal kom aan die toetsing, hoe lank dit nou ook al sou duur (vgl Dan 1:12,14; Gen 24:55; Num 11:19).

Hulle sal ná die uitmergelende tyd van verdrukking die oorwinnaarskrans (iets soos die lourierkrans wat met oorwinning geassosieer is) van die lewe ontvang.

Anders as wat die geval was met die aardse pryse (wat nie maklik ná die dood aan iemand toegeken is nie, hoewel dit soms ná iemand se dood saam met hom begrawe is) sal Jesus hulle die oorwinnaarskrans van die lewe gee, selfs al sou hulle in die proses doodgaan. Die krans simboliseer hulle oorwinning oor die dood. Dit is die kroon van die ewige lewe.

Jesus bemoedig die gemeente van Smirna deur hulle te herinner daaraan dat Hy self tot die dood toe getrou was en uit die dood opgestaan het. Die tweede dood – die poel van vuur en swael (Openb. 20:6,14; 21:8), wat direk herinner aan die vernietiging van Sodom en Gomorra (Gen. 19:29) – sal geen effek op hulle hê nie.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Openbaring

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com