Hoe is God? 'n 21-dag LeesplanVoorbeeld

God Is Liefde
In ons kultuur is daar 'n beheptheid met liefde. Romantiese fiksie en rolprente stuur 'n boodskap uit dat liefde ons goed sal laat voel en dat ons alles in ons vermoë — selfs verkeerde dinge — behoort te doen om dit te verkry.
Die liefde gaan egter nie net oor seks-gedrewe passie nie — indien dit hoegenaamd liefde is.
Met die vertaling van die Nuwe Testament uit Grieks, is minstens vier woorde as liefde vertaal:
- "storge" (om van iemand te hou omdat jy hom of haar leer ken het);
- "philia" (vriendskaplike liefde);
- "eros" (die gevoel om "verlief te wees"); en
- "agape" (die onvoorwaardelike liefde van God).
Met soveel verskillende emosies wat in een woord vasgevang word, is dit te verstane dat die begrip van liefde verkeerd vertolk kan word.
In 'n brief aan die vroeë Christene, gee Johannes, een van Jesus se boesemvriende, aan ons 'n beter manier om liefde te verstaan. 1 Johannes 4:8 sê: "... God is liefde."
Liefde is nie iets wat God doen nie; dit is wie Hy is. God is die bron van ons vermoë om lief te hê. Wanneer ons na God kyk as ons maatstaf hoe liefde moet lyk, verander dit die manier hoe ons mekaar behandel.
Die liefde van God word ten beste in Jesus se lewe en sterwe geïllustreer. "God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê" (Johannes 3:16).
God se liefde is selfopofferend; dit maak nie op gevoelens en drange staat nie. God se liefde is ewig en volmaak; dit hou nie heeltyd dop of daar iemand of iets beter is nie. In ons kultuur het liefde 'n verwarrende en vertroebelde woord geword. In Christus, beteken liefde verlossing.
Dit is slegs wanneer ons God waarlik ken dat ons in staat is om soos Hy lief te hê. Johannes se uitdaging aan die kerk in sy tyd is dieselfde uitdaging wat ons vandag in die gesig staar. Aangesien ons hierdie liefde ervaar het, word ons ook geroep om dit met ander te gaan deel (1 Johannes 4:11).
Oordink die volgende:
- Noem een manier hoe God gewys het dat sy liefde anders is as dit wat die wêreld bied.
- Op watter wyse kan jy vandag God se liefde betoon?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Hoe is God? Dit is 'n groot vraag, maar 'n belangrike een. Wat ons van God verstaan, sal bepaal hoe ons onsself met Hom vereenselwig. Hoe meer ons van God weet, hoe beter sal ons verhouding met Hom wees. Regdeur die Bybel openbaar God wie Hy is. Elke naam van God vertel ons iets van Hom. Oordink God se karakter oor die volgende 21 dae en kyk hoe jou liefde vir Hom groei.
More