Hoe is God? 'n 21-dag Leesplan

Oordenking

God Is Ons Trooster



Die dokter kom in met 'n hartseer gesig en 'n positiewe kanker diagnose. 'n Polisieman klop aan die deur met die nuus wat geen ouer ooit wil hoor nie. Die persoon wat belowe het om altyd by ons te wees, verlaat ons. 'n Brief van afkeuring, verpletter ons toekomsplanne.



Ons het almal soms vertroosting nodig. Daar is oral pyn, hartseer en tragedie en geen fisiese wyse waarop ons dit kan ontkom nie. Ons is egter nie vasgevang of gedoem om vir die volgende hou te wag nie, want ons dien 'n God wat die vader van alle ontferming en vertroosting is.



In 2 Korintiërs 1:3-4, praat Paulus vanuit sy eie tragiese ervaringe oor die krag van God se ontferming. Paulus was gewoond aan swaarkry. Hy het geweldige ontberinge ervaar wat hom eintlik moes gebreek het. Tog het hy geweet waarheen hy in moeilike tye moet gaan en getuig dikwels van God se getrouheid en die werklikheid van die troos wat daar in God se arms is. 



Paulus se lewe het nie net gewys hoe dit lyk om bonatuurlike vertroosting te verkry nie, maar hy wys dat dieselfde vertroosting na ander oorloop. Paulus het sy lewe daaraan gewy om die evangelie met ander te deel. So was hy dan, ongeag sy eie omstandighede, 'n verstommende bron van bemoediging vir Christene regoor die wêreld. Tog was Paulus nie 'n groot held nie. Die impak van sy bediening was 'n direkte uitvloeisel van die Heilige Gees in hom. Paulus het aan God vasgehou en die liefdevolle vertroosting wat hy ontvang het, was meer as genoeg, sodat hy dit ook met ander kon deel.



Daar is geen einde aan God se vertroosting en ontferming nie. Sy begeerte en vermoë om sy arms om ons te vou, word nie deur omstandighede beperk nie. Of ons swaarkry die gevolg van ander se dade is, ons eie onwyse besluite of toevallig is, wil God nogtans ons beskerming en krag wees. 



Net soos Paulus, het ons ook die Heilige Gees in ons. Dit beteken dat ons toegang daartoe het om 'n onbeperkte hoeveelheid vertroosting te ontvang en aan ander te gee. 



Oordink:




  • Hoe reageer jy gewoonlik op moeilike omstandighede? 

  • Waar het jy al God se vertroosting in jou eie lewe gesien?

  • Ken jy iemand wat die soort vertroosting nodig het wat net God kan gee? Hoe sou dit wees om aan daardie persoon die vertroosting te gee op die wyse wat God jou in die verlede getroos het?