Leesplan inligting

20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

20/20: God's Vision For My Life

DAG 1 VAN 35


Onskuldig!


Deur Kam Hunt


Vir ware verlossing help dit nie om 'n man net nuwe klere te gee en hom 'n vaste betrekking of universiteitsopleiding te gee nie. Hierdie dinge gaan net oor die uiterlike, maar as die innerlike onveranderd bly, het jy jou tyd gemors. Jy moet op die een of ander manier die mens se geaardheid vernuwe om 'n element van die Goddelike te bevat. William Booth

Het jy al ooit gehoor dat 'n veroordeelde misdadiger openlik erken dat hy skuldig is? Seker nie. Ek dink die enigste plek waar jy sal hoor dat iemand skuld erken, in 'n TV-program soos CSI of Law & Order is. In die regte lewe is dit vir enigiemand moeilik om te erken dat hulle skuldig is. Al is daar 'n oorweldigende hoeveelheid bewyse van ons skuld, is die woorde: "Ek het dit nie gedoen nie" blykbaar altyd net reg om uit te glip.


As jy 'n sondaar is, is die getuienis teen jou onoorkomelik. Paulus stel dit so in Romeine 3:9-12: “Waarop kom dit neer? Is ons as Jode dan beter as die ander? Glad nie, want ons het al bewys dat Jode en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. Daar staan immers geskrywe: 'Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.'" 


Volgens die Bybel is niemand gevrywaar van hierdie waarheid nie. Romeine 3:23 sê: “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie.” Verstaan jy dit? Ons is almal van nature sondaars. Byvoorbeeld: ek het onlangs vir my tweejarige seuntjie gevra: "Het jy Pappa se motorsleutels?" Sy onmiddellike en doelbewuste antwoord was: "Nee!" Dit, terwyl ek die sleutels in sy sak hoor klingel het! Ons is elkeen skuldig aan sonde, ongeag wie ons is. Het jy al ooit 'n leuen vertel? Gekul? Gesteel? Begeer? Trots gewees? Dan is jy skuldig.


Openbaring 12:10 identifiseer die Satan as ons aanklaer wat ons “dag en nag” voor ons God beskuldig. Hy is soos 'n staatsaanklaer wat ons meedoënloos aankla en God voortdurend daaraan herinner hoe sondig ons is. Alhoewel die Satan as aanklaer optree is hy, danksy God, nie ons regter nie. God is ons regter, en Hy het die finale sê.


Ons hemelse Vader weet dat ons stryd soms die oorhand kry. Hy weet die Satan voer 'n voortdurende geestelike stryd om ons van Hom te vervreem. God weet dat ons sedert die sonde in die wêreld gekom het, gevalle is en onderworpe is aan 'n ontembare begeerte om te sondig. Hy weet dat ons sonde 'n enorme skeiding tussen Hom en die mensdom geskep het. Daarom het God besluit om die grootste verlossingsplan in die hele skepping te formuleer. Hy het Jesus Christus — sy Seun — gestuur om die straf vir ons sondes op Hom te neem!


Kan jy jou voorstel om vir iemand anders se misdaad tronk toe te gaan? Wat nog te sê om namens 'n vriend die doodstraf te aanvaar? Ek het vriende vir wie ek lief is, maar as ek heeltemal eerlik is, sal dit vir my uiters moeilik wees om tronkstraf uit te dien vir iets waaraan hulle skuldig is. Dit is egter presies wat Jesus vir ons gedoen het! Die aand voordat Hy gekruisig is, het Jesus vir sy dissipels gesê: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê” (Johannes 15:13). Ure later, terwyl Hy in die tuin van Getsemane neergekniel en sweet soos bloeddruppels van sy gesig afgevloei het, het Hy gebid: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied.” Omdat dit God se wil was dat jy vry moet wees, het Jesus vrywillig gekies om jou vonnis uit te dien. Wanneer jy Christus as jou Heer en Verlosser aanneem, word die aanklagte teen jou uit die weg geruim en die Satan se saak uitgegooi! Prys God … jy is nie skuldig nie!


Memoriseervers


"Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie" Efesiërs 2:8-9.


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

20/20: God's Vision For My Life

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te le...

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid