20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

Meer As 'n Kaartjie Hemel Toe
Deur Bobby Bogard
"Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer" Filippense 1:11.
My gesin het in Augustus 1972 na die klein gemeenskap, Des Arc in Arkansas verhuis. My ma was teen daardie tyd deur verskeie huwelike. Die man met wie sy toe getroud was, se tweelingbroer was die pastoor van 'n plaaslike kerk, die Gospel Mission Church.
Alhoewel ek nie tydens my kinderjare kerk toe gegaan het nie, het die twee pragtige meisies wat ek by die pastoor se huis ontmoet het my geïnspireer om dit te probeer. Dus, toe 'n klein groepie jongmense, vurig om die evangelie te versprei, op 'n sendingreis na 'n nabygeleë gemeenskap gegaan het, het ek besluit om saam te gaan. Tydens daardie reis het ek begin agterkom dat ek nie my eie getuienis het nie en dat ek ver van God af was. Ek het die drang om my lewe aan God oor te gee, beveg en sy roepstem tot redding weerstaan. Ek kon oor die volgende paar weke egter nie ophou dink aan die opregtheid en ware liefde wat ek in daardie jong manne en vroue gesien het nie. Daar was 'n stryd in my gedagtes aan die gang oor alles wat ek sou moes opgee as ek 'n "Jesus Frats" word. Dit was net nie gewild om 'n Christen te wees nie.
Maar toe — op Woensdag, 15 Augustus 1972 — het dit gebeur. Ek het so pas 'n kragtige diens bygewoon en my hart was ontvanklik vir die evangelie. Aan die pastorie se etenstafel het my stiefoom die regte vraag op die regte oomblik gevra: "Bobby, wil jy van jou sonde gered word en 'n nuwe lewe hê wat slegs God vir jou kan gee?" Ek het nie eens geantwoord nie. In plaas daarvan, het ek deur die pastorie tot in die kerk gehardloop en voor die altaar neergeval.
Ek het besef dat die proses van redding soveel meer as net 'n kaartjie hemel toe is. Al het ek daardie Woensdagaand 'n kind van God geword, was daar nog ander terreine van my lewe wat ook aan God toegewy moes word. Die wonder van redding lê daarin dat God ons vir sy doeleindes in hierdie lewe wil red. Hy red ons van sonde en die hel, maar Hy red ons ook tot die lewe en dit in oorvloed (Johannes 10:10). Die Bybel beskryf dit as 'n aksie waartydens jy met jou ou self breek en as jou nuwe self lewe (Efesiërs 4:20-24). Op dié manier begin die Here om ons te genees en ons van ons verlede te verlos om ons sy toekoms in hierdie lewe te gee.
Oor die jare het God op 'n liefdevolle manier begin om die terreine van my siel waar ek gewond en stukkend was, te herstel. Hy het die wonde genees wat ek deur die volgende woorde van my pa opgedoen het: "Jy is nie meer my seun nie", asook wonde wat veroorsaak is deur dié woorde wat op sy laaste onderhoudstjek geskryf was: "Ten volle betaal." Hy het my gered van die gevoelens van versaking wat daardie woorde veroorsaak het.
My verhouding met my aardse pa is mettertyd herstel, maar my hemelse Vader het nie daar opgehou nie. Hy het begin deur my te red van my onvermoë om 'n goeie pa te wees. Hy het manne in my lewe gebring wat voorbeelde kon wees van hoe om 'n goeie eggenoot, pa en godvresende man te wees. Ek het begin om na sy beeld te groei, en Hy het my huishouding gered (Handelinge 11:14; 16:31). Ek en my vrou, Rose, het die oorerflike vloek van egskeiding in ons familie gebreek en het onlangs ons 34ste huweliksherdenking gevier! My dogter en seun is albei tans besig om nuwe kerke saam met hulle eggenotes te plant. Ons wag om te sien wat ons kleinkinders gaan doen, maar ek glo in God se belofte wat oor duisende geslagte strek van dié wat Hom dien.
Soos ek terugkyk, word ek al hoe meer bewus van 'n betekenisvolle waarheid oor redding — in die proses is daar 'n verskil tussen my aandeel en God se aandeel. Paulus plaas dit in perspektief wanneer hy skryf: "Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie" (Efesiërs 2:8-9). Jesus het my agtervolg terwyl ek in sonde geleef het, my liefgehad ten spyte van my sonde en my gered uit die bande van sonde. Ek het nie die vermoë of hulpbronne om myself te red nie. Elke aspek van sy algehele redding word bereik deur sy dade en sy reddingskrag.
Wat van jou lewe? Het jy al aan God die geleentheid gegee om jou te red? Sien jy hoe sy reddingswerk alles binne jou volledig kan maak, alles wat Hy begin het? "Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding" (2 Korintiërs 6:2).
Om 'n Christen te wees is meer as net 'n kitsbekering — dit is 'n daaglikse proses waartydens jy groei om meer en meer soos Christus te word.
~ Billy Graham
Memoriseervers
"Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Efesiërs 2:8-9.
Aangaande hierdie leesplan

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.
More