20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

20/20: God's Vision For My Life

DAG 8 VAN 35

In Vennootskap Met God

Deur Mary Jo Pierce

"Ek het jou gebed verhoor, Ek het jou trane gesien. Ek gaan jou gesond maak" 2 Konings 20:5.

Terwyl ek langs my ma se kis gesit het, het ek gebid en uitgeroep om vertroos te word. Ma was so siek. Ek het gebid ... ernstig gebid, maar haar liggaam het aan die siekte omgekom.

Ek was 'n nuwe Christen, onbekend met die Woord van God, en ek was desperaat om antwoorde te kry. Dit was nodig dat ek die Woord van God ten opsigte van gebed en genesing verstaan. Die enkele hulpbronne wat ek kon vind, het met meer veroordeling as begrip vorendag gekom — dit het my verantwoordelik gehou vir genesing. Het ek met genoeg geloof gebid? Lank genoeg? Ernstig genoeg? Slim genoeg?

Hierdie gebedsreis het my tot my knieë gedryf, asook na die Woord van God. Met die Heilige Gees as my Voorspraak en Onderwyser het ek besef dat God die Geneesheer is. My gebede was bloot die voertuig waardeur die reddingskrag van sy woord vir ander se genesing vrygestel word — hetsy fisiek, emosioneel of verstandelik.

Ek moes leer hoe logos en rhema saamwerk. Logos is die geskrewe Woord van God — die Bybel in geheel — wat lewend en kragtig en skerper as enige swaard met twee snykante is (Hebreërs 4:12). Rhema verwys na die enkele belofte of beloftes waaraan die Heilige Gees jou vanuit die Woord van God herinner en wat ons persoonlik in ons lewens kan toepas (Efesiërs 6:17).

'n Rukkie gelede was 'n geliefde vriend siek en sterwend in 'n hospitaalbed. 'n Aangebore harttoestand het hom met slegs een opsie gelaat — eksperimentele hartchirurgie. Die dokters het min hoop gehad. My vriende het vir 'n wonderwerk gebid. Weer eens is ek op my knieë en na die Woord van God gedwing. Ek het die Vader begin vra hoe Hy wou hê ek moes bid. God het my na 2 Konings 20 gelei wat vertel hoe koning Hiskia dodelik siek geword het, en die profeet Jesaja hom kom vertel het dat hy binnekort sou sterf. Hiskia het gereageer deur tot God uit te roep om sy lewe te spaar, en Jesaja het teruggekeer met die volgende woord van die Here: "Ek het jou gebed verhoor, Ek het jou trane gesien. Ek gaan jou gesond maak" (2 Konings 20:1-6).

Terwyl ek hierdie vertelling van God se antwoord op Hiskia se uitroep lees, het ek onmiddellik ervaar hoe die gawe van geloof om vir my vriend te bid in my gedeponeer word. Boonop het ek ervaar dat God my 'n gebedstaak gee, asook 'n boodskap aan my vriend. God het my aangesê om my gebed persoonlik te aktiveer. Ek het die volgende dag per vliegtuig na Washington DC gereis en direk na sy hospitaalkamer gegaan. Ek het Skrifgedeeltes met hom deurgegaan, my geloof by syne gevoeg, en ons het saam gebid. Sy operasie het die volgende dag plaasgevind. My vriend dien vandag steeds die Here en getuig van die wonderbaarlike krag van genesende gebed! Dit was rhema en logos wat saamgewerk het om God se genesingskrag vry te stel.

Twaalf jaar later het ek voor nog 'n vreesaanjaende gebedstaak te staan gekom. 'n Nabye vriend het 'n opdraande pad na genesing in die gesig gestaar. Die dokters se diagnose was somber en die behandeling was aggressief. Weer eens is ek op my knieë en na die Woord van God gedwing. Weer eens het ek 'n trekkrag na Hiskia se verhaal ervaar. Hierdie keer, in plaas daarvan om my geloof vry te stel, het ek God gevra of dit inderdaad 'n rhema woord was, en om dit asseblief te bevestig. En Hy het! Nie net een keer nie, maar drie keer ... deur sy Woord, deur mense en deur omstandighede. God het met my gepraat, en ek het onmiddellik die geloofsgawe ontvang om vir genesing te bid. My vriend dien vandag steeds die Here en getuig van die wonderbaarlike krag van God se genesing.

Ek het geleer om nie 'n profetiese woord of 'n enkele vers blindelings as 'n uitgesproke belofte te aanvaar nie, maar om God te vra om te bevestig wat Hy besig is om te sê. Ek het geleer om 'n skietlood vir bevestiging toe te pas — stem hierdie Skrifgedeelte ooreen met die Woord van God, sy wysheid en sy weë? Weeg dit op tot sy karakter, Goddelike raadgewing en my vrede? Eers toe ek die antwoorde op hierdie vrae gehad het, kon ek in vennootskap tree met God se wil vir doelbewuste, strategiese en gefokusde tussentrede.

Dit verg werk om die Woord van God te begryp en dit is harde werk om daardeur te bid. Maar die belonings bly vir ewig. Die Bybel verduidelik dit selfs beter. Paulus skryf die volgende aan die kerk in Efese:

"Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges" (Efesiërs 6:13-18).

Vandag is die beste tyd vir jou om te bid. Vandag is die beste tyd vir jou om in vennootskap met God te tree om sy genesingskrag vry te stel. Gaan op jou knieë en na die Woord van God om jou rhema woord te ontvang en druk deur! Die belonings bly vir ewig!

God sê nie dat ons wysheid en ons gesonde verstand eenkant toe moet stoot nie. Hy sê vir ons om nie staat te maak op ons eie menslike onderskeiding van wat om te doen nie. "Ontvang openbaring van My af," sê Hy.
~Dutch Sheets

Memoriseervers

"Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom" Jesaja 53:4-5.

Aangaande hierdie leesplan

20/20: God's Vision For My Life

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com