20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

Die Walvis Naeltjie-Krapper
Deur Tom Lane
"Jesus roep hulle toe nader en sê vir hulle: 'Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense'” Markus 10:42–45
Die roeping om ander te dien is 'n hemelse roeping vir dié wat God liefhet. Deur dade van goedhartigheid en uitdrukkings van diens aan mense word ons God se hande en voete. Hy openbaar sy liefde aan mense deur die tasbare uitdrukking van ons gawes wanneer ons in mense se behoeftes voorsien en vir hulle omgee. Diens neem verskillende vorms aan. Dit is nie die grootte van ons aksies van diensbaarheid wat saak maak nie. Dit is die rede wat die diens motiveer, wat die hemel se aandag trek. Jesus sê: “Wie aan een van hierdie geringstes net 'n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.” (Mattheus 10:42).
Die ware weerspieëling van ons liefde vir God word gesien in ons optrede eerder as in die woorde wat ons sê. Al is dit waar dat ons ewigheid en geregtigheid gebaseer is op die werke wat Christus gedoen het, is dit ook waar dat ons liefde vir Hom deur ons werke weerspieël word. Op hierdie manier is ons geloof en werke dus onafskeidbaar gekoppel. Die apostel Jakobus stel dit so:
"Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so 'n geloof 'n mens red? Sê nou daar is 'n broer of 'n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: 'Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,' maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood. Maar iemand kan miskien sê: 'Die een het die geloof en die ander het die dade.' Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade" (Jakobus 2:14–18).
Gedurende die jare wat ek in die bediening gewerk het, het ek talle mense gesien wat getrou kerk toe gaan. Hulle is kundig oor die Skrif, maar hulle dien in geen enkele hoedanigheid in die kerk of die gemeenskap, as 'n uitdrukking van hul liefde vir God nie. Wanneer hulle genader word om êrens te dien of gevra word om in 'n behoefte te voorsien, reageer hulle met "Dankie, maar ek is nie daartoe geroep nie", of "Wel, in hierdie gebied het ek ongelukkig nie talente nie.” Tog gaan hulle voort, jaar na jaar, bloot om meer kennis oor die Bybel in te samel en groei hulle in verhoudings sonder om ooit êrens te dien.
Dit herinner my aan die storie wat ek gehoor het van 'n man in Durban wat onder welsynsorg is. Om sy welsynsvoordele te kon behou, moes hy aktief na werk in sy area van kundigheid bly soek het. Dus het hy sy area van kundigheid aangedui as "walvis naeltjie-krapper". Omdat hy nie werk as 'n "walvis naeltjie-krapper" kon kry nie, (dit mag jou dalk verbaas, maar daar is nie baie werk vir 'n walvis naeltjie-krapper nie), kon hy dus sy welsynsvoordele behou sonder om ooit te werk.
Jesus wil nie hê dat enigeen op die kantlyn moet sit sonder om diensbaar te wees nie. Jy het meer om aan te bied en is meer talentvol as was jy dink! Moenie jouself toelaat om soos 'n geestelike “walvis naeltjie-krapper” te dink nie. Dit is vir God belangrik dat ons as sy ambassadeurs sal optree — wat sy hande sal wees deur goed te doen aan mense in nood.
Jesus het aan sy dissipels vertel van die finale oordeel in die eindtyd om sy punt te illustreer. Hy het gesê:
“Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’ Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’ En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen'” (Mattheus 25:34–40).
Kom ons verbind ons vandag daaraan om ons belangstellings, passies en vermoëns te gebruik om God deur mense te dien! Deur dit te doen, kan jy aansluit by die beweging "Gelowiges teen walvis naeltjie-krappers!"
Almal kan wonderlik wees … omdat enigeen kan dien. Jy het nie 'n universiteitskwalifikasie nodig om diensbaar te wees nie. Jou onderwerp en werkwoord hoef nie te pas om te kan dien nie. Jy het net 'n hart van genade nodig om diensbaar te wees. 'n Siel wat deur liefde gemotiveer is.
~ Martin Luther King Jr.
Memoriseervers
"As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy 'n genadegawe ontvang het, die ander dien" 1 Petrus 4:10.
Aangaande hierdie leesplan

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.
More