20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

Gloei
Deur Jelani Lewis
"Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik" Matteus 5:14-16.
Ek het nie juis baie van kerk gehou terwyl ek grootgeword het nie. Dit was nie omdat die mense nie vriendelik was nie. Ek en my broer is dikwels begroet met 'n liefdevolle knypie of soen op die wang deur ma's en oumas wat hoede so groot soos wawiele gedra het. Dit was ook nie omdat kinders se enigste kans vir 'n peuselhappie die brood en koeldrank tydens nagmaal was nie.
Nee. Ek is seker die rede hoekom ek 'n afkeer van kerk gehad het, was eerstens omdat dit gevoel het of dit nie einde kry nie. Ek weet daar was tye toe Jesus self uitgeglip het om 'n uiltjie te knip, terwyl ons nog steeds daar moes sit. Tweedens het ek meestal geen idee gehad waaroor die prediker gepraat het nie, veral ten opsigte van verlossing. Ek is seker hy het die evangelie baie mooi verduidelik. Vir 'n kind was die hele idee om van God geskei te wees weens my sonde en dus "weergebore" te moes word (wat beteken het die God van die heelal moes uitgenooi word om binne-in my te kom woon), 'n bietjie oorweldigend.
Gevolglik het ek reeds op 'n vroeë ouderdom besluit dat ek met hierdie kosmiese verbintenis kon wag tot ek ongeveer 30 jaar oud is. Buitendien, sover ek kon onthou, het ek nooit 'n ander jongmens gesien wat werklik verlossing ontvang en skaamteloos vir Jesus gelewe het nie … totdat ek vir Phillip ontmoet het.
Phillip was die aanvallende agterspeler in my hoërskool voetbalspan. Hy was 'n buitengewone atleet. Intelligent. 'n Gebore leier. Nietemin, onthou ek nie veel van hom voordat hy 'n volgeling van Christus geword het nie. Ek onthou hom as 'n doodnormale kind — tot die ou eendag 'n ander mens was. Ek praat van die soort andersheid waar iemand se lewe onherroeplik deur Jesus Christus verander is. Ek het gesien hoe Phillip, dag in en dag uit, soos 'n weergebore gelowige in 'n opregte verhouding met God gelewe het.
Ek het toegekyk hoe hy vir die jeug gepreek het en vir sy klasmaats gebid het. Ek het gesien hoe hy vir geregtigheid en heiligheid in die kleedkamer standpunt ingeneem het. Ek onthou toe hy selfs eenkeer 'n versie met my gedeel het wat die Here vir my op sy hart gelê het. Terwyl ek Phillip se lewe dopgehou het, het ek nuwe hoop gekry — hoop dat ek nie hoef te wag totdat ek amper 30 jaar oud is voor ek Christus aanvaar nie.
Ek het dus iets eenvoudig, maar lewensveranderend gedoen. Deur die leiding van die Heilige Gees het ek besluit om my lewe waarlik aan Christus oor te gee. Dit was toe nie naastenby so ingewikkeld as wat ek my as kind voorgestel het nie. Dit was net 'n opregte gebed tot God om my afhanklikheid van Hom te verklaar wat my tot 'n nuwe lewe, nuwe prioriteite en in 'n nuwe rigting gelei het. Dit was te danke aan 'n hoërskool voetbalspeler wat sy geloof uitgeleef het.
In hierdie gedeelte, gee Jesus 'n wonderlike uitdaging aan gelowiges. Hy vermaan ons om nie weg te kruip nie (wat ons geneig mag wees om in hierdie duister wêreld te doen), maar om die lig te wees. Ons moet skyn, die glans wees … ons moet gloei. Hoe gloei ons? Deur ons goeie dade. Jesus sê wat ons doen en die wyse waarop ons lewe, moet 'n brug wees om ander te help om ons hemelse Vader te prys, te verheerlik en te aanbid. Ons optrede en leefstyl moet 'n betekenisvolle stimulus wees om ander tot redding te laat beweeg.
Ek het onlangs na Bioluminescent Baai in Puerto Rico gereis. Mense reis van regoor die wêreld om die mistieke waters te sien wat soos sterre in die see blink. Saam met verskeie ander het ek deur die donker, onheilspellende kanaal gekajak, op soek na God se gloeiende, deurskynende grootsheid. Teen die aand het ek tot my verbasing gesien hoe my roeispaan se bewegings deur die water 'n pragtige blougroen skynsel veroorsaak. Op daardie oomblik was ek verbyster oor hoe verstommend ons God is.
Toe almal in die middel van die baai was, het ons toergids die groep bymekaar gebring en begin om bioluminessensie te verduidelik. Hy het vertel dat daar duisende mikroskopiese plankton, bekend as dinoflagellata, per liter water in die baai is. Dit straal 'n flits blou lig uit wanneer die water versteur word en bring dan hierdie wonderlike skittering teweeg. In wese, veroorsaak 'n aanraking hierdie gloed.
Ek wonder of dit nie ook God se doel vir jou is nie. Kan dit wees dat wanneer God jou lewe so genadiglik aanraak, die rede gedeeltelik is dat jy sal gloei? Is dit moontlik dat ek en jy gered, genees en vrygemaak is sodat mense wat regoor die wêreld in duisternis lewe, sy lig in ons lewens kan sien en daardeur nader aan Hom getrek word?
Petrus en Paulus het so gedink. Petrus het selfs gesê dat 'n gelowige vrou deur haar voorbeeldige gedrag, haar man vir Christus kan wen (1 Petrus 3:1-2) en Paulus het vir Titus gesê om die slawe te leer (wat in daardie kultuur baie soos ons hedendaagse werknemers gefunksioneer het) om onderdanig en betroubaar te wees om sodoende die aansien van God ons Verlosser te verhoog (Titus 2:9-10). Laat ons dan in reaksie op sy aanraking, gloei tot verheerliking van God by die huis, die werk, die skool en waarheen ons ook al reis.
Wie weet? Dalk is daar eendag iemand wat met 'n glimlaggende gesig sal vertel hoe hulle lewens onherroeplik op 'n positiewe wyse deur Jesus Christus "geruïneer" is — en jou dan hul Phillip noem.
In die donker is 'n skitterende lig genoeg vir 'n vlieënier om die poolster te vind en sy koers daarvolgens in te stel.
~Metastasio
Memoriseervers
"Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie." Efesiërs 2:8-9
Aangaande hierdie leesplan

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.
More