20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

'n Geloofsavontuur
Deur Craig Terndrup
"Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkomHebreërs 11:8."
Ek het met my rooi 1976 Volkswagen bussie in die rigting van die snelweg gery. Dit was die lentevakansie en ek en 'n aantal mede-studente aan die Kentucky Universiteit in Lexington, Kentucky, het tot in die hartjie van die krokodilwêreld — die Universiteit van Florida, gery. Ons sou help om 'n koshuis in Gainesville op te knap as 'n bedieningsentrum vir studente van die Universiteit van Florida.
Ons reis het wonderlik verloop totdat ons Atlanta bereik het. Teen 'n steil heuwel het die waaierband van my bussie gebreek en die enjin heeltemal beskadig. Ons het onsself by 'n geroeste, ou Chevron-vulstasie bevind. Daarvandaan het ons 'n noodoproep na ons vriende in Gainesville gemaak en hulle het ons kom haal. Terwyl ons gewag het, het ons begin wonder of die deurbring van ons lentevakansie in Florida regtig al hierdie probleme werd sou wees.
Uiteindelik het ons by die Universiteit van Florida aangekom en aan die werk gespring. 'n Week waarin ons mure geskraap en geverf het, gipsmure herstel en rommel weggery het, het verbygevlieg. Voordat ons besef het, was ons op pad terug na Kentucky, terwyl ons laggend stories oor ons week saam vertel het … ons het absoluut geen idee gehad van alles wat God deur ons werk sou doen nie.
Ongeveer 'n jaar later het ek 'n jong dame, Linda, op 'n studentekonferensie ontmoet. Sy was 'n nuwe gelowige, en toe ons mekaar leer ken het, het sy haar verhaal van verlossing met my gedeel. Slegs 'n paar maande tevore het Linda en haar kamermaat, Dana, hulle harte aan Jesus gegee en is hulle in 'n kampussentrum gedoop. Haar opwinding en vreugde was aansteeklik toe sy die gebeure beskryf wat gelei het tot hierdie nuwe lewe waarin sy nou was.
Terwyl sy haar verhaal vertel, het ek agtergekom sy praat van dieselfde koshuis wat ons in 'n bedieningsentrum omskep het! In die kamer waarin ek net 'n paar maande tevore mure geskraap het, het Linda en Dana vir Jesus gevra om hulle te red en hul lewens te verander. Linda is gedoop in die bad wat ek help installeer het. Hulle het aanbid op die plek waar ek onkruid uit blombeddings in die voortuin getrek het. Ek was onwetend 'n deel van hul reddingsverhaal.
'n Jaar nadat ek Linda die eerste keer ontmoet het, het ek basketbal op die kampus van die Ohio Staatsuniversiteit gespeel. Ek het aan die Universiteit van Kentucky studeer en het as kampus-evangelis in 'n nuwe kerk in Columbus, Ohio gedien. Terwyl ek met my basketbal in die hand huis toe stap, voel ek 'n sterk indruk van die Here: Onthou jy vir Linda … die meisie van Florida? Jy gaan met haar trou!
Ek? Met die meisie van Florida trou? Ek het haar nog net een keer ontmoet en sy het negehonderd kilometer ver gewoon! Natuurlik het ek God gevra vir leiding oor my toekoms, maar hierdie indruk was net 'n bietjie te spesifiek en direk vir my om te sluk. Ek het voortgegaan om te bid wat ek as 'n veilige gebed beskou het: "Here, as U wil hê ek moet met Linda trou, sal U haar dan van Gainesville in Florida hier na Columbus, Ohio, bring? U het Eva na Adam toe gebring en ek weet dat U Linda vir my kan bring as U wil.”
Die volgende dag ry Linda die stad binne! Sy het na Boston, Massachusetts, verhuis en in Columbus oorgebly om by my predikant en sy gesin te oornag. Toe my predikant bel om vir my te sê Linda is in die stad, het ek dadelik gery om haar te sien. Ek het my predikant senuweeagtig vertrou met wat God vir my gesê het: dat ek met Linda gaan trou. Hy het my wyslik aangeraai om nie 'n woord aan haar te sê nie en dit aan God toe te vertrou. "As dit van God is", het hy gesê, "sal dit gebeur."
Linda vertrek toe na Boston waar sy as 'n spysenieringsbestuurder aan die Harvard Universiteit gewerk het terwyl sy 'n nuwe kerk gehelp het om universiteitstudente in die Boston-omgewing te bereik. Ses maande later het daardie kerk my gevra om na Boston te verhuis, as hul predikant. Op daardie oomblik het ek besef dat my lot aan daardie kerk en waarskynlik ook aan Linda gekoppel is.
Ek en Linda het dieselfde jaar by die Harvard Universiteit getrou en saam het ons die kerk sewe jaar lank bedien. Van tyd tot tyd het ons sendingreise gedurende die somer- of lentevakansies beplan. Elke keer as studente my vra of ek dink dat hul tydsbelegging die moeite werd is, antwoord ek met 'n groot glimlag: "Jy weet nooit wie God sal red as jy nie jou tyd aan Hom wy nie!"
Jy dink miskien dat verlossing bloot 'n gebed is wat jy tydens 'n kerkdiens bid, maar vir my is dit soveel meer. Verlossing is God se deur na 'n heel nuwe en opwindende geloofslewe. Geloof om die onbekende te betree. Geloof om my vakansietyd in bedieningsondernemings te belê. Geloof om met God te praat. Geloof om Hom vir 'n huweliksmaat, 'n gesin en 'n toekoms te vertrou. Verlossing lei tot 'n nuwe ingesteldheid en die oortuiging dat, vir God, alle dinge moontlik is. Verlossing het my lewe oopgemaak vir 'n nuwe avontuur van geloof wat ek nooit sou gedink het ek kon hê nie.
Vandag moedig ek jou aan om jou hart oop te maak vir God se nuwe rigting vir jou lewe. Een fluistering uit die hemel kan jou lewe vir altyd verander. Watter geloofsavontuur wag by God vir jou? Net Hy ken die lewens wat vir ewig gered en verander sal word as jy saam met Hom jou geloofsavontuur binnestap.
Die lewe is 'n gewaagde avontuur of heeltemal niks nie.
~ Helen Keller
Memoriseervers
"Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie" Efesiërs 2:8-9.
Aangaande hierdie leesplan

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.
More