20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

Om Vrees Te Oorkom
Deur Jan Greenwood
"Al sou 'n leër teen my stelling inneem, sal ek nie bang word nie. Selfs al sou die aanval op my begin, sal ek nog steeds vertroue hê." Psalm 27:3
Die verpleegster kom haastig die chemoterapiekamer binne en gee my die strokie papier waarop my bloedtoetse weekliks gedokumenteer word. "Dit lyk goed," sê sy. Ek reageer met presies dieselfde woorde wat ek elke keer gebruik wanneer sy dit aan my oorhandig: "Dis omdat dit met my goed gaan." Ek kyk af om te bevestig dat my bloeduitslae wel goed is en lees die resultate. Op daardie oomblik skiet 'n vurige pyl van vrees deur my hart.
Volgens 1 Johannes 4:18, het vrees ten doel om ons te folter omdat dit straf verwag. Dit kom na ons in verskillende vorme — van intimidasie en bedreiging tot foltering. Vrees skep graag verwarring en maak twyfel sy prooi. Dit doen hom voor as magtig en allesoorheersend, en betoon nooit genade nie.
Dit was in Junie 2009 toe ek die eerste keer gehoor het ek het kanker. Sedertdien het ek baie met vrees geworstel. Ek moes leer hoe om my gedagtes, optrede en my liggaam in voeling te hou met God se beloftes en karakter om my vrede te behou, in geloof te wandel en my genesing te ontvang. Ek het eerstehands geleer dat net die Woord van God harder met my kan praat as my vrees vir die dood.
Wanneer jy met 'n ernstige siekte gediagnoseer word, is daar dadelik 'n oomblik van ongeloof wat vinnig deur die eerste aanslag van vrees gevolg word. Jy kom voor gewigtige besluite te staan en baie skendings van jou privaatheid. Jy moet jou aksieplan uitwerk op grond van insette deur vreemdelinge wat jou belange op die hart dra of dalk nie. Elke besluit voel lewensbedreigend en elke dag bring 'n nuwe besef van die erns van jou omstandighede.
Josua se verhaal wys vir ons dat God verstaan hoe bang en geïntimideerd ons in die aangesig van die dood is. Die eerste hoofstuk in Josua begin onmiddellik nadat Moses gesterf het. Josua, wat Moses se regterhand was, het te staan gekom voor die uitdaging om die volk van Israel in die beloofde land in te lei. Ek glo hy het met vrees geworstel en ek kan my volkome met hom vereenselwig. Die eerste keer toe ek die woord "kwaadaardig" gehoor het, was dit asof my wind uitgeslaan is. God begin egter sy gesprek met Josua deur die dood reguit in die gesig te staar en sy angel te verwyder: "Moses my dienaar is dood. Maak jy nou gereed en trek deur die Jordaanrivier, jy en hierdie hele volk ..." (Josua 1:2). God talm nie oor die verlies van Moses nie. Inteendeel, Hy herinner Josua aan sy beloftes en gee aan Josua 'n lys van instruksies hoe om vrees te oorkom, wat vandag nog op ons elkeen van toepassing is.
God herhaal twee keer dat Josua sterk en vasberade moet wees (Josua 1:6-7). Daarop verwag God 'n reaksie van geloof — 'n optrede — van Josua. God maak hom nie sterk nie. God beveel hom om sterk te wees. Josua moes kies om gehoorsaam en moedig te wees.
Daarna gee God vir Josua die opdrag om sy wetboek te onthou (Josua 1:8). In die Woord van God is elke antwoord op ons vrae oor genesing en hoe om vrees vir die dood te oorkom. Hy maak sy plan (vir 'n lang lewe en gesondheid) duidelik, sy hart (sy hartsbegeerte is dat ons sal lewe) en sy voorsiening dat ons ons persoonlike belofte van genesing sal verkry (deur Hom is daar vir ons genesing).
God eindig sy gesprek met Josua deur hom weereens te vermaan dat hy sterk en moedig moet wees; maar hierdie keer sê Hy ook vir hom om nie bang of moedeloos te wees nie omdat Hy belowe om by Josua en die volk van Israel te wees, waar hulle ook al gaan (Josua 1:9). Om met God te kan saamstem en saam te werk, moet ons nie met ons vrees saamstem nie, maar vertrou dat God altyd by ons is.
Net soos met Josua, wanneer ons 'n ernstige situasie in die gesig staar — of dit 'n lewensbedreigende siekte, die verlies van 'n verhouding, hartseer of lyding is — roep God ons om sy beloftes te glo. Ons moet moed skep en vrees teenstaan om in ons eie beloofde land van gesondheid en vernuwing te kan inbeweeg.
Ten spyte van die bewyse in die Woord van God, is ons dikwels bang om te glo ons sal genees word. Ons vertrou nie dat God so goed is dat Hy gewillig is om ons te genees nie. Soms is ons so bang om teleurgestel te word dat ons nie genoeg geloof het om gehoorsaam te wees nie. Ander begin die stryd weer sterk, maar verloor momentum omdat vrees hulle gedagtes inneem en dit elke dag 'n bietjie van hulle geloof steel.
Soms luister ons meer na ons simptome as na die stem van God. 'n Liggaam wat vol pyn is, uitmergelende behandeling en baie toetse skree oorverdowend "siekte", sodat ons die leuen glo. Ons kan baiekeer nie oor ons ondervindinge kom nie. Ons het dalk 'n vriend of gesinslid gesien ly en sterf, en die teleurstelling verbloem ons hoop en geloof soos 'n berg. Om die "slegte" dinge te oorkom en te glo God is "goed" word vir ons 'n onoorkomelike versperring. Nietemin, as ons nie leer om vrees te oorkom nie, sal ons in aanhoudende angs leef en God se plan dwarsboom wat vir ons genesing en oorwinning wil bring.
Ek verstaan dat dit nie maklik is om God te glo en te kies om dapper te wees nie; ook beteken dit nie dat ons nooit sal twyfel of vrees nie. Dit beteken net dat ons gehoorsaam sal wees wanneer ons voor groot struikelblokke, simptome, en intimidasie te staan kom. Uiteindelik kom daar 'n tydperk in ons stryd wanneer ons ten volle kan rus in die hoop wat ons in God geplaas het, die resultate aan Hom oorgee en in sy getrouheid glo, eerder as om vir ons genesing te wag. Ons weet, of ons in hierdie lewe genees word of nie, dat God getrou is. Wanneer ons met oorgawe ons harte teen vrees beskerm en onwrikbaar aan God se beloftes vashou, sal ons die beloning van vrede en hoop ondervind.
Daardie dag in die chemoterapiekamer het tot 'n week of twee van intense onbestendigheid gelei. Ek moes na my man en vriende uitreik, my vrese bely en oor en oor vir gebed vra. Ek het baie sulke skermutselinge gehad en elke keer moes ek kies om God se opdrag aan Josua te volg om vrees te oorkom. Ek skep moed. Ek staan op die Woord van God. Ek gebruik sy beloftes om my hart vasberade te beskerm en teen vrees te versterk. Terwyl ek volhard, word ek met God se vrede gevul. Ek mag die geveg dalk gekneus en gehawend verlaat, maar ek is nie verslaan nie.
Ek hou van wat Dawid in Psalm 27:3 sê: "Al sou 'n leër teen my stelling inneem, sal ek nie bang word nie. Selfs al sou die aanval op my begin, sal ek nog steeds vertroue hê." Dit maak nie saak hoeveel keer ons voor vrees te staan kom nie, ons kan ons selfvertroue en vrede behou deur in sy belofte aan Josua en aan ons te glo: "Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie" (Josua 1:5).
Jy verkry krag, moed en selfvertroue deur elke ervaring waar jy werklik tot stilstand kom en vrees reguit in die gesig staar. Jy sal vir jouself kan sê: "Ek het hierdie verskrikking deurleef. Ek sien kans vir die volgende een wat oor my pad kom." Jy moet dié ding doen wat jy dink jy nie kan doen nie.
~Eleanor Roosevelt
Memoriseervers
"Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom,deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom." (Jesaja 53: 4-5).
Aangaande hierdie leesplan

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.
More