Blywende Hoopគំរូ

Swaarkry Bring Hoop Voort
Lees: Romeine 5:1–11
SOAP: Romeine 5:3–5
Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.
Oordenking
Hoop. Dit is die verwagting van iets goeds. Dit is begeerte wat met verwagting gepaard gaan. Dit is vertroue om te wag op daardie goeie dinge, wat ook al om ons gebeur. Dit herinner ons dat ons ‘n positiewe uiteinde kan verwag, verligting van die swaarkry. Hoop kan egter ‘n waagstuk wees. Wat as daar nooit ‘n goeie uiteinde kom nie? Wat as die goeie wat ons verwag het, sleg blyk te wees? Wat as ons begeerte onvervuld bly?
Ons vestig ons hoop op allerhande dinge: geld, verhoudings, familie, gesondheid, status en reputasie. Daar is egter net een soort hoop wat ons nooit sal teleurstel nie. Hierdie hoop is op God se beloftes. Dit is die hoop wat ons in Jesus het, wanneer ons glo dat Hy deur sy dood die straf vir ons sondes gedra het en dat ons, deur in Hom te glo, ‘n verhouding met God en die ewige lewe kan hê. Hierdie hoop stel ons nooit teleur nie want dit is ingewortel in God se liefde.
Ons het hoop op grond van wat God vir ons gedoen het. Terwyl ons sondaars was, het Christus vir ons gesterf. As gevolg daarvan het God ons regverdig verklaar en ons van sy toorn gered. Ons is deur sy dood gered, vir ewig met God versoen en het ‘n hoop ontvang wat nooit sal beskaam nie.
Die hoop wat ons in Christus het, het teen ‘n prys gekom. Christus het gely en gesterf sodat ons hierdie hoop kon hê. Terwyl ons Hom volg, sal ons ook swaarkry verduur, maar dié swaarkry is rede tot blydskap! Swaarkry kweek volharding by ons, leer ons wat dit beteken om aan te hou en God te vertrou wanneer ons omstandighede vir ons sê om tou op te gooi. Daardie volharding bou karakter in ons en herinner ons keer op keer as ons swaarkry verduur aan God se getrouheid. En uiteindelik word hierdie karakter hoop, ‘n vreugdevolle en seker verwagting van ewige verlossing.
God gee ons hoop vanweë sy groot liefde vir ons. Hy het nie nodig gehad om ons te vertel van sy plan dat Christus weer sou kom en dat ons vir ewig saam met Hom gaan wees nie. Maar Hy het ons vertel sodat ons hoopvol kan leef met die verwagting dat die goeie gaan kom, selfs terwyl ons swaarkry verduur. Ons kan moeg raak, maar ons hoop verander nie omdat ons God nie verander nie. Ongeag of ons vreugde of hartseer ervaar, ons het altyd ‘n hoop wat nooit sal beskaam nie.
អត្ថបទគម្ពីរ
អំពីគម្រោងអាននេះ

"BLYWENDE HOOP" is ‘n ses weke lange Bybelstudie oor hoe om hoopvolle lewens te bou. Terwyl ons bestudeer wat die Skrif sê oor hoop en hoe om hoopvol te leef, sal ons die ongelooflike beloftes van God en sy oneindige liefde ontdek wat ons deur tydperke van swaarkry lei en versterk. Wanneer ons in hoop wandel, kan ons elke dag met vreugde en vrede leef, ongeag ons omstandighede.
More