Die Verlosser wat Uitreik na Ons - 'n Studie oor die Nabyheid van God van die Krip tot die KruisVoorbeeld

Josef se Geloofstap
Lees: Matteus 1:18-25
SOAP: Matteus 1:22-23
Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:
“Die maagd sal swanger word en 'n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.
Oordenking
Josef het planne vir sy lewe gehad. Maar een gesprek met sy verloofde, Maria, het sy wêreld en sy planne verpletter. Maria was swanger, en nie deur hom nie. Hy moes gebroke, geskok en onseker gevoel het oor wat om volgende te doen.
Josef was ‘n goeie man. In plaas van om in woede of uit skaamte te reageer, het hy oorweeg om die verlowing stil-stil te verbreek. Hy wou Maria nie in die verleentheid stel nie.
Maar toe het God uitgereik na Hom.
‘n Engel het in ‘n droom aan Josef verskyn. Die kind in Maria se skoot is deur die krag van die Heilige Gees verwek. Hierdie kind sou Jesus genoem word, en Hy sou sy volk van hulle sonde verlos.
Sonder om te stry of te huiwer, het Josef gehoorsaam en gedoen wat die Here beveel het. Hy het Maria as sy geliefde vrou geneem en geloof bo vrees gekies, toewyding bo gemak, en stille gehoorsaamheid bo om te verduidelik wat onverklaarbaar was.
Josef se verhaal herinner ons dat God se nabyheid dikwels gepaardgaan met ‘n eenvoudige opdrag, ‘n fluistering om te gehoorsaam, of ‘n geleentheid om Hom te vertrou selfs wanneer ons nie verstaan nie. Wanneer God tot ons nader, kan Hy ons planne verander, maar dit is nooit sonder ‘n doel nie.
Net soos Josef word ons uitgenooi om deel te wees van God se groter verhaal. Ons verstaan dalk nie altyd heeltemal wat God van ons vra nie, maar Hy sien ons stille getrouheid en elke stap van gehoorsaamheid. En Hy belowe om elke tree van die reis saam met ons te wees.
Hy is Immanuel – God met ons.
Gebed
Here, dankie dat U my wys dat geloof standvastig, stil en vol vertroue kan wees. Help my om die een te wees wat geloof bo vrees, toewyding bo gemak, en gehoorsaamheid bo begrip kies. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Van die krip tot die kruis tot by die belofte van sy wederkoms, het Jesus nog altyd uitgereik na ons. Nie om te oordeel nie, maar om te red. Nie om te eis nie, maar om te gee. Nie om op ‘n afstand te bly nie, maar om by ons te woon. Hierdie Bybelstudie neem jou op ‘n reis deur sleutelgedeeltes in die Skrif wat die nabyheid van Christus openbaar.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.lovegodgreatly.com/Afrikaans









