Ek Voel VerwerpVoorbeeld

Wanneer verwerp God mense?
Totale en finale verwerping deur God vind eers plaas na die dood by die finale oordeel. Die deur tot genade bly oop tot die dood. "Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie" (Johannes 6:37 AFR83).
Na die dood sal daar finale verwerping wees vir diegene wat nie berou oor hulle sonde het nie en hulle nie tot God bekeer het nie. Hierdie verwerping is nie 'n lukrake, impulsiewe of emosionele besluit van God se kant nie. Dit is gebaseer op 'n regsproses (juridiese proses). Jesus, as die regverdige regter, verklaar: "Dan sal Ek openlik vir hulle sê: 'Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree'" (Matteus 7:23 AFR83).
Terwyl ons nog lewe, kan God sy aktiewe seën, leiding of beskerming onttrek. Dit gebeur tipies wanneer mense bly volhard in sonde, die waarheid bly verwerp, hul harte bly verhard en weier om na die Heilige Gees te luister, of wanneer hulle Hom volhardend as Here en Verlosser verwerp. Tog is daar genade solank ons lewe. Die sleutel tot hierdie genade is sondebelydenis en berou, soos ons in 1 Johannes 1:9-10 lees.
Soms eis mense dat God vir hulle sekere dinge gee, en wanneer Hy dit doen, maai hulle wat hulle gesaai het. Eiesinnigheid en om te kies vir ons eie voordeel, wellus en om dinge ter wille van ons plesier te doen, het gewoonlik verwoestende gevolge. Soms gee God vir ons wat ons vra, maar die uitkoms is nie positief nie. "…dat ek die voorspoed van u uitverkorenes mag aanskou en mag deel in die blydskap van u volk, my mag verheug saam met dié wat aan U behoort. Ons het gesondig, net soos ons voorvaders, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig" (Psalm 106:5-6 AFR83). Kyk ook na Psalm 106:14-15 (AFR83): "Hulle het skaamteloos meer kos geëis in die woestyn, daar in die barre wêreld het hulle die geduld van God beproef. Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar hulle van siekte laat wegteer."
God dissiplineer mense, maar hierdie dissipline moet nie as verwerping gesien word nie. In Psalm 81:11-12 (AFR83) lees ons hoe God Israel gedissiplineer het: "Ek hulle laat begaan in hulle koppigheid en hulle het hulle eie sin en wil gevolg." Wanneer hulle egter in gebrokenheid en desperaatheid tot God geroep het, was Hy genadig.
Soms is God streng in sy oordeel en waarskuwings. Ons moenie met God "speel" nie, en ons moet Hom nie versoek nie. Ons moet die goedheid van God verstaan sonder om sy strengheid ligtelik op te neem: "Let dan op die goedheid en strengheid van God: sy strengheid oor die afvalliges, en sy goedheid oor jou. Maar dan moet jy uit sy goedheid lewe, anders kan jy ook uitgekap word" (Romeine 11:22 AFR83).
Aangaande hierdie leesplan

Die meeste van ons ken die gevoel van verwerping, om uitgesluit te voel, "to feel abandoned." Dit is 'n toenemende ervaring by baie mense. Ons samelewing en die groei van sosiale media, intensifiseer die gevoel van eensaamheid en daar is 'n toeneme in woede. Hierdie leesplan spreek hierdie emosie aan.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: disciple4.com