Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Delf dieper deur Openbaring

DAG 10 VAN 28

God word as Skepper in die hemelse troonsaal aanbid – Openbaring 4

Die Here God, die Almagtige op sy troon, openbaar aan Johannes sy verseëlde agenda vir die heelal (Openb. 4) wat deur die Lam van God oopgemaak en in werking gestel word (Openb. 5).

Dit is weereens Jesus wat die leiding neem om Johannes in te lig met ‘n stem soos ‘n trompet, soos dit was met die boodskap aan die gemeentes (vgl. Openb. 1:10). Dit is die Drie-enige God aan die werk. Ons hoor die stem van Jesus en sien Hom in die hemel as die Leeu-Lam. Ons neem die Gees se werk waar wat van Johannes besit neem en verteenwoordig word in die sewe vuurfakkels rondom die troon. Ons sien saam met Johannes die Skeppergod wat op die troon sit in onuitspreeklike heerlikheid.

Die troon van God is die middelpunt van alles in die hemel sowel as alles in die heelal. God is die geestelike middelpunt van alles wat bestaan, soos die son die middelpunt van ons sonnestelsel is. Alles wentel om Hom. Alles aanbid Hom. Alles word deur Hom bepaal.

Alles wentel om God

Waar die eerste drie hoofstukke gehandel het oor Jesus se teenwoordigheid op aarde te midde van die gemeentes, handel die volgende agt hoofstukke oor die Drie-enige God se teenwoordigheid in die hemel wat op alles wat bestaan in die heelal ’n verlossende en veroordelende impak het. Daarom word Johannes opgeneem deur die geopende deur in die hemel om vanuit die hemelse perspektief te kan besef wat hierna moet gebeur.

God se troon in die hemel word met min detail beskryf, behalwe die omringende reënboog wat soos smarag (groen) lyk en dat vanuit die troon weerligstrale, ’n gedreun en donderslae gekom het. Die troon bevestig God se heerlikheid en heerskappy oor alles vanuit die hemel, ten spyte van die pogings van die keisers en konings van die aarde om hulleself te laat geld in die prag en praal van hulle koninkryke.

God se voorkoms word met edelgesteentes beskryf – jaspis [of opaal] – dis gewoonlik dofgeel tot rooi, maar hier waarskynlik bedoel as ’n wit kristalhelder steen [vgl. Openb. 21:11 wat dit só beskryf] en karneool [of sardoniks] – dit is helderrooi, wat sy heerlikheid uitbeeld. Sommige verklaarders sien in die jaspis iets van God se heiligheid, in die karneool iets van sy oordeel en in smarag iets van sy genade.

Rondom die troon van God het sewe vuurfakkels gebrand, die sewe Geeste van God, die simbool van die Heilige Gees. In ‘n volgende sirkel na dié vuurfakkels was ’n kristalhelder see van glas.

Twee groepe wat God in die hemel aanbid, word beskryf: die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge wat in ‘n volgende sirkel rondom die troon sit.

Die vier lewende wesens

Die vier lewende wesens verteenwoordig die hele skepping. Hulle het ses vlerke soos die serafs van Jesaja (Jes. 6:2) en is vol oë aan die voor- en agterkant, soos met die gerubs van Esegiël se wiele vol oë (Eseg. 1:18).

Hulle stel God se alwetendheid (oë) en alomteenwoordigheid (vlerke) voor in die hele skepping (Du Rand, A-Z).

In hulle aanbidding verteenwoordig hulle dan ook die hele skepping met die gesigte van die leeu, bul(kalf), mens en arend. Interessant genoeg het die Joodse rabbi’s dié vier voorstellings as verteenwoordigend van die hele skepping soos volg uitgelê: dit stel die edelste (leeu), die sterkste (bul), die slimste (mens) en die vinnigste (arend) in die skepping voor.

Nog ‘n ander interpretasie is om die leeu as simbool van die wilde diere te neem, die bul as simbool van die mak diere, die mens uiteraard as simbool van die mensheid en die arend as simbool van die voëls in die lug.

24 Ouderlinge

Rondom God se troon is die 24 trone van die ouderlinge – waarskynlik ’n simboliese getal vir die 12 aartsvaders van die Ou Testamentiese stamme en die 12 apostels van die Nuwe Testament. Hulle verteenwoordig die hele volk van God, in die ou bedeling/verbond, sowel as in die nuwe bedeling/verbond.

Let op dat die vier lewende wesens God aanbid “sonder om te rus” en “dag en nag”, d.w.s. 24 uur elke dag. Hulle aanbid God vir sy grootheid en sy heerlikheid soos uitgedruk in sy alwetendheid en alomteenwoordigheid in die hele skepping.

Daarin volg die ouderlinge hulle na, wat beteken dat aanbidding die hele skepping en die hele Godsvolk se primêre en belangrikste roeping is. Dit moet alles kleur wat ons doen, dag en nag, vir altyd, eintlik sonder ophou.

Boodskap en betekenis

Openbaring 4 begrond dus alles wat hierna gebeur, elke detail daarvan, in God se teosentriese heerskappy wat alles omvat. Hy is nie net die Een wat was nie, maar ook die Een wat is, sowel as die Een wat kom, soos dit van Jesus vroeër gesê is. Daarin lê ons hoop en ons verwagting.

Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Openbaring

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com