Hoe is God? 'n 21-dag LeesplanVoorbeeld

God Is Vrede
Ons lees in Rigters 6:11-24 hoe Gideon weggekruip het, kop omlaag en hard aan die werk. Baie mense kan dieselfde van hul daaglikse lewe sê. Hoe dikwels hou ons maar aan swoeg sonder om ons oë van ons werk af weg te neem om die Here te ontmoet?
God roep vir Gideon om van sy take af weg te kyk en sy oë op Hom te rig. Wanneer God die besonderhede van sy plan met Gideon deel, is dit duidelik dat Gideon se eiewaarde ver tekortskiet van God se siening van hom. Gideon is so onkant gevang dat hy God bevraagteken (Rigters 6:15). In Gideon se eenvoudige pleidooi begin hy: "... Ekskuus Meneer ..." en vertel eintlik vir God: "U maak 'n fout! Nie ek nie! Ek is swak, glad nie toegerus nie en nie in staat nie! U kan seker nie regtig vir my in gedagte hê nie, Here!" Die onbekende laat Gideon van vrees bewe en dit is ook duidelik hoorbaar in sy woorde.
Wanneer ons twyfel en vrees ervaar, kan ons weet dat ons wel vrede kan hê.
Dit is egter nie die einde van die verhaal nie. Selfs wanneer ons twyfel en vrees ervaar, kan ons vir seker weet dat ons vrede kan hê. Deur God se oneindige goedheid, vul Hy Gideon met die volheid van sy vrede. Hy sal ook dieselfde vir ons doen. Gideon is so oorweldig na sy ontmoeting met God, dat hy onverwyld alles los, 'n altaar bou en die Here aanbid. Hy noem die altaar Jehova-Shalom (Vrede) of "... Die Here gee rus ..." (Rigters 6:24). Op daardie oomblik verander hy van twyfel-vervuld na vrede-vervuld.
Wanneer ons tyd aan die Here wy deur gebed, lofprysing en Bybelstudie, kan ons die vrede ervaar wat slegs van ons Skepper af kan kom. Hy weet wat ons in die gesig staar en waarvoor ons bang is, en Hy is getrou om ons toe te rus sodat ons in vertroue vorentoe kan beweeg. In vrede.
Oordink die volgende:
- Dink aan een aanpassing wat jy in jou daaglikse roetine kan maak om gereelde stiltetyd met ons Vader te prioritiseer.
- Het jy al God se vrede in jou lewe ervaar?
- In watter lewensarea het jy 'n behoefte aan God se vrede?
Aangaande hierdie leesplan

Hoe is God? Dit is 'n groot vraag, maar 'n belangrike een. Wat ons van God verstaan, sal bepaal hoe ons onsself met Hom vereenselwig. Hoe meer ons van God weet, hoe beter sal ons verhouding met Hom wees. Regdeur die Bybel openbaar God wie Hy is. Elke naam van God vertel ons iets van Hom. Oordink God se karakter oor die volgende 21 dae en kyk hoe jou liefde vir Hom groei.
More