Hoe is God? 'n 21-dag Leesplan

Oordenking

God Is Oppermagtig



Of ons nou die lotery wen of ons laaste R85 op 'n hamburger spandeer, verkies ons om op 'n oppermagtige God te vertrou. Ons vertrou op God omdat Hy 'n goeie vader is wat net goeie geskenke aan sy kinders wil gee. "Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is" (Romeine 8:28).



God is bo alles verhewe en reël elke besonderheid van ons lewens, elke minuut van elke dag. Die wete dat God oppermagtig is, beteken dat ons Hom kan vertrou, ongeag ons omstandighede. John Piper het eenmaal gesê: "God is gedurig, gelyktydig aan die werk met honderde, duisende dinge ... Hy kan ons dalk een daarvan wys." 



Soms gee die Here ons 'n kykie in die groter prentjie, sonder dat Hy dit hoef te doen. In Job 38:4 herinner God vir Job en sy vriende hoekom Hy nie Homself aan hulle hoef te verduidelik nie. Hy vra aan hulle: "Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het." En: "Weet jy waar die daeraad vandaan kom, die daeraad wat lig oor die hele aarde bring?" (Job 38:12b) 



Wanneer ons nie 'n aanvoeling vir die waarheid het nie, soek ons daarna tot ons verstand die verbinding maak, sodat ons harte dit kan voel. God, wat sy Seun gestuur het om vir ons sonde te sterf, het die reg om op te tree soos Hy dit goeddink, want: "My gedagtes is nie julle gedagtes nie ... en so is my optrede verhewe bo julle optrede" (Jesaja 55:8-9). 



Hebreërs 11:1 praat so oor geloof: "Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie." Ons glo dat die Here se oppergesag heers en ons kies om in daardie waarheid te lewe.



Oordink:




  • Is dit vir jou maklik om God te vertrou om besluite oor jou lewe te neem? Hoekom of hoekom nie?

  • Is daar 'n area in jou lewe waar jy God se opperheerskappy bevraagteken? Watter belofte wat God in die Bybel maak, kan jy op daardie omstandigheid toepas?