20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

20/20: God's Vision For My Life

DAG 13 VAN 35

Valse Bewyse Wat Soos Die Waarheid Lyk

Deur Linda Godsey

"Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord, Hy het my gered uit alle doodsgevare" Psalm 34:5.

Het jy geweet dat daar 'n leuen agter elke vrees skuil? Ek het eenkeer iemand hoor sê dat die letters van die woord vrees (fear) vir "False Evidence Appearing Real" staan. Met ander woorde, vrees ontstaan wanneer ons leuens glo.

Sommige vrese is redelike, Godgegewe natuurlike reaksies — soos wanneer jou fisieke of sielkundige veiligheid in gevaar is. Hierdie soort vrees hou jou veilig en waaksaam teen gevare. Dit is verstandige, versigtige vrese. Daarenteen het onredelike vrese geen regverdiging of basis nie, en die vyand gebruik dit om vestings in jou denke tot stand te bring. Geestelike slawerny is meestal in onredelike vrees geanker. Die vyand jok vir jou oor wie jy is, wie God is en wat ander van jou dink. 'n Goddelike vrymaking van hierdie leuens is nodig om ware vryheid te ervaar.

Jy sal wel soms vrees ervaar; dit beteken net dat jy nie uit skok sal weghardloop of vlug as jy voor 'n uitdaging te staan kom nie. Dit beteken ook dat jy nie sal terugdeins of huiwer om na die volgende vlak te beweeg waarheen God jou roep nie. Weier om die vyand se leuens te glo wat jou van jou goddelike bestemming weerhou.

Hoe weerstaan ons egter die duiwel se leuens? Volgens Jakobus 4:7, moet ons eenvoudig onsself: “aan God onderwerp, die duiwel teenstaan en hy sal wegvlug.” Vra jouself af: “Wat sê die Woord van God oor hierdie saak waarvoor ek bang is? Wat is God se waarheid?” Om vry van vrees te wees, moet jy eers leer om deur die filter van God se perspektief te kyk eerder as deur jou eie menslike beperkings of die duiwel se leuens.

Jare gelede het God my gewys dat die terreine waarop ek met vrees sukkel, die plekke is waar ek sy liefde nie ken en ervaar nie. Volgens die Woord van God dra Hy my beste belange op die hart! Die Skrif sê vir ons: “Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie” (1 Johannes 4:18). Dit is een van die liefdevolste verse in die Bybel, en dit is 'n stukkie van God se hart aan jou en my.

Toe my gesin in Kalifornië gewoon het, het 'n man met 'n sterk profetiese gawe die personeel bedien van die kerk waar ek gewerk het. Ek onthou baie duidelik wat hy van my gesê het. Hy het my by die naam genoem en gesê: "God gaan jou verlos van 'n gees van vrees." Toe haal hy 2 Timoteus 1:7 vir my aan: "Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing." Ondanks die feit dat ek hom geglo het, het ek nie die volle mate van slawerny in my lewe begryp nie. In die daaropvolgende dae het ek die Here deur gebed en vas opgesoek om te verstaan wat hy bedoel het.

Tydens my vastyd het God my 'n visioen gegee van 'n lang, swart, kronkelende slang wat styf om my liggaam gedraai is en al my bewegings belemmer. Hy het my gewys dat vrees my lewe lamlê en my onbevoeg maak. In my geval het vrees my lewe aanvanklik deur voorgeslagte betree — ek is in 'n vrees-gebaseerde familie gebore. Gebeure en ervarings gedurende my kinderjare het daardie vestings verder bevestig. Ek het nie besef tot watter mate die vyand my van my godgegewe bestemming beroof het nie. Deur sy genade het God my bevry van 'n gees van vrees en ek het my reis begin deur in daardie vryheid te leef … 'n reis wat ek vandag nog voortsit. My hemelse Vader ontbloot voortdurend leuens en bedrog waar die vyand my van God se seëninge wil beroof.

'n Aantal jare gelede het ek hierdie aanhaling gelees wat wonderlik saamvat wat God my meer as 25 jaar gelede oor vrees gewys het:

Vrees is 'n dief. Dit kalwe ons geloof weg, plunder ons hoop, steel ons vryheid en ontneem ons van die vreugde om 'n oorvloedige lewe in Christus te leef. Fobies is soos die kronkelinge van 'n slang — hoe meer ons daaraan oorgee, hoe stywer druk hulle ons vas. Moeg van veg, swig ons dan voor die versoeking en gee ons aan ons vrese oor. Wat aanvanklik na 'n maklike uitweg gelyk het, word in werklikheid 'n gevangenis van ongeloof — 'n vesting van vrees wat ons gevange hou. (Neil Anderson, "Freedom from Fear" )

Die apostel Paulus waarsku ons om nie onkundig te wees oor die vyand se skelmstreke nie. Ek het vroeg al geleer dat die vyand homself dikwels vermom wanneer hy jou nader! Vra die Here gereeld om jou vrese te identifiseer. Watter gebeure in jou lewe het die deur vir daardie vrees oopgemaak? Watter leuens het jy geglo?

Vra die Here vir 'n "goddelike uitruiling" — 'n vervanging van jou vrees deur God se liefde. As jy die Here ernstig smeek vir vrymaking, sal Hy jou van al jou vrese verlos.

Doen die ding wat jy die meeste vrees en die dood van vrees is gewis.
~ Mark Twain

Memoriseervers

“"Die Here" beteken hier "die Gees" en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid" 2 Korintiërs 3:17.

Aangaande hierdie leesplan

20/20: God's Vision For My Life

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com