20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

20/20: God's Vision For My Life

DAG 11 VAN 35

Vryheid Om Jouself Te Wees

Deur Bob Hamp

"Die wet wat in letters op klip gegraveer is, het in heerlikheid gekom. Hierdie heerlikheid, wat tog gou sou verdwyn, het op die gesig van Moses so geskitter dat die Israeliete nie na hom kon bly kyk nie. As die bediening wat tot die dood lei, met soveel heerlikheid gekom het, hoeveel groter sal die heerlikheid van die bediening wat deur die Gees geskied, dan nie wees nie?" 2 Korintiërs 3:17–18. 

Die kind is gebore … heeltemal onbewus daarvan dat hy in 'n gevangeniskamp is. Sy ouers is nog voor sy geboorte hierheen weggevoer. As gevolg hiervan is die enigste wêreld wat hy ooit geken het 'n donker landskap omring deur doringdraad en wagtorings. Terwyl hy grootgeword het, het hy gesien hoe ander verlangend na die gebiede anderkant die heinings kyk. Hy het die begeertes van sy mede-inwoners begin deel om aan die anderkant van die tralies te wees. Alhoewel hy nooit die anderkant geken het nie, het hy geweet dat hy die plek waar hy was, wou verlaat. Hy het geweet dat "daar buite" iets is wat vryheid genoem word.

Hy het nog nooit 'n sokkerbal oor 'n groen veld geskop nie. Hy het nog nooit in die golwe op 'n strand gehardloop nie. Hy het nog nooit sy huis verlaat om in die berge te gaan piekniek hou nie. Die seun se begrip oor vryheid was beperk — dit was uitsluitlik saamgestel uit dinge wat hy wou agterlaat. Met ander woorde, hy het geweet wat hy nie meer wou hê nie en waar hy nie wou wees nie, maar hy het geen idee gehad wat hy regtig wou hê en waar hy regtig wou wees nie.

Soos daardie kind, het elkeen van ons die wêreld binnegekom nadat Adam en Eva die mensdom tot sonde gelei het. Ons is na God se beeld geskape en is heerskappy oor sy skepping gegee. Sedert Adam en Eva het die skepping egter oor ons geheers. Ons het geen manier om te onthou hoe dit in die tuin van Eden was nie. Niemand het nog ooit op 'n berg gestaan en God gehelp om aan diere name te gee nie. Ons het nog nooit langs die Lewende Woord gesit en geleer hoe die heelal werk nie. Ons moet nog ervaar wat dit werklik beteken om oor die skepping te heers. Ons het geen ander keuse as om soos gevangenes te dink nie.

Wanneer ons aan vryheid dink, dink die meeste van ons aan die veranderinge wat ons begeer: "Ek wil ophou om so kwaad te wees." "Ek wens ek kan ophou drink." "Ek moet 'n beter pa wees." Ons staan agter die tralies van ons eie menswees en droom verlangend oor hoe dit sou kon wees as ons omstandighede anders was. Ons wens ons kon ons gedagtewêreld beheer of ons gewoontes in ooreenstemming met God bring. Ons weet waarvan ons vryheid wil hê, maar ons het geen idee wat dit werklik beteken om in vryheid te lewe nie.

Ironies genoeg, beskryf die Bybel nie vryheid deur vry van iets te wees nie. 2 Korintiërs 3:17 sê: "“Die Here” beteken hier “die Gees”, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid." Volgens hierdie vers is vryheid nie die afwesigheid van iets nie; dit is die teenwoordigheid van Iemand — die Gees van die Here.

Vryheid is wanneer jy op jou Maker kan reageer soos die man of vrou wat Hy jou geskep en verlos het om te wees. Vryheid is wanneer jy in jou hart, verstand en verhoudings kan funksioneer as 'n lewende voorstelling van God hier op aarde.

Vir die man in die tronk is vryheid nie wanneer die deure oopgemaak word nie; dis wanneer hy die man kan wees wat hy geskep is om te wees, selfs terwyl hy nog agter tralies is. Die Jode in die Nazi-doodskampe het dit bewys toe hulle onder mekaar gesê het: "Hulle kan ons verplig om na ons dood te marsjeer, maar hulle kan ons nie verplig om te haat nie." 'n Man wat God in sy siel dra, kan "deur donker dieptes gaan en nie bang wees nie" (Psalm 23:4).

Wanneer jou hart vry is om te aanbid, is dit moeilik om die bose nog te huisves. As jy bemagtig word om ten diepste lief te hê, verloor vrees sy greep. Wanneer jy diep drink uit die bron van Lewende Water, is dit onwaarskynlik dat jy na ander plesiere sal smag. Die dinge wat jou eens aangegryp het — die tralies van jou ou gevangenis — verdwyn of verloor hul greep in die werklike en lewende teenwoordigheid van die Bron van alles wat jou siel voed. En in die teenwoordigheid van die Een wat jou geskep het as die mens wat jy is, kan jy weereens die man of vrou wees wat Hy jou geskep het om te wees.

Vryheid gaan nie oor ons vermoë om struikelblokke te oorkom nie; vryheid gaan oor die vervulling van God se ontwerp. Dit gaan nie oor wat ons doen nie; maar oor wie ons is. Om hierdie rede lyk vryheid vir elke mens anders. Wanneer jy besef dat jy nie soos iemand anders behalwe jouself geskep is nie, word jy vry van die wurggreep om soos ander te probeer wees. 'n Musikant kan dalk alleen vryheid met sy kitaar vind; en 'n dokter vryheid vind in 'n afgeleë land, omring deur diegene wat genees moet word.

Om te probeer om soos enigiemand anders te wees, is tevergeefs … dit sal jou net frustreer en moedeloos laat voel, omdat jy nie soos iemand anders as net jouself kan wees nie. Om te probeer om jou houding en gedrag onder beheer te kry, is slegs 'n afleiding van die dieper, waardevoller doel om die Gees van God wat binne-in jou is, vry te laat. Onthou, oral waar die Gees van die Here is, is daar vryheid … en die Gees van die Here is in jou!

Word jouself. Waag om die unieke vingerafdruk van God wat jy is, te ontdek. Jy is sonder vergelyking en sonder gelyke … daar is niemand soos jy nie.

Om te wees of nie te wees nie, dit is die vraag.
~ William Shakespeare

Memoriseervers

"“Die Here” beteken hier “die Gees”, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid." 2 Korintiërs 3:17.

Aangaande hierdie leesplan

20/20: God's Vision For My Life

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com