20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

20/20: God's Vision For My Life

DAG 12 VAN 35

Die Enigste Stem Wat Saak Maak

Deur Mallory Bassham

"Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak" 2 Korintiërs 10:4–5.

In wese is ek lief vir mense. Ek wil weet wat ander gelukkig maak, wat hulle dink en waarom. Dit is waarskynlik die rede waarom ek graag outobiografieë lees en tyd bestee op Facebook, Twitter en LinkedIn. Dit is egter ook moontlik 'n rede waarom my aandag so maklik afgelei word. Wanneer ek ook al in my kantoor werk, draai ek altyd weg van die deur af, want ek weet dat as ek mense sien verbyloop, sal ek wil gesels: "Haai! Hoe gaan dit? Wat gaan aan?" Dit is nie dat ek nuuskierig is nie; ek is net baie weetgierig. Alhoewel ek weet dat dit goed is om gefokus te wees, kom dit glad nie vir my maklik nie. Dit was iets waaraan ek hard moes werk in my lewe.

My aandag word ook maklik afgelei deur 'n menigte ander dinge: tydskrifte, taaklyste, die watertand aroma wat uit die oond kom, my dors, 'n boek se titel wat ek uit die hoek van my oog sien, wat my man op daardie oomblik doen, 'n geluid wat ek hoor, en my Golden Retriever wat om aandag tjank.

Ongelukkig word my aandag ook maklik afgelei deur die stemme in my kop. Dikwels, as ek iets belangriks moet bereik, soos die voorbereiding van 'n les, 'n artikel of 'n toespraak, probeer hierdie stemme my aanhoudend oortuig dat ek nie daartoe in staat is nie, waardeloos is en regtig niks het om te sê nie. Hulle fluister onsekerhede oor wie ek is, my ervarings uit die verlede en my egtheid. Dit het my voortdurend gekwel.

Het jy al hierdie fluisteringe gehoor? Ek het nooit geweet wat om hiermee te doen nie. Ek het nie verstaan dat die Satan 'n bedrieër, 'n skelm en baie subtiel is nie en dat hy wou hê ek moet na sy stem luister nie. Die Satan is 'n leuenaar, hy is goddeloos en daarop uit om jou te dwarsboom … daarom word hy die vyand genoem! Sy doel is nie net om jou te irriteer, ontstel of sleg te laat voel nie; die Bybel sê vir ons dat hy wil steel, slag en uitroei (Johannes 10:10). Hy is op soek na jou siel — die mens wat jy is. Een van sy primêre taktieke is om jou gedagtes te voed met slim uitgedinkte gedagtes van irritasie, ontevredenheid, twyfel en vrees.

God daarenteen, is heeltemal anders. Hy is getrou. Hy is standvastig en waar. Hy kan altyd vertrou word. Klaagliedere 3: 22–23 sê: “Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.” Die vyand weet wanneer jy God sien vir wie Hy regtig is, al die oogklappe, leuens en rookskerms sal verdwyn. Jy word baie lief vir God en wil Hom met jou hele hart dien.

Die Satan probeer dus sy verraderlike strategie implementeer om jou te oortuig dat God nie is wie Hy sê Hy is nie en dat sy Woord nie waar is nie. Hy neem jou gevange met slegte kerk-ondervindinge, eienaardige of venynige mense, en wanfunksionele gesinne en ouers. Hy herinner jou aan kwetsende opmerkings en verkeerde dinge wat mense vir jou gesê of aan jou gedoen het. Hy probeer jou oortuig dat God nie regtig aan jou kant is nie.

Ek weet regtig nie hoekom dit vir ons so maklik is om na daardie leuens te luister en dit te glo nie. Ek weet egter dat God ook praat. Ek weet dat sy passie en liefde vir jou eindeloos is. Jy kan kies watter stemme jy toelaat om jou te beïnvloed. Totdat jy dit self besef, sal jy nooit kan optree en regtig kan veg nie.

Jy moet besef dat jy in 'n geveg is … 'n stryd om jou denke en hart te wen. Efesiërs 6:12 sê: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.” 

Die vyand doen alles in sy vermoë om bewyse aan jou gedagtes voor te lê wat jou hart deurmekaar maak. Daarom moet jy jou gedagtes vul met die dinge van God en sy koninkryk. Net soos wat banktellers moet leer hoe om vervalste geld te herken deur die egtheid van regte geld te bestudeer; op dieselfde manier verkry ons gesag oor die vyand deur die Woord van God te bestudeer en tyd saam met Hom deur te bring.

Die stryd is 'n voortdurende proses, maar die waarheid van die Woord van God maak jou vry en gebed en lof is wonderlike wapens! Vra God dus om jou te help om sy stem te hoor en te glo — die enigste stem wat saak maak. Hy is aan jou kant, bring jou nader aan Hom, glo in jou en is gereed om jou te bemagtig met sy waarheid en krag. Staan op! Wees waaghalsig! Wees aggressief om vir jou oorwinning te veg.

Moet nooit, ooit moed opgee nie.
~ Winston Churchill

Memoriseervers

"“Die Here” beteken hier “die Gees”, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid" 2 Korintiërs 3:17.

Aangaande hierdie leesplan

20/20: God's Vision For My Life

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com