20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

20/20: God's Vision For My Life

DAG 10 VAN 35

Anderkant Teleurstelling

Deur Tommy H. Briggs

"U is goed en U doen goed; leer my u voorskrifte." Psalms 119:68

Die man het op presies dieselfde plek gelê waar hy jare lank al gelê het. Kreupel deur verlamming gedurende die 38 jaar van sy lewe, het die man vasgehou aan 'n desperate hoop dat hy op die een of ander manier die eerste persoon sou wees wat die bad van Betesda kon binnegaan wanneer die engel van die Here afkom om die waters te roer. Die man het geweet as hy vóór iemand anders in die bad kon kom, hy van sy verlamming genees sou word. Omdat hy egter deur 'n groot menigte siek mense omring was — ander wat blind, verlam en kreupel was — het hy nie veel kans gehad nie.

Op 'n dag het Jesus by die bad verbygekom en die man op sy strooi mat sien lê. Jesus het geweet dat die man al lank daar was, en vra hom: "Wil jy gesond word?" Die siek man het skaars opgekyk, maar sy stem ingespan om te praat en gesê: "Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit as die water in beweging kom nie; en terwyl ek aansukkel, gaan iemand anders voor my in.”

Jesus kyk na hom en sê: "Staan op, tel jou goed op en loop." Die man het Jesus nie eens bevraagteken nie. Hy het net geglo en Jesus se opdrag gehoorsaam. Die man staan toe op bene wat hy vir 38 jaar nie gebruik het nie, hy tel sy goed op, en loop … heeltemal genees.

Maar wat van die skare mense wat nog daar was — die "groot menigte siek mense" wat die dag ook by die bad gewag het? Het jy al ooit gewonder hoe hulle gevoel het toe Jesus oorstap, die verlamde man 'n enkele vraag vra en dan wegstap nadat Hy hom genees het? Dink aan hul diepe teleurstelling of selfs hul afguns. Ek kan amper hoor hoe hulle roep en smeek dat Jesus ook na hulle toe moet kom.

Miskien sit jy by jou eie bad van Betesda — op 'n kritieke plek op jou lewensreis — en wag jy desperaat op die Here se ingryping. Miskien sukkel jy met siekte in jou liggaam of dié van 'n nabye geliefde; miskien het jou huweliksverhouding genesing nodig of wag jy op jou baas om te raak te sien dat jy regtig die een is wat die maatskappy aan die gang hou. In plaas daarvan word jy nie genees nie, jou geliefde sterf, jou huweliksmaat vra om 'n egskeiding, of jou baas skaf jou pos af. Dit wil voorkom asof die Here by jou verbygaan sonder om jou op te let of na jou te luister. Teleurstelling, moedeloosheid en wanhoop kom klop soms aan jou deur. Die vraag spook by jou: "Wat is so reg met almal en so verkeerd met my?"

Almal beleef teleurstelling en moedeloosheid. Aangesien dit waar is en die Bybel verklaar dat die Here in beheer is, het my oortuiging en ervaring my geleer dat die Here teleurstelling gebruik vir sy doeleindes. Sodoende stel Hy genesing in ons lewens vry. Ek het ontdek dat daar blywende genesing is wat net kom wanneer teleurstelling begin vervaag.

Ek het hierdie ontdekking ongeveer 15 jaar gelede vir die eerste keer op ons familie se dankseggingsbyeenkoms gemaak. Te midde van ons feesviering ontdek ons 'n klein swelsel op die bobeen van my tweejarige kleinseun, Adam. Na deeglike ondersoek deur sy pediater, is Adam na 'n onkoloog gestuur om 'n jarelange stryd met 'n seldsame vorm van kanker te begin. As familie het ons bymekaargekom en begin vas en bid vir Adam se genesing. Ons kerkfamilie het gedurende daardie jaar voortdurend gebid, insluitende 'n 24-uur gebedswaak vir 'n maand lank buite die huis. Op driejarige ouderdom is Adam egter oorlede.

Ek was baie teleurgesteld dat die Here nie my kleinseun genees het nie. Toe die teleurstelling egter begin afneem, het daar 'n genesing plaasgevind wat woorde nie kan beskryf nie. Hierdie genesing was in drie fases: Eerstens, het ek gekies om my verlies te erken en te rou, wat my gehelp het om van my teleurstelling af weg te beweeg. Daarna het ek die waarheid aanvaar dat God goed is en dat Hy altyd goed doen (Psalms 119:68). Laastens, het ek die doelbewuste besluit geneem om die Here te vertrou, ongeag wat gebeur (Daniël 3:16–17). Nadat ek dit gedoen het, het die Here my toegelaat om 'n diep genesing in my siel te ervaar wat gekenmerk is deur geloof, vrede, versekering en die bewustheid dat God by my is. Sy teenwoordigheid het my teleurstelling oorskadu en genees.

Miskien voel jy oorweldig deur teleurstelling en moedeloosheid as gevolg van onbeantwoorde gebede — genesings wat nie plaasgevind het nie; verhoudings wat nie herstel is nie; behoeftes wat nie bevredig is nie. Ek wil jou aanmoedig om op die Here te fokus en op jou genesing te wag, ongeag jou teleurstelling. Jy sal bly wees dat jy dit gedoen het wanneer sy teenwoordigheid by jou bly en jou in volkome vrede hou.

Ons het gesien hoe God soms op wonderbaarlike maniere ingryp, maar ons het ook geleer dat God nie genees net omdat ons wil hê Hy moet genees nie. Hy doen alles wat Hom die meeste eer sal gee.
~ Michael Catt

Memoriseervers

"Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom"Jesaja 53:4–5.

Aangaande hierdie leesplan

20/20: God's Vision For My Life

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com