20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

Leerlingbestuurder
Deur John Spurling
"Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus" 2 Timoteus 3:14–15.
Ek is 'n goeie motorbestuurder! Ek dra altyd my sitplekgordel, ry nooit te vinnig nie en gebruik nooit, ooit my selfoon terwyl ek bestuur nie. Goed, goed, ek dra býna altyd my sitplekgordel en ry so nou en dan te vinnig en probeer om my selfoongebruik te beperk terwyl ek bestuur. Die feit is: ek bestuur al meer as 30 jaar en al kan selfevaluasie gevaarlik wees, glo ek werklik ek is 'n goeie bestuurder. Tot 'n paar jaar gelede is my opinie nooit bevraagteken nie. Toe begin my tienerdogter met haar bestuurslesse en besef ek opnuut watter skade aangerig kan word met 'n klein bietjie inligting in 'n 16-jarige persoon wat nog nie volwasse genoeg is om alles te weet nie.
Dit was elke keer duidelik as ons twee saam in die motor was. Nou word ek dopgehou! Ek word gekritiseer! My versuim om "handboek prosedures" te volg, word gereeld genoem. Toe die tyd aangebreek het dat my dogter van leer in 'n klaskamer na werklik bestuur moes gaan, het my vrou besluit dat die ouer wat ons dogter moes oplei, ek is. Dit was die dag wat ek 'n veilige parkeerterrein naby ons huis gekry het en die sprong geneem het. Ek het van die bestuurdersitplek na die passasiersitplek oorgeskuif.
Daardie kort afstand het 'n groot verskil gemaak. Van daardie oomblik af het my gebedslewe vir altyd verander. Nou was my dogtertjie die bestuurder, en ek was die instrukteur. As 'n ervare veteraan met jare lange bestuurservaring, was dit my verantwoordelikheid om my kennis te gebruik om my dogter te leer hoe om 'n verantwoordelike en veilige bestuurder te wees. Iemand wat altyd haar veiligheidsgordel dra, nooit te vinnig ry nie, en nooit ooit haar foon gebruik wanneer sy bestuur nie … net soos haar pa!
Deur my dogter te leer bestuur, het dit my 'n beter begrip gegee van wat dit beteken om vir die lewe en goeie werke toegerus te wees. Om toegerus te word, vind plaas wanneer kerkleiers en ander volwasse gelowiges wat suksesvol deur die besige strate van die lewe navigeer, bereid is om minder ervare gelowiges te lei hoe om hul geloof uit te leef. Sommige mense kan dit mentorskap of opleiding noem … ander noem dit bloot vriendskap. Wat jy dit ook al noem, die behoefte om toegerus te wees om God se werk te doen, sluit interaksie met meer volwasse gelowiges in wat langs jou loop om wysheid, leiding en rigting te bied (Efesiërs 4:11-16).
Die waarheid is, elkeen is 'n "leerlingbestuurder" wanneer dit daarop neerkom om ons geloof uit te leef, en dit is God se begeerte om ons elke dag toe te rus deur middel van sy Woord en sy Gees (2 Timoteus 3:16–17; Johannes 14:25–26). Om te groei en volwasse te word, neem tyd en verg lewenservaring voordat ons voldoende deur die grootste padtoetse van die lewe kan beweeg. Dit was selfs waar van Jesus Christus. Alhoewel ons baie min van sy vroeë jare weet, vertel die Bybel ons wel dat Hy 'n jongman was wat onder die leidende hand van sy ouers en die invloed van ander geleef het "omdat Hy in wysheid en gestalte gegroei het" (Lukas 2: 51-52).
Jesus het uiteindelik begin rondreis en as onderwyser, gids, mentor en vriend, sy aandag gevestig op die bou van sterk verhoudings met diegene wat sy missie en visie sou voortdra. Hy het die regte gedrag en 'n perspektief op die lewe uitgebeeld wat ander geïnspireer het om in sy stowwerige, goed verslete voetspore te volg. Toe hulle Hom gevolg het, het hulle opgemerk hoe Hy leef, wat Hy sê en hoe Hy reageer op situasies wat sy onwrikbare toewyding aan sy Vader uitgedaag het. Die realiteit van Golgota was altyd in sy gedagtes en Hy het sy toegeruste dissipels in pare uitgestuur om die wêreld in die gesig te staar (Markus 6: 7; Lukas 10: 1–3). Hy het hulle opdragte gegee oor wat hulle moes sê, wat hulle moes doen en hoe hulle moes optree. Die belangrikste is dat Hy hulle gesag oor elke bose gees gegee het.
Jesus se metode om sy dissipels toe te rus, was nie 'n nuwe konsep of deurbraak vir leierskap nie. Hierdie vorm van doelbewuste, geestelike mentorskap word regdeur die bladsye van die Skrif aangetref in die lewens van mense soos Moses en Josua, Elia en Elisa, Paulus en Timoteus. Jesus het geweet dat sy dae op aarde beperk was en dat die tyd om sy vriende vir bediening op te lei vinnig tot 'n einde sou kom. Die beweging wat Hy begin het sou gou in hul hande wees, en uiteindelik sou die aangrypende lot van 'n marteldood ook vir baie van hulle 'n werklikheid word. Dus, wat Jesus geleer het, hoe Hy geleef het en die voorbeeld wat Hy gestel het, is alles noukeurig uitgebeeld sodat diegene naby aan Hom sou leer en groei.
Wat van jou lewe in Christus? Is jy 'n leerlingbestuurder of 'n instrukteur as jy na jou reis kyk? Miskien is albei waar vir jou! Ongeag waar jy op hierdie pad na geestelike volwassenheid is, is dit belangrik dat jy mentors en vriende het wat wys is om jou te lei en jou te leer bestuur. Indien jy 'n ervare bestuurder is, moet jy jou lewe vandag ondersoek en jouself die volgende belangrike vrae afvra: Watter belegging maak ek in die mense om my? Belê ek wat God my geleer het wanneer ek tyd saam met diegene bestee wat minder ervare is? As jou antwoord nie 'n oortuigende "ja" is nie, aanvaar dan die uitdaging om 'n paar bestuurslesse aan diegene te gee wat probeer om hul lewe op die smal weg van geregtigheid te leef. Ons het almal hulp nodig, en ons het mekaar nodig.
Ons dink dikwels aan 'n dissipel as 'n student, maar om 'n dissipel te wees, is veel meer as net 'n student. Die doel van 'n dissipel was nie net om te weet wat die leermeester weet nie, maar om net soos die leermeester te wees.
~ Rob Bell
Memoriseervers
"En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus" Efesiërs 4:11–13.
Aangaande hierdie leesplan

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.
More
Verwante Leesplanne

Om op God te Wag

Die sin van die lewe

Die deur is toe; wat nou?

Is ek sout en lig soos die Woord van my vra?

7 Lewensbesluite vir geestelike krag

Net ek en U Here, getrouheid in die geheime plek - PC Pretorius

Die Troos van die Psalms in die Stryd van die Lewe

Tye van groei

Groei in geloof
