20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

'n Kaartjie Net Vir Jou
Deur Thomas Miller
Dit was die eerste keer sedert ons troue wat ek van haar af weg sou wees. As pasgetroudes van slegs vier maande, het ek nie daarvan gehou om vir 'n oomblik van my pragtige vrou af weg te wees nie. Selfs by die werk het ek my ingeleef in die oomblik wanneer ons weer bymekaar sou wees. En nou was ek besig om gereed te maak om van haar af weg te wees vir tien dae! In 'n ander land! Aan die ander kant van die wêreld!
Ons het lank geneem om by die lughawe totsiens te sê … en toe nog 'n paar keer, gemeng met trane. Terwyl ek die eerste van vele vlugte bestyg, het ek gesmag om my vrou by my te hê. Die feit dat ek alleen na 'n plek reis waar ek nog nooit vantevore was nie, het my hartseer nog erger gemaak. Om die waarheid te sê, ek was nog nooit oorsee nie.
Na 'n vlug wat soos 'n ewigheid gevoel het, het ek uiteindelik my bestemming in Baroda, Indië, bereik. Toe ek van die vliegtuig afstap, is ek onmiddellik begroet deur vreemde gesigte, klanke en reuke. Ek het my bagasie afgehaal en met 'n pendelbussie vertrek, op pad na die sendeling se huis waar ek sou tuisgaan.
Terwyl ek by die venster van die bussie uitkyk, kon ek nie die besienswaardighede, klanke en reuke glo wat my omring het nie – gemotoriseerde riksjas wat deur die verkeer vleg, koeie en bulle wat op die strate en sypaadjies rondloop, vrouens gekleed in sari's wat mandjies op hulle koppe dra, kinders wat op en af in die strate speel. Ek het totaal oorweldig gevoel. Hier was ek in 'n vreemde land, gedompel in 'n kultuur wat baie min in gemeen het met wat ek ken. Boonop het ek eensaam gevoel. Ek was alleen.
Toe ek einde ten laaste die sendeling se huis bereik en hy my na my kamer geneem het, het ek die deur toegemaak en op die bed gaan sit. Terwyl ek daar alleen sit het trane in my oë begin opwel. Ek was nie seker dis regtig waar ek wou wees nie. Alhoewel ek oortuig was dat God my geroep het om na Indië toe te gaan, het ek myself nou bevraagteken en gewonder of ek dit vir die volle tien dae sou kon uithou. Ek het my vrou meer gemis as wat ek in woorde kon beskryf.
Ek het 'n paar oomblikke gebruik om my emosies onder beheer te kry en het toe besluit om uit te pak. Toe ek my tas oopmaak, het ek verskeie kaartjies in koeverte opgemerk wat bo-op my klere lê. Op elke koevert, in my vrou se handskrif, was daar 'n verskillende dag geskryf: "Dag 1", "Dag 2", "Dag 3" tot by "Dag 10." My vrou het 'n verskillende kaartjie geskryf vir elk van die dae wat ek weg sou wees sodat ek elke dag 'n gevoel van ons tuiste kon kry. Ewe skielik het my tyd weg van die huis af 'n bietjie makliker geword. Die hoogtepunt van my dag was nou om wakker te word, nog 'n kaartjie oop te maak en die woorde van die liefde van my lewe te lees.
Die nag voor Hy gekruisig is, het Jesus vir sy dissipels gesê – die mense wat die naaste aan Hom was — dat Hy binnekort sal moet weggaan. Toe die dissipels dit hoor, was hulle ontsteld oor die gedagte om van hul Meester geskei te wees — die Een vir wie hulle liefgehad het. Jesus het hulle egter getroos deur vir hulle te sê Hy gaan hulle nie alleen laat nie; Hy het belowe om vir hulle 'n Helper te stuur — 'n Trooster — om hulle te lei en altyd by hulle te wees.
Jesus het gesê: “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig" (Johannes 16:12-14).
Dieselfde Gees wat Jesus belowe het om vir sy dissipels te stuur, is ook by jou! Die apostel Paulus het gesê: "... toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het" (Efesiërs 1:13-14).
Met ander woorde, wanneer jy Jesus as jou Verlosser aanvaar, word jy sy bruid en gee Hy jou die Heilige Gees as bewys en waarborg dat jy Syne is en dat jy eendag met Hom verenig sal word. Elke dag, terwyl jy wag om eens en vir altyd by Hom te wees, het jy sy Gees as 'n daaglikse herinnering aan sy liefde vir jou.
Net soos die kaartjies wat ek ontvang het, glo ek dat God vir ons die Heilige Gees as 'n soort "kaartjie" gegee het … een wat ons elke liewe dag laat ontdek wat in God se hart aangaan. Terwyl ons verlang na die oomblik wanneer ons met Hom in heerlikheid verenig sal wees, verseker sy Gees ons van sy liefde en herinner Hy ons gereeld aan sy belofte dat ons vir ewig by Hom sal wees. Net soos my kaartjies woorde van liefde van my vrou aan my oorgedra het, so uiter die Heilige Gees woorde van liefde direk van Jesus af vir jou.
Romeine 8:26 vertel ons dat "die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie." Aangesien God ons die vermoë gegee het om in die Gees te bid (1 Korintiërs14), kan ons oor die dinge bid wat direk uit God se hart uit kom. Wanneer ek in die Gees bid, word ek herinner dat ek God s'n is, Hy is myne, en ek sal Hom eendag van aangesig tot aangesig sien. Dit gee my die krag wat ek vandag nodig het om alles te doen waarvoor Hy my geroep het. Dit gee my die versekering wat ek nodig het om te weet dat die Een in wie ek my vertroue gestel het, vir my sorg.
Daar is niks om te vrees nie. Ek kan Hom vertrou. Ek is Syne.
Die kere wanneer ek in God getwyfel het, sy goedheid of my hoop op die ewigheid saam met Hom, word ek baie gou herinner aan die hoop wat ek in Hom het wanneer ek in die Gees bid. Wanneer ek in die versoeking kom om te sondig en ek die Gees van God toelaat om deur my te bid, gee Hy my die krag om staande te bly.
Sou jy vandag krag kon gebruik? Voel jy hartseer en eensaam? Is dit nodig om jou aan God se liefde vir jou te herinner? Bevraagteken jy soms die belofte van die ewigheid? Maak dan die kaartjie oop wat God vir jou gegee het om jou aan sy verbysterende liefde vir jou te herinner. Bid in die Gees en laat sy woorde van liefde jou krag gee vir vandag en hoop vir môre.
Ons weet nie vir watter saak ons moet bid nie, ook nie die voorwerp tot wie ons moet bid nie, of die medium deur wie ons moet bid nie; ons weet niks van hierdie dinge nie, behalwe deur die hulp en bystand van die Gees.
~ John Bunyan
Memoriseervers
"Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Handelinge 1:8
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.
More