20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

20/20: God's Vision For My Life

DAG 24 VAN 35

Jy Is Wat Jy Eet

Deur Chad Sykes

"Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk." 2 Timoteus 3:16-17 

Ek onthou duidelik hoe ek op die strand in Sri Lanka geloop het. Hierdie eens lewendige en pragtige plek was nou bestrooi met die besittings van mense wat skielik hulle lewens verloor het. Skoene vol sand wat eens aan klein dogtertjies en seuntjies behoort het, het rondgelê met niemand om hulle op te eis nie. Die son was stadigaan besig om te sak oor die tafereel van jong gesinne wat die strand besaai het. Ek het een van die skoene opgetel en gevoel hoe my wang warm en nat word van trane. Ek het nog nooit verwoesting van hierdie aard gesien nie. Met my beskermde verstand het ek nog nooit kon dink hoe so iets moontlik kan wees nie.

Op 26 Desember 2004 het een van die wêreld se vernietigendste natuurrampe in die geskiedenis plaasgevind. 'n Ondersese aardbewing met onbeskryflike krag, het diep onder die Indiese Oseaan gerommel en 'n reeks verwoestende tsunami’s veroorsaak. Hierdie massiewe golwe het die nasies van Indonesië, Thailand, Indië en Sri Lanka getref. Die dodelike krag van hierdie berge water het met soveel mag getref, dat dit meer as 230 000 mense se lewens geëis het.

Kort nadat die tsunami’s die lande getref het, het ek die voorreg gehad om saam met 'n groep van 15 korttermyn sendelinge, insluitend dokters, verpleegsters en pastore, na Sri Lanka te reis. Ons het met 'n duidelike sending gegaan: om dringende mediese sorg te verleen in gebiede wat die hardste getref was en nog nie bereik is nie, en om die liefde van Jesus Christus aan die lydende mense van Sri Lanka te demonstreer. Om te sê dat ons reis moeilik en ietwat gevaarlik was, is 'n onderskatting. Na verskeie lang vlugte, is ons in bakkies gelaai vir 'n tien uur lange rit deur rowwe, bergagtige terrein in 'n gebied wat deur burgeroorlog verwoes is.

Daar was geen manier waarop ek myself kon voorberei vir wat ek gesien en gehoor het nie, en ek kon my nie voorstel hoe hierdie ervarings sou aanhou om my te beïnvloed lank nadat ek teruggekeer het nie. Nadat ek die een verhaal na die ander van dood en verwoesting gehoor het, het ek begin voel hoe die moegheid my oorweldig. Ek het fisiek en emosioneel uitgeput geraak nadat ek dae lank gereis en onverpoosd gewerk het om mense te bedien in hul fisieke, emosionele en geestelike behoeftes.

Soos die dae aangegaan het, onthou ek dat ek fisiek so moeg was dat ek myself moes dwing om te eet net sodat ek genoeg krag sou hê om aan te hou. Ek kan nie onthou dat ek soiets ooit voorheen in my lewe beleef het nie. Ek het gewoonlik geëet omdat ek kon … nie omdat ek dit so broodnodig gehad het om genoeg krag te hê om vir die volgende paar uur te kon volhou nie. Dit was totaal en al vreemd vir my. 

Terwyl ek geëet het, kon ek letterlik voel hoe die kos my voed en my die fisieke krag gee om voort te gaan om die mense van Sri Lanka met my hele hart te bedien. Hierdie krag was van kardinale belang toe ek hierdie lydende individue bedien het wat hulself skielik in die middel van 'n tragiese situasie bevind het – soos die man wat gif gedrink het in 'n poging om sy lewe te beëindig omdat sy vrou en twee kinders deur die enorme golf meegesleur is.

Na twee weke se reis en bediening in Sri Lanka het ek teruggekeer huis toe. Om so 'n omgewing van uiterste verlies en lyding te verlaat en terug te keer na my gemaklike lewe, was 'n ontnugterende ervaring. My tyd van werk en bediening in Sri Lanka en my normale lewe van werk en bediening by die huis, was soos wêrelde uit mekaar uit. Met die verloop van tyd het ek gemerk hoe die verskriklike moegheid wat ek in Sri Lanka ervaar het, soms op 'n eienaardige wyse in my lewe sou inkruip. 

Maar hierdie keer was die moegheid nie fisiek nie; dit was geestelik. Dit was egter net so dreinerend. Om elke dag met mense te praat en mense te ontmoet met ervarings van tragedie, gebrokenheid, siekte en die dood, het my gedreineer. Net soos die kos wat ek in Sri Lanka geëet het, my fisiek versterk het vir die werk wat ek moes doen, het ek geweet ek het soortgelyke geestelike voeding nodig vir die uitdagings wat my tuis in die gesig gestaar het.

Die waarheid wat ek ontdek het is dat geestelike moegheid beveg word met 'n bestendige dieet van die Bybel. Die woorde wat God aan ons openbaar deur die Skrif, deurtrek ons beendere met lewe. Paulus het aan Timoteus verduidelik dat die beste manier om toegerus te word vir dit wat vir hom gewag het, was deur die woorde van die Skrif. Ek is seker Paulus het nie bloot na 'n kennisgebaseerde inname van die Skrif verwys nie; Hy het gepraat van 'n inname van daardie woorde in beide ons harte en denke. 

Deur die Woord van God, laat ons toe dat ons in geregtigheid geleer, bestraf, reggehelp en onderrig word. Die Bybel beskerm ons om nie die verkeerde siening van God en van onsself te hê nie. Dit stel ons in staat om in gereedheid te lewe om op God en ander in die wêreld te reageer, omdat dit die openbaring van Jesus Christus is.

Ons is terselfdertyd mense in die wêreld en mense van die Woord. Die wêreld in die huidige era poog om ons te oortuig van waarhede wat weerspreek wat God aan ons openbaar. Soms word ons vasgevang in die trekstroom van onsekerheid, hopeloosheid en wanhoop. Die enigste manier om uit daardie onderstroming te swem, is met die hulp van die Heilige Gees wat God se waarheid aan ons openbaar. God self het in en deur die Skrif gepraat. In die stryd om ons harte, denke, idees en die wêreld, oorweldig God se waarheid mense se leuens.

God se openbaring aan ons is die brandstof wat ons in staat stel om as sy volk in die wêreld te leef. Ons plig is om sy boodskap te ontvang, te poog om dit te verstaan, dit te gehoorsaam en om dit mee te deel aan die wêreld waarin ons leef. Wy jouself toe aan 'n bestendige dieet van die Bybel en laat die Woord van God toe om jou te voed, te versterk en toe te rus vir jou lewe. Namate jy dit doen, sal jy ontdek hoe 'n warm toewyding aan Christus in jou aan die brand gesteek word deur die waarheid van sy openbaring.

Die Bybel is net so nodig vir geestelike lewe soos asem vir die natuurlike lewe is. Daar is niks meer noodsaaklik vir ons lewens as die Woord van God nie.
~ Jack Hayford

Memoriseervers

"En dít is die 'gawes' wat Hy 'gegee het': apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus." Efesiërs 4:11-13

Aangaande hierdie leesplan

20/20: God's Vision For My Life

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com