20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

Lae van Krag
Deur David Smith
"Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde." Handelinge 1:8
Toe ek in my 20's was, was ek 'n lid van die gewilde Christelike orkes, Dove. Ons het regoor die land gereis om by verskillende kerke, hoërskole, universiteite en bymekaarkomplekke te speel en so die evangelie te deel. Ons het geweldige sukses gehad, maar ons het op ons eie vermoë en krag staatgemaak om dit te laat gebeur.
Gedurende daardie tyd het ons regtig goeie vriende geword met Jack Taylor, 'n baptiste pastoor van San Antonio, Texas. Jack het tyd met ons verwyl om ons van die Heilige Gees te leer. Een nag, terwyl hy gepraat het, het hy verduidelik dat as ons werklik begeer het om alles te bereik wat God wou hê ons moes bereik, dan sou dit iets veel groter as onsself vereis het. Ons sou aan onsself moes sterf en besef dat ons niks deur ons eie krag sou kon bereik nie … ons moes God vra om ons met sy krag te vul.
Ek sal nooit vergeet hoe ek daardie aand tot God gebid en erken het dat ek niks deur my eie krag of mag kon doen nie. Ek het Hom genooi om elke deel van my lewe in te neem en my met sy Gees te vul. Hy het 'n bonatuurlike werk in my hart verrig – Hy het my met die krag van sy Heilige Gees gevul. Dit was asof God nog 'n laag van sy krag deur die Heilige Gees op my gelê het.
Van daardie dag af, het God vir my 'n salwing gegee om mense vir Jesus te bereik soos nog nooit tevore nie. Waar ek ook al my getuienis met mense gedeel en met hulle oor God gepraat het, was daar 'n heeltemal ander vlak van God se salwing. Dit was verstommend!
In die eerste hoofstuk van Handelinge, het Jesus vir sy dissipels gesê, "Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel" (Handelinge 1:8 NLV). Die grootste bewys van die doop met die Heilige Gees – die inwoning van die Heilige Gees binne-in jou — is dat jy die krag ontvang om te word wat God jou geroep het om te wees sodat jy die mense kan bereik wat Hy wil hê jy moet bereik.
God vul jou nie met die Heilige Gees net sodat jy baie oulike gawes kan hê om vir jouself te gebruik nie (Hand. 8:9–25). Hy vul jou met die Heilige Gees sodat jy kan word wat Hy jou geroep het om te wees en so die wêreld vir Hom kan bereik.
As kinders van God, moet ons fokus gesentreer wees op die bou van sy koninkryk en om die wêreld te beïnvloed om na Hom toe te kom. Daar is geen manier waarop ons dit kan doen sonder sy bemagtiging nie, sonder om met sy Gees gevul te wees nie. Tensy God jou die krag gegee het om dit te doen, sal jy nooit in staat wees om te bereik wat Hy jou geroep het om te bereik nie. Toegegee, diegene wat probeer om sonder sy krag reg te kom, kan vir 'n rukkie aangaan (net soos ek voordat Hy my gevul het), maar uiteindelik sal hulle nooit ooit alles bereik wat God vir hulle lewens bedoel het nie.
'n Jaar nadat ek die eerste keer die bemagtiging van die Heilige Gees ontvang het, het ek 'n diepe honger ontwikkel om alles oor die Heilige Gees te lees wat ek in die hande kon kry. Dus het ek my na God se Woord gewend en Hom gevra om my enigiets te wys wat Hy kon bied. Ek was in 'n fase van my lewe waar ek eenvoudig alles moontlik oor die krag van die Heilige Gees wou inneem. As gevolg van my desperaatheid en honger na God, het Hy my presies gehad waar Hy my wou hê … op 'n plek waar ek gewillig was om enigiets te ontvang en te aanvaar wat Hy my gee.
Een aand, toe ons orkes op die punt was om uit te gaan na 'n sokkerstadion in Farmington, New Mexico om daar te bedien, het ek met 'n paar van die ander ouens in die groep vir gebed in ons hotelkamer byeengekom. Terwyl ek my hart voor God uitgestort het, het ek gevoel hoe die Heilige Gees kragtig oor my kom en – nog 'n laag — van sy krag aan my oordra. Op daardie oomblik, het ek my geestelike gebedstaal ontvang, en ek het dit net daar in daardie hotelkamer begin gebruik.
Daardie aand was daar 'n baptiste evangelis by ons wat vir my gesê het, "David, jy kan nie vir enigiemand hiervan vertel nie." Ek kon egter myself net nie daarvan weerhou om nie daaroor te praat nie. Ek wou nie die werklikheid en krag van wat die Heilige Gees in my gedoen het, ontken nie. Van daardie oomblik af, het ek doelbewus elke aand voor ons konserte, op my eie in die Gees gaan bid. Kan ek jou vertel, dit het 'n verstommende verskil gemaak … nie net in my bediening nie, maar ook in my lewe!
Charles Spurgeon, die groot Britse prediker het eenkeer gesê:
Slegs die Heilige Gees het mag oor die harte van mans en vroue. Het jy al ooit jou krag op 'n hart probeer uitoefen? As enigiemand dink dat 'n prediker die siel kan bekeer, wens ek hulle wil probeer. Laat hulle 'n Sondagskoolonderwyser word. Hulle sal hul klas waarneem, hulle sal die beste boeke wat daar is hê, hulle sal die beste reëls hê, hulle sal hul linies van verdediging rondom hul versterkte geestelike stad saamtrek, hulle sal die beste kind in hul klas neem, en as hulle na ‘n week nie moeg is nie, sal ek baie verbaas wees.
Ons kan nie mense vir Christus wen deur ons wonderlike vermoëns of vaardighede nie. Sonder die Heilige Gees se salwing, kan ons niks bereik nie. Dit is slegs deur ‘n Geesvervulde lewe te leef dat ons die mag het om enigiets te doen. Sagaria 4:6 sê: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.” Die Heilige Gees in jou bereik wat slegs God deur jou kan bereik. Wanneer alles kant en klaar is en jy nie kan sê: "Dit kon nie sonder God se krag gebeur het nie" of as jy nie al die eer aan God kan gee nie, dan vertrou jy nie regtig op sy krag tot die mate wat jy behoort nie.
Is jy gereed om die Heilige Gees te vra om jou lewe te vul? Is jy gereed om sy krag te ontvang? Bid vandag en vra God om jou met sy krag te vul.
Om die Here se werk deur jou eie krag te probeer te doen, is die mees verwarrende, uitputtende en vervelige van alle werke. Maar wanneer jy met die Heilige Gees gevul is vloei die bediening van Jesus uit jou uit.
~ Corrie ten Boom
Memoriseervers
”Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Handelinge 1:8
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.
More