20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

Oorkom Jou Hindernisse
Deur Gayland Lawshe
"Die Here het vir Josua gesê: 'Ek gaan Jerigo, sy koning en sy soldate nou in jou mag oorgee.'" Josua 6:2
Jerigo was 'n enorme hindernis vir Josua en die volk van Israel. Dis ongeveer 1,6 kilometers wes van die Jordaanrivier geleë en was die belangrikste stad in die Jordaanvallei en die sterkste vesting in die hele land Kanaän. Toe Josua Jerigo nader, het die bevelvoerder van die Here se leër hom ontmoet en aan hom die oorwinning belowe. Vir hom moes die taak steeds onmoontlik gelyk het. Hoe kon oorwinning oor so 'n sterk stad afhang van 'n geskreeu?
Die antwoord het na hom gekom, omhul in geloof, gehoorsaamheid en 'n bonatuurlike vertoning van God se mag. Weereens het die Een wat die farao se leër teruggehou het, wat die Rooisee geskei het, en wat manna en kwartels in die woestyn voorsien het, getoon dat Hy getrou aan sy woord is. God en God alleen – wat werk deur diegene wat in Hom glo en hulself aan Hom onderwerp, het die oorwinning, tesame met ryke belonings, voorsien.
Byna daagliks beleef ons as gelowiges hindernisse soortgelyk aan Jerigo … hindernisse te hoog om oor te kom, te wyd om om te gaan, te onmoontlik om te oorwin. Met ons natuurlike oë sien ons net ‘n dreigende nederlaag wat wag. Ons bewe in die skaduwee van ons hindernisse en besef nooit die bemagtiging van God se belofte ten volle nie … die belofte waarvan Jesus ook gepraat het toe Hy gesê het: "Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur" (Johannes 16:7).
Voor Jesus opgevaar het hemel toe het Hy spesifieke opdragte aan sy dissipels gegee: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne 'n paar dae met die Heilige Gees gedoop word" (Handelinge 1:4–5). Hy het ook vir hulle gesê: "Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom" (Handelinge 1:8).
Die Griekse woord vir "krag" wat in daardie vers gebruik word, is dunamis, wat letterlik "aangebore krag" beteken; krag wat in iets teenwoordig is uit hoofde van sy aard. Dinamiet het dieselfde grondwoord. Met ander woorde, dunamis is 'n plofbare soort krag. Op Pinksterdag, toe die dissipels in die bovertrek bymekaargekom het, was hulle vervul met die Heilige Gees en het hulle die krag ontvang wat Jesus belowe het.
Na hul bovertrek-ervaring het die vrees verdwyn wat die dissipels ervaar het nadat hulle hul Meester verloor het. Hulle was nou bemagtig om te doen wat hulle gesien het Jesus doen – bemagtig om sonde, siekte en die dood te oorwin; om duiwels uit te dryf; om die verlamdes te sien loop en dat blindes weer sien; bemagtig om elke hindernis te oorkom en elke gevangene vry te stel; bemagtig om die waarheid te ken, te dien en om te lei.
Hulle was gewone mense wat die kenteken van Christus gedra het, en was toegerus om die gebooie en beloftes van God te vervul. Glad nie meer bang vir die hindernisse waarvoor hulle te staan gekom het nie. Hulle verhale wat in die boek Handelinge opgeteken is, gee breedvoerige besonderhede van die bemagtiging wat hulle ontvang het om die werk wat aan hulle toevertrou is, voort te sit … net as gevolg van die inwonende teenwoordigheid van die Heilige Gees wat beskikbaar is vir alle gelowiges wat hulle aan Hom oorgee.
Die hedendaagse geskiedenis verskaf ook voorbeelde van diegene wat bemagtig is om onoorkomelike hindernisse te oorkom. ‘n Voorbeeld van so 'n gelowige was Dietrich Bonhoeffer. Hy is in 1906 in Duitsland gebore en het 'n Lutherse pastoor geword in die tyd in sy land se geskiedenis toe misleiding en boosheid hoogty gevier het. Hy het sy stem verhef teen die gruweldade wat teen Jode gepleeg is deur die bose diktator wat sy land tot verwoesting gelei het.
Selfs al het hy geweet dat sy verbintenis om die Here te dien en om teen die boosheid uit te vaar, kon hom sy lewe kos, het Bonhoeffer voortgegaan om sterk standpunt in te neem oor sy oortuigings. Na sy inhegtenisneming deur die Nazi's het hy twee jaar tronkstraf uitgedien totdat hy in 1945 op 39-jarige ouderdom tereggestel is. Sy toewyding aan die Here was duidelik in sy geskrifte en sy omgee vir sy medegevangenes terwyl hy in die tronk was. Sy nalatenskap – "'n lewe gewy aan die Here en om Hom te dien"— leef vandag nog voort.
Deur die belofte van die Vader te ontvang en jouself daaraan te onderwerp, stel jou in staat om jou lewe met vertroue te leef. Wees bewus dat die Heilige Gees wat in jou woon, jou bemagtig om die hindernisse wat voor jou geplaas word te oorkom, elke aanval van die vyand te weerstaan, en sterk te staan in die aangesig van teenspoed. Soos Efesiërs 3:20 dit stel: "God is so magtig en sterk. Juis met daardie krag werk Hy ook in ons. Hy kan en het dinge vir ons gedoen waarvan ons nie eens kon droom nie."
Sal jy vandag vra, ontvang en toegee aan die bemagtiging van die Heilige Gees, sodat jou persoonlike "Jerigo" in jou hande gelewer kan word?
Dit is abnormaal vir 'n Christen om nie 'n aptyt vir die onmoontlike te hê nie. Dit is ‘n honger wat in ons geestelike DNS ingeskryf is dat die onmoontlike om ons sal buig voor die Naam van Jesus.
~ Bill Johnson
Memoriseervers
"Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Handelinge 1:8
Aangaande hierdie leesplan

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.
More