20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

20/20: God's Vision For My Life

DAG 22 VAN 35

Al In Die Rondte

Deur Robb Brewer

"Omtrent veertig duisend gewapende manne het vir die oorlog die rivier deurgegaan voor die ark van die Here uit na die Jerigovlakte toe." Josua 4:13

In my huis word take verdeel onder diegene wat daar woon. Met verloop van tyd het ek geleer om die verskil te herken tussen die take waarvoor ek 'n vaardigheid het, en dié wat ek liewer aan ander moet oorlaat. Ek is goed met die skoonmaak van die erf, asook vir die basiese dinge "wat herstel moet word". Kosmaak is egter nie my sterkpunt nie.

Dus, wanneer my vrou die dorp verlaat om by familie te kuier of vir 'n persoonlike sabbatsverlof, is ek verantwoordelik vir 'n taak wat my uitgelewer laat voel — verlore en onseker. As die pa van vier kinders, weet ek maar alte goed dat kinders iesegrimmig word wanneer hulle honger is. Dus kan ek nie hierdie werk ignoreer totdat my vrou terugkom nie.

Die mikrogolfoond het 'n handige hulpmiddel geword om my uit die verknorsing te help. Sit die kos in, druk die knoppie en vier minute later kry jy iets eetbaar. Die smaak en voedingswaarde is niks om oor te spog nie, maar dit dien die doel — die gesin is gevoed.

Die meeste mikrogolfoonde het 'n draaitafel wat soos 'n rondomtalie draai om alle kante van die kos bloot te stel aan die mikrogolwe wat opgewek word. Om te kyk hoe die kos draai, is eintlik 'n vervelige ervaring. Dit draai net in die rondte sonder enige noemenswaardige verandering.

Om in die koninkryk van God toegerus te word, is beslis nie 'n mikrogolf-ervaring nie, aangesien dit nie 'n kitsproses is nie. Jy kan nie naweke kerk toe gaan, 'n paar klasse bywoon en siedaar! — jy is toegerus nie. Die tydreëlaar om toegerus te raak, strek veel langer as vier minute; dit is 'n lewenslange proses. Tog is daar 'n paar ooreenkomste tussen toegerus wees en 'n mikrogolfoond, aangesien geestelike groei dikwels kan voel asof jy op 'n mikrogolfoond se draaitafel sit, jy draai in die rondte, maar jy ervaar min waarneembare veranderinge.

Al lyk die kos in my mikrogolfoond onveranderd, gebeur daar iets aan die binnekant. Met elke volledige wenteling, is die kos 'n bietjie anders as voorheen. Hierdie veranderinge kan baie klein wees, maar dit vind nietemin plaas. Een volledige wenteling is egter nie genoeg nie. My kos word eetbaar as gevolg van die kumulatiewe effek van veelvoudige wentelings.

Op dieselfde manier kan geestelike groei soos 'n eindelose, herhalende rit voel wat net in in die rondte beweeg, veral as jy totaal uitgelewer voel. Jy sal dalk dink: "Was ek nie al voorheen hier nie?" of "Waarom moet ek terugkeer na hierdie dorre plek?" Die Here se stem klink so ver. Die omgewing lyk ongemaklik bekend, en jy het die sinkende gevoel dat jy nie vorentoe beweeg nie.

Dit is belangrik om te verstaan ​​dat om toegerus te word nie 'n monteerbaanproses is nie. Dit gaan nie soseer daaroor om vooruit te beweeg nie as om verander te word na die beeld van God. Geestelike groei vind soms skielik plaas, soos 'n sak springmielies wat skiet, maar meer dikwels is dit stadig en metodies. Om toegerus te word gaan daaroor om op die draaitafel van geestelike groei te sit en die Woord toe te laat om die geestelike deeg van ons harte te bak. Elke keer as jy 'n omwenteling maak, alhoewel dit bekend lyk, is jy anders. Jy is 'n bietjie "gaarder" … jy is 'n bietjie nader aan volmaaktheid.

Eksodus 13 vertel die verhaal van die Israeliete wat Egipte verlaat het. Met hul vertrek, stuur God hulle nie reguit na hul bestemming nie, want daardie pad lei deur vyandige gebied waar oorlog onvermydelik is. In plaas daarvan stuur God die volk Israel die woestyn binne. Wat vir die swerwende Israeliete wreed en onnodig gelyk het, was eintlik 'n daad van groot liefde en beskerming van 'n alomteenwoordige God. In vers 18 sê die Bybel dat hulle Egipte “toegerus vir die geveg” verlaat het. Dink vir 'n oomblik daaroor. Die Israeliete het Egipte verlaat, toegerus vir 'n geveg, maar God het hulle nie die geveg binne gestuur nie, omdat Hy geweet het dat hulle nog nie daarvoor gereed was nie. Hoe kon hulle dan "toegerus" wees?

Die woord wat in hierdie vers vir "toerus" gebruik word, beteken nie hulle is volledig voorbereid nie. Dit is 'n woord wat beskryf hoe hulle georganiseer is. 'n Beter interpretasie mag wees: "hulle het Egipte verlaat en gelyk soos 'n leër wat oorlog toe gaan." Dit beteken eenvoudig dat hulle nie vir hul lewens uit Egipte gevlug het nie. Hulle was georganiseerd en oorwinnaars, maar hulle was beslis nie "toegerus" vir die geveg nie. Trouens, toe die Egiptenare die Israeliete agtervolg het, het God hulle nie toegelaat om hul eie oorlog te voer nie. Hy het self vir hulle geveg en hulle vyande in die Rooisee verdrink.

Soos die verhaal van die uittog van die Israeliete ontplooi, kom ons vinnig agter hoe onervare hulle vir die geveg was. Kortliks, bewys hulle dat hulle ongehoorsame klaers was — nie in staat om die land in besit te neem wat geslagte tevore aan hulle belowe is nie. God lei hulle dus deur 'n toerustingproses wat 'n lewenslange reis en vol woestynervarings geword het. Die wenteling het begin. Hulle dwaal veertig jaar deur 'n woestyn — en dink: "Was ons nog nie voorheen hier nie?" en "Waarom hierdie dorre plek?" Tog laat elke wenteling hulle 'n bietjie "gaarder" — 'n bietjie meer toegerus.

Na baie jare se wentelinge in die woestyn het hulle uiteindelik hul bestemming bereik … hul reis was voltooi. Toe die volk die Jordaanrivier oorsteek, sê die Bybel dat: "ongeveer veertig duisend vir oorlogvoering toegerus was voor die ark van die Here uit na die Jerigovlakte toe" (Josua 4:13). Hierdie keer beteken die gebruik van die woord "toegerus" volledig voorbereid, niks ontbreek nie en volkome gereed. Die Israeliete het nie meer voorgegee nie. Hulle was uiteindelik gereed — volledig toegerus en voorbereid vir die geveg. Dit het egter nie gebeur voor hulle tyd in die woestyn afgehandel was nie.

Wanneer ons Christus as ons Verlosser kies, neem ons 'n tree op 'n pad om toegerus te word vir alles wat God wil hê ons moet doen en word. Hierdie pad lyk miskien soms pynlik herhalend, maar elke wenteling weerspieël die nodige en beduidende vordering in ons geestelike DNS. Jy is anders as toe jy die vorige keer hier was.

Hou vas aan die draaitafel. Hou aan om te wentel. Jy sal die oorwinning behaal. Jy sal na sy beeld verander word. Jy sal toegerus word.

'n Christen bereik nooit 'n staat van voltooiing nie, maar is altyd in die proses om te vorder.
~ Martin Luther

Memoriseervers

"En dít is die 'gawes' wat Hy 'gegee het': apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus." Efesiërs 4:11–13

Aangaande hierdie leesplan

20/20: God's Vision For My Life

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com