20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

20/20: God's Vision For My Life

DAG 20 VAN 35

Ek Is Met Jou

Deur Debbie Morris

"Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou" Jesaja 41:10.

Daar is 'n paar dinge wat mans hul vrouens nie moet leer nie. Vir my was dit skubaduik. Pasgetroud, het my man, Robert, my op 'n baie warm somersdag probeer leer hoe om in 'n troebel meer te skubaduik. Laat ons maar sê dinge het nie goed verloop nie. Wat vir hom maklik was, was vir my skrikwekkend. Kort voor lank het ek paniekerig geraak. Dit het in 'n amper-dood-fiasko verander wat my skubalesse vir altyd beëindig het. Ek is bly om te kan sê dat my gefrustreerde man die dag, en waarskynlik ook my lewe, gered het.

Per definisie is 'n dissipel iemand wat gewillig kies om van 'n ander te leer. Miskien wou ek nie regtig leer skubaduik nie, hoewel ek destyds voorgegee het ek wou dit doen. Eintlik was vrees die rede waarom my skubaduikles 'n fiasko was. Vrees vir die onbekende. Vrees oor die moontlikheid van slange in die gras. Vrees dat die toerusting foutief sou wees. Vrees dat ek nie behoorlik opgelei was nie. Vrees vir mislukking.

In Lukas 5 het Jesus vir Simon Petrus gevra om hom in 'n skuit op die see van Galilea uit te neem sodat Jesus die skares wat op die strand saamgedrom het, kon leer. Alhoewel hy die hele nag visgevang het, het Petrus gewillig ingestem. Nadat Hy klaar die mense geleer het, het Jesus vir Simon Petrus gesê om sy nette in die diep water uit te gooi. Petrus, 'n ervare visserman, was goed bekend met visvang in die see van Galilea. Hy het geweet dat die beste tyd om te hengel snags in vlak waters was. 

Tog het hy sy kennis oorgegee aan die wysheid van 'n skrynwerker, en Petrus het die ongewone opdrag gehoorsaam. Sy natuurlike begrip kon dit nie glo toe sy nette so vol word dat dit begin skeur het nie. Te midde van die wonderwerk, toe Petrus die ontoereikendhede van sy eie krag besef, het vrees sy hart aangegryp. Maar Jesus het Petrus se lewe in 'n ander rigting gestuur met twee eenvoudige stellings: "moenie bang wees nie" en "van nou af sal jy 'n visser van mense wees"(Lukus 5:10).

Wat God vir gewone mense beplan het, is bonatuurlik. Ons het geen bonatuurlike krag of begrip buite God nie, daarom het ons 'n natuurlike geneigdheid tot vrees. Oorwinning oor vrees is egter noodsaaklik om 'n ware dissipel te word.

As die gedagte om aan 'n fluistering van God gehoorsaam te wees 'n tikkie vrees en angs wek, is jy regtig in goeie geselskap. Nadat Abram vier konings uit die weg geruim het en gevrees het dat hulle sou terugkeer om hom te verslaan, het God gesê: "Moenie bang wees nie, Abram, Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees" (Genesis 15:1). God het Abram aan sy belofte herinner. Toe Hagar seker was dat die dood vir haar en haar seun naby was, het God met haar gepraat en gesê: "Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor" (Genesis 21:17). God het toe aan haar opdragte en 'n belofte gegee. 

Toe die afgunstige Filistyne aangehou twis het oor die ontsaglike rykdom van Isak en hom gedwing het om verskeie kere te trek, het God aan hom verskyn en gesê: "Ek is die God van jou vader Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Ek sal jou seën en jou 'n groot nageslag gee ter wille van my dienaar Abraham" (Genesis 26:24). Toe die kinders van Israel die Rooisee bereik het en dit blyk dat die dood en 'n nederlaag seker is, het God met sy volk gepraat en vir hulle gesê: "Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie" (Eksodus 14:13). Toe die herders snags in die veld was en hulle kleinvee versorg het, het 'n engel aan hulle verskyn en hulle beveel om "nie te vrees nie" terwyl Hy hulle vertel het van die vervulling van die belofte van die langverwagte Messias (Lukas 2:7).

God weet ons dink met 'n emosionele ingesteldheid, daarom gee God ons die opdrag om Hom te gehoorsaam uit geloof, nie uit vrees nie. Net soos Petrus, verstaan ons miskien nie God se opdrag nie, maar gehoorsaamheid verander ons gewone optrede in iets met 'n bonatuurlike element. As dissipels kom ons nooit op 'n plek waar ons die bonatuurlike kan sien gebeur voordat ons in geloof beweeg nie. Die vervanging van vrees met geloof vind plaas as ons God hoor en glo wanneer Hy sê: "Moenie vrees nie … Ek is by jou."

Ek kan myself met Petrus vereenselwig. Ek kan maklik toelaat dat vrees my tydelik verlam as ek voel dat God my dring om Hom buite my normale gemaksone te gehoorsaam. Ek hou regtig nie van openbare toesprake nie, maar ek vind dat God my telkens uitdaag om getrou te wees as ek die geleentheid kry. Elke keer hoor ek Hom sê: "Moenie vrees nie … Ek is by jou."

Het jy al ooit daardie oomblik beleef wanneer jou hart in jou bors begin klop, omdat jy voel hoe God jou dring om iets te doen? As jy in daardie oomblikke onthou wie by jou is, sal jy vertroosting en vrede kry. Ons God is 'n bonatuurlike God wat kies om ons te gebruik om die onmoontlike te bereik.

Ek onthou die tye toe ek en Robert albei 'n bietjie bang was om God te vertrou wanneer ons vir ander gee. En tog, deur ons gehoorsaamheid het God wonderwerke gedoen vir ons sowel as vir sy koninkryk. Nou, na jare van 'n lewenswyse van gehoorsaamheid aan God se aandrang, is ons geloof 'n basis wat ons versterk in God se vermoë om dit wat ons natuurlik doen, te verander na die bonatuurlike.

Vandag kan jy uitgedaag word om die evangelie met jou bure te deel of 'n kollega kerk toe te nooi. Jy kan gedring word om 'n ou vriend te bel en te vertel wat God in jou lewe gedoen het. Jy kan dalk gedring word om ou gewoontes van hoe jy oor jouself dink agter te laat en aan te gryp wat God van jou sê. Luister vandag na Hom. Hoor hoe Hy vir jou sê: "Moenie vrees nie … Ek is by jou." Wees dan gehoorsaam en kyk hoe jou aksies saamwerk met God se bonatuurlike krag om wonderlike resultate te lewer.

Vader, laat my 'n verskil vir U maak wat heeltemal buite verhouding is met wie ek is.
~ David Brainerd

Memoriseervers

“Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Matteus 28:19–20

Aangaande hierdie leesplan

20/20: God's Vision For My Life

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com