20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

Hy Was 'n Goeie Man
Deur Todd Lane
“As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” Johannes 13:35
“Ek weet daar is geen God nie,” verklaar 'n bekende vermaaklikheidster in 'n YouTube video. “Maar hy is 'n baie goeie man.” Ek sit voor my rekenaar in absolute ongeloof oor wat ek hoor. Die vermaaklikheidster is Penn Jillette, die een helfte van 'n gewilde komedie- en goëlaarduet: Penn & Teller. Hulle gewilde vertoning in Las Vegas bestaan al vir 'n baie lang tyd, en Penn is 'n uitgesproke ateïs.
Die storie wat Penn vertel het, gaan oor 'n keer toe 'n vreemdeling hom na afloop van een van sy vertonings genader het. Die vreemdeling het Penn geprys vir die kwaliteit van sy werk, vir die voorlegging en sy kommunikasievaardighede. Die opregtheid en vriendelike houding van die vreemdeling het Penn baie beïndruk. Die man kyk hom reguit in die oë en gee hom 'n klein Bybeltjie van die Gideons terwyl hy sê: “Ek wil hê jy moet dit vat.” Die man het 'n nota met sy selfoonnommer en e-posadres in die Bybel gelos indien Penn ooit met hom in aanraking wou kom.
Penn was verstom oor die man se sagmoedigheid en dat hy nie opdringerig was nie; hy het nie woorde gehad om te beskryf hoe beïndruk hy was nie. Hy het nog nooit voorheen so 'n Christen teëgekom nie — iemand wat opreg in hom as 'n persoon belanggestel het. Sigbaar ontroer deur die man se optrede het Penn gesê: “Hierdie man het genoeg vir my omgegee om my te bekeer.” Ter afsluiting van die storie het Penn eenvoudig gesê: “Nou weet ek daar is geen God nie … maar ek sê vir jou hy is 'n baie, baie, baie goeie man.”
Daardie ontmoeting het nie in 'n dramatiese verlossingservaring geëindig nie. Dit het nie eens geëindig waar die vreemdeling 'n evangeliese boodskap gegee het nie. Die man het slegs vir Penn 'n Bybel gegee. Tog het die ontmoeting 'n duidelike indruk op Penn se hart gemaak — een wat hy nie kon verklaar het nie, maar ons weet dit was 'n bewys van God se liefde aan hom. Ek glo daardie dag is 'n saadjie geplant en die enigste werktuig wat gebruik is om die harde hart van hierdie militante ateïs binne te dring, was liefde.
Jesus het sy dissipels opdrag gegee om dissipels van die hele wêreld te maak. Dit is 'n roeping wat ons as Christene moet aangryp. Kerke gebruik baie energie om effektiewe maniere te soek om dissipels te maak, maar die vraag waarheen ons altyd terugkeer is: hoe lyk 'n dissipel van Jesus?
Die woordeboek omskryf 'n dissipel as "iemand wat die leerstellings van 'n ander aanvaar en help om dit te versprei.” Met die toenemende aantal standpunte oor lewensvraagstukke en die geweldige teenstand van hierdie sienings, het mense dissipels van baie verskillende dinge, persone en idees geword. Politieke figure het dissipels; popkultuur ikone het dissipels; selfs rekenaarvervaardigers het dissipels! As Christene moet ons besef dat die belangrikste etiket wat ons in ons lewens dra, dié van 'n Christus-volgeling is. Terwyl ons die sendingopdrag uitvoer, probeer ons om dissipels te word en ook dissipels van ander te maak. Hoe ons "help met die verspreiding van Christus se leerstelling", definieer werklik wie ons is.
Omdat ons wêreld so met geweld, onverdraagsaamheid en haat gevul is, is dit maklik vir passievolle mense met goeie bedoelings om woedend te raak wanneer hulle hul sienings aanbied. Moet ons as dissipels van Christus deel hiervan wees? Die apostel Paulus vermaan ons: “Moet jou nie met dwase en sinlose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak. 'n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra” (2 Timoteus 2:23–24).
Wat as ons die argumente en rusies vermy wat ons kan keer om die kernboodskap oor te dra — die boodskap van liefde? Paulus vertel verder in Romeine 2:4: “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?” Ons is geroepe om Jesus se dissipels te wees en Hom te verteenwoordig in 'n verlore wêreld. Jesus het ons gewaarsku dat hierdie wêreld ons sal haat, maar nogtans het Hy ons die opdrag gegee om lief te hê. Met ander woorde, liefde moet wys dat jy 'n dissipel van Jesus is. Die goedheid van God wat deur jou vertoon word, sal mense na Jesus toe lei en uiteindelik tot bekering.
Ek glo wat Penn in hierdie vreemdeling gesien het, was die liefde van God … 'n liefde wat hom nie veroordeel het omdat hy 'n ateïs is nie. 'n Liefde wat ware respek vir die vermaaklikheidster se talente gewys het. 'n Liefde wat nie bang was om God se liefde met hom te deel nie. Geen rusie of argument het 'n groter inpak op Penn se lewe gemaak nie. Omdat 'n totale vreemdeling toegelaat het dat God hom as 'n werktuig gebruik het, het Penn gedwonge gevoel om ten minste vyf minute af te staan tydens die onderhoud om hierdie gebeurtenis vas te lê ... wat regoor die wêreld uitgesaai is.
Daar is baie wat gedoen moet word tydens die groei van ons geestelike lewe — Paulus noem dit die vordering van melk tot vaste kos — een ding staan egter vas gedurende ons groeiproses en dit is om mekaar lief te hê. Hoe meer ons geestelik volwasse word, hoe meer moet die liefde van Christus in ons lewens sigbaar word.
Ons almal het ons eie stories van hoe 'n saadjie in ons harte geplant is. Miskien kan jy vandag ook, soos Penn gesê het, 'n "baie, baie, baie goeie man” (of vrou) wees. As 'n dissipel van Jesus, plant 'n saadjie van liefde in iemand se lewe wat God kan laat groei.
Vandag wil ek jou aanmoedig om God se liefde in opregtheid te soek en te ken. Dan moet jy oor God se liefde vir die wêreld nadink soos net sy dissipels dit kan doen.
As ons net so 'n bietjie soos Hy [Jesus] kan wees sal die wêreld herskep word.
~ Bono
Memoriseervers
“Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” Matteus 28:19–20.
Aangaande hierdie leesplan

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.
More