20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

20/20: God's Vision For My Life

DAG 18 VAN 35

Vis Op Vrydae

Deur Marcus Brecheen

'n Leerling is nie hoër as sy leermeester nie, maar iemand wat volleerd is, sal aan sy leermeester gelyk wees. Lukas 6:40

Toe ek nog in die laerskool was, het ons elke Vrydag vis geëet. Dit het nooit vir my sin gemaak nie. Ons het nie hamburgers op Maandae of hoenderpastei op Woensdae gehad nie. Geen ander gereg het hierdie voorreg gehad om aanspraak op 'n dag te maak nie. Behalwe vis. Toe ek hieroor navraag doen, is ek ingelig dat dit 'n "Katolieke ding" is en omdat ons “Protestante” is, hoef ek nie oor die doel daarvan bekommerd te wees nie. Ek was nie daaroor bekommerd nie. Ek het net gedink dit smaak sleg.

Noudat ek ouer is, begryp ek die gebruik van "vis op Vrydae" beter. In die eerste eeu het Jode op Maandae en Donderdae gevas. Die vroeë Christene het met die gebruik aangehou, maar het die dae na Woensdae en Vrydae geskuif omdat Judas Jesus se inhegtenisneming op 'n Woensdag bewerkstellig het en Jesus op 'n Vrydag gekruisig is. Stelselmatig het die Woensdag-vas weggeval en slegs Vrydag se vas is volgehou. Die vas het behels dat vleis vermy moes word omdat dit as 'n luukse beskou was. Jy moes genoeg geld gehad het om dit te kon koop of die dier self grootgemaak het. Vis was egter op die goedgekeurde lys van die kerk omdat behoeftige mense vis kon vang. Onlangs het die Katolieke biskoppe die vas op Vrydae afgelas omdat die gelowiges in die vooruitstrewende Weste aan die vereistes van vas met 'n Vrydag-ete van "Lobster Thermidor" nagekom het.

Met dit in gedagte, laat my toe om 'n vraag te vra: Toe ek as 'n skoolgaande seun vis geëet het, het ek gevas? Die antwoord hang af van wie jy vra. Daar is baie wat dit 'n vas sal noem omdat dit altyd so gedoen is. My eie keuse volgens my onvolwasse wil was egter nie om myself te ontneem nie; dit was om my luste te bevredig. Daar lê die probleem.

Toe ek my lewe aan Jesus gegee het, het ek sy dissipel geword. Hier moet ek bely dat 'n groot gedeelte van my "dissipelskap" daaruit bestaan het om my gedrag aan te pas deur 'n klomp reëls en riglyne te volg … dit was soos om vis in plaas van vleis op Vrydae te eet. Dit is "buite-na-binne" dissipelskap.

Die betekenis van die woord dissipel draai die hele gedagte van "buite-na-binne" dissipelskap op sy kop. Wanneer ons dit volgens Jesus se voorbeeld doen, is dissipelskap 'n "binne-na-buite" gedagte.

Die woord "dissipel" het 'n baie interessante oorsprong. Die herkoms is 'n samevoeging van twee woorde: dis wat “neem” beteken en capere wat “uitmekaar" beteken. Wanneer die twee woorde saamgevoeg word, beteken dit “neem uitmekaar”. Met ander woorde: 'n dissipel is 'n persoon wat uitmekaar geneem is, stuk vir stuk. Dit is hoe dissipelskap in die werklike lewe werk.

Wanneer ek en jy uitmekaar gehaal is, word ons herskep na die beeld van Jesus. Daar is ten minste drie dinge wat ons moet verstaan: 1) dit vereis 'n doelbewuste keuse van ons kant af; 2) dit vereis dat ons dinge neerlê wat ons tans as kosbaar beskou; 3) dit is 'n lang proses.

Laat my toe om te verduidelik. Eerstens, wanneer jy 'n dissipel word, vereis Jesus dat dit 'n doelbewuste keuse moet wees. Dit is nie iets wat toevallig gebeur nie. Jare gelede het God aan my 'n eenvoudige, maar kragtige voorbeeld gegee om die beginsel te verstaan. Dit is soos om een oggend wakker te word en te besef, alhoewel jy regshandig is, kan jy nou net jou linkerhand gebruik. Elke oomblik van die dag is daar 'n geleentheid om my linkerhand te oefen in plaas van my regterhand. Of dit is om my pen of 'n vurk op te tel, of 'n deur oop te maak. Elke dag oefen ek doelbewus om my linkerhand te gebruik, want mettertyd sal ek dit beter kan doen. Dit werk op dieselfde manier om soos Jesus te word. In die begin is dit ongemaklik en selfs omslagtig om my gewoontes te verander en behendiger te word. As ek egter regtig wil, sal ek dit met God se hulp regkry.

Tweedens, om 'n dissipel van Jesus te word, vereis dat ek die dinge neerlê wat tans vir my kosbaar of belangrik is. Indien dit nie waar is nie, dan is dit nie nodig om 'n dissipel te word nie omdat ek dan alreeds so perfek soos Jesus is. Omdat ek pynlik daarvan bewus is dat ek nog nie soos Jesus is nie, moet ek die Here toelaat om sy evaluering van my lewe vir my uit te wys. Hoe ernstiger ek is om 'n dissipel te word, hoe genadeloser verwag ek dat God sal wees. Ek weet dat God nooit onvriendelik sal wees nie. Indien ek egter ernstig genoeg is om as dissipel te groei, dan wil ek nie hê God moet enige kortpaaie met my loop nie. Ek kan nie aan areas in my lewe werk indien ek nie daarvan bewus is nie.

Laastens, dissipelskap is 'n tydrowende proses. 'n Goeie grondbeginsel hier is om in gedagte te hou dat hoe dieper die werk is wat gedoen moet word, hoe langer sal die proses neem. Groot huise vat langer om te bou as kleiner huise. God is besig om 'n baie groot huis in jou lewe te bou.

Vandag weet ek hoekom ek nooit van vis op Vrydae gehou het nie: dit is valse bemarking. Om vis op Vrydae te eet, het nooit veroorsaak dat ek nader aan God beweeg nie. Soms, op my dissipelskapreis, wonder ek of ek nie tog tevrede geraak het met "vis op Vrydae" deur aan te neem dat, omdat ek die regte ding doen, my hart outomaties aan die Here behoort nie.

Friedrich Nietzche, 'n toegewyde ateïs, het eenmaal gesê: "God is dood." Hy het nogtans 'n verklaring gemaak wat ek glo 'n baie belangrike waarheid bevat. Nietzche het gesê: “Die noodsaaklike ding in hemel en aarde is … dat daar 'n lang pad van gehoorsaamheid in dieselfde rigting moet wees; wat altyd oor die langtermyn lei tot 'n uitkoms wat die lewe die moeite werd maak.” Ons samelewing is obsessief dat dinge vinnig moet gebeur. Kitskos restaurante, mikrogolwe, e-pos en die internet dra net by tot ons soeke na vinnige oplossings. Ware dissipelskap gebeur egter nie vinnig nie en vereis deursettingsvermoë … 'n lang pad van gehoorsaamheid in dieselfde rigting.

Ons het seker almal gehoor dat die Christelike lewe nie 'n naelloop is nie, maar 'n marathon. Ek sal eerder dink dit kan vergelyk word met 'n 1 566 kilometer staptog. Soms kry ons blase, soms word ons moeg. Die belangrikste punt is dat ons vordering maak, selfs al is dit net 'n paar treë op 'n slag. Moenie probeer om die eindstreep vandag al te bereik nie, geniet die daaglikse reistog saam met Jesus.

Om Jesus te volg, impliseer dat ons 'n lewenswyse volg waarin ons karakter gevorm en rigting gegee word deur die Een wat ons geroep het. Om Jesus te volg, beteken om ritmes te vind en maniere aan te leer wat dikwels onuitgespreek is, maar altyd afgelei word van Jesus se lewe; en gevorm word deur Jesus se invloed. Om Jesus te volg, beteken dat ons nie wat Jesus sê, kan skei van dit wat Jesus doen of die manier waarop Hy dit doen nie. Om Jesus te volg gaan net soveel, indien nie meer nie, oor voete as oor ore en oë.
~ Eugene Peterson

Memoriseervers

“Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Matteus 28:19–20

Aangaande hierdie leesplan

20/20: God's Vision For My Life

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com