20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

20/20: God's Vision For My Life

DAG 17 VAN 35

Volg Die Leier

Deur Todd McIntyre

"Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg. Toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers: Jakobus 'n seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was in 'n skuit saam met hulle pa besig om hulle nette reg te maak. Jesus het hulle geroep, en hulle het dadelik die skuit en hulle pa verlaat en vir Jesus gevolg" Matteus 4:20-22.

As die jongste lid van my gesin, het ek dikwels tyd deurgebring saam met my broer wat vyf jaar ouer as ek is. Hy was my held. Hy het vir my in die bres getree en my teen seuns beskerm wat twee keer so groot soos ek was. Tot sy ergernis het ek elke geleentheid aangegryp om agter hom aan te loop en presies te doen wat hy doen. Ek het my broer bewonder en wou net soos hy wees. Die meeste besluite wat ek as 'n jong seun geneem het, was gebaseer op 'n nabootsing van wat my broer gedoen het. Hy het voetbal gespeel, dus wou ek ook voetbal speel. Hy het basketbal gespeel, dus wou ek ook basketbal speel. Die musiek en rolprente waarvan hy gehou het, het ek ook van gehou. As hy gedink het 'n grap was snaaks, het ek gedink dit was skreeusnaaks. Wanneer hy by sy vriende gaan kuier het, het ek hom gesmeek om te kon saamgaan. My broer het meestal ingestem. Wat hy ook al gedoen het en waarheen hy ook al gegaan het, wou ek hom volg.

Toe Jesus sy dissipels geroep het, het Hy hulle eenvoudig net een opdrag gegee: "Kom hier! Kom saam met My ..." (Matteus 4:19). Hierdie roeping om Jesus te volg begin altyd met ons verlange om net soos Hy te wil wees. Dink aan Jesus se eerste dissipels. Op vele maniere was hulle soos Jesus se jonger broers. Hy het hulle gereeld teen die godsdienstige leiers se kritiek beskerm en het dikwels hul onvolwasse kommentare hanteer. In Matteus 12, toe iemand vir Hom sê dat sy aardse moeder en broers buite staan en Hom wou sien, het Jesus na sy dissipels gewys en gesê: "Daar is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder" (Matteus 12:49-50).

Alhoewel dissipelskap een van die mees basiese fondamente van ons Christelike lewe is, het dit waarskynlik een van die mees ingewikkelde aspekte van ons geloof geword, wat ook dikwels misverstaan word. Sommige mense het al selfs probeer sê dat daar 'n verskil is tussen iemand wat 'n Christen is, en iemand wat 'n dissipel is. In werklikheid is hulle een en dieselfde ding. Die kern van dissipelskap kan saamgevat word in 'n enkele woord — volgeling.

Jesus het sy aardse missie soos volg beskryf: "... Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so" (Johannes 5:19). Jesus het vir ons gewys dat om 'n dissipel te wees eenvoudig daaroor gaan om God te volg. Die vrae wat jy jouself aanhoudend moet afvra is: Doen ek die dinge wat Jesus gedoen het? Praat ek en dra ek vrugte soos Jesus? Want die mate waarmee ons Jesus volg, is die mate waarmee ons onsself dissipels kan noem.

Een van die kragtigste beskrywings van Jesus Christus wat ek nog ooit gelees het, is deur die Skotse teoloog, James Stewart geskryf:

Hy was die sagmoedigste en nederigste van alle mense. Tog het Hy daarvan gepraat om in God se heerlikheid op die wolke te kom. Hy was so streng dat bose geeste en demone uitgeroep het van vrees oor sy koms. Tog was Hy so gemoedelik, innemend en toeganklik, dat kinders daarvan gehou het om met Hom te speel, en die kleintjies het snoesig in sy arms vertoef. Sy teenwoordigheid by die onskuldige vrolikheid van 'n troue in 'n klein dorpie was soos die teenwoordigheid van sonskyn.
Niemand anders was naastenby so vriendelik en vol meegevoel teenoor sondaars nie, maar kon tegelykertyd sulke rooiwarm skroeiende woorde oor sonde uiter. 'n Geknakte riet sou Hy nie breek nie. Sy hele lewe was liefde. Tog het Hy eenkeer vir die Fariseërs gevra hoe hulle verwag om ooit die hel se verdoeming vry te spring.
Hy was 'n dromer van drome en 'n siener van visioene, maar tegelykertyd het Hy almal van ons wat self-gemaakte realiste is, oortref met suiwer, strak realisme. Hy het almal gedien en selfs die dissipels se voete gewas, maar tog het die smouse en geldwisselaars laat spaander, om weg te kom van die vuur in sy oë, toe Hy meesterlik die tempel binnegestap het.
Hy het ander mense gered, maar ten einde laas nie Homself nie. Niks in die geskiedenis kan vergelyk word met die eenwording van teenstrydigheid waarvoor ons in die evangelies te staan kom nie; die geheimenis van Jesus is die geheimenis van sy Goddelike persoonlikheid.

Paulus, die apostel, het die volgende opdrag aan die gelowiges van Korinte gegee: "Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg" (1 Korintiërs 11:1). Ek moedig jou vandag aan om vir 'n oomblik na te dink oor jou geloof in Christus. Kan jy waarlik sê dat jy 'n "volgeling" is?

Sou ander mense sê dat jy soos Christus praat en optree wanneer hulle na jou lewe kyk? Sou hulle sien dat jy verlang na die dinge waarna Christus verlang het? Sou hulle weet dat jy besorg is oor dieselfde kwessies waaroor Christus besorg is? Is jou lewe 'n verteenwoordiging van Christus?

Noudat ek 'n man is, het baie van my begeertes verander sedert ek 'n seun was. Een begeerte bly egter steeds dieselfde: ek wil nog altyd net soos my ouboet wees — my geestelike ouboet — Jesus.

Soek na die dinge wat jou toegeneentheid tot Christus wakker maak en vul jou lewe daarmee. Soek na die dinge wat daardie toegeneentheid van jou wegrokkel en gee pad daarvandaan. Dit is die eenvoudigste verduideliking van die Christelike lewe wat ek jou kan gee.
~ Matt Chandler

Memoriseervers

"Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld" Matteus 28:19-20.

Aangaande hierdie leesplan

20/20: God's Vision For My Life

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com