20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

Klim Uit Die Boot Uit
Deur Josh Morris
"Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld." Matteus 28:19-20
'n Paar jaar gelede, terwyl ek in my woonkamer met my broer gesels het, het my sesjarige broerskind die vertrek binnegekom. Ek het geweet hy was daar, maar het nie juis aandag geskenk aan wat hy besig was om te doen nie … totdat ek sien hoe hy my horlosie van die koffietafel af optel. Ek was nie uitermatig bekommerd oor die veiligheid van my horlosie nie, maar ek wou graag weet waarheen hy daarmee op pad was. My broer het opgemerk dat ek sy seun dophou, en het toe ook gekyk wat aangaan. Nadat my broerskind al die kante en knoppies van die horlosie vir 'n hele paar minute van naderby bestudeer het, het hy die horlosie na sy mond gelig en afgelek. Toe sit hy dit terug op die koffietafel en loop weg.
Ek en my broer het geskok na mekaar gekyk en gelyktydig gevra: "Het hy nounet daardie horlosie gelek?"
Ek het later gehoor dat my broerskind onlangs 'n man gesien het wat sy vinger lek, die gesig van sy horlosie daarmee afvryf en dit daarna met sy hemp afvee. Hy kon nie verstaan waarom die man dit gedoen het nie, maar dit het vir hom heel oulik gelyk. Toe hy dus 'n horlosie op die koffietafel sien lê, het hy geweet dit was sy geleentheid. In plaas daarvan om sy vinger te lek, het hy gedink hy kon die horlosie regtig natmaak deur net sy tong te gebruik. Na al daardie harde werk het hy gedink: "Hoekom dit afdroog?" Alhoewel my broerskind nou heelwat ouer (en wyser) is, raak hy steeds verleë wanneer ons grappies maak dat hy 'n ou is wat horlosies lek.
Mense bevind hulleself dikwels in 'n verleentheid wanneer hulle nie oor veel kennis van 'n spesifieke onderwerp beskik nie. Wanneer jy tyd deurbring met kenners op 'n sekere gebied waarvan jy nie veel weet nie, duik daar vele geleenthede vir verleentheid op. Dikwels verhoed die vrees vir verleentheid ons om dieper te delf. Dit is makliker om voor te gee dat ons nie juis in iets belangstel nie, as om te erken dat die onderwerp vir ons nuut is en ons niks daarvan weet nie.
Daar is verskeie verhale in die Bybel wat my laat dink dat die apostel Petrus met hierdie soort verleentheid vertroud was. Ons lees in Matteus 14 van die keer toe Petrus gedink het dis 'n goeie idee om op water te loop. 'n Paar oomblikke later was hy onder die water en het na Jesus om hulp geroep. Jesus het die dissipels 'n hele paar uur vantevore opdrag gegee om die boot dieper die see in te neem, maar Hy het nie saamgegaan nie. Toe die dissipels dus later sien hoe Jesus op die water na hulle aangeloop kom, het hulle bang geword omdat hulle gedink het Hy was 'n spook. Jesus het egter vir hulle gesê dat dit Hy is en dat hulle nie bang hoef te wees nie. Dit is toe wat Petrus gesê het: "Jesus, as dit regtig U is, sê dan vir my om op die water na U toe te loop."
Petrus het eintlik gevra: "Jesus, werk u krag deur my? Kan ek doen wat U doen?" As jy mooi daaroor dink, het die feit dat Jesus vir Petrus gesê het om na Hom toe te kom, nie eintlik enigiets aan Petrus en die dissipels bewys nie. Enigiemand kon vir Petrus gesê het om op water te probeer loop. Dit was eers toe Petrus uit die boot klim en op die water geloop het sonder om te sink dat hulle geweet het — dit is die Seun van God. Om 'n geloofstap te neem en te sê dat jy hulp nodig het, is nooit maklik nie en kan jou soms 'n bietjie verleë laat voel, maar dit is altyd die moeite werd. Petrus was inderdaad die enigste dissipel wat op water geloop het.
Terwyl Jesus op aarde was, het Hy iets verstommend gedoen wat ek eers onlangs ten volle begin verstaan het. Alhoewel Hy deur sy prediking, onderrig en genesing 'n impak op duisende lewens gemaak het, het Hy slegs twaalf manne vir dissipelskap gekies. Daar is 'n groot verskil tussen om iemand te onderrig, en om van iemand 'n dissipel te maak. Dissipelskap is soveel meer. Dit behels om te onderrig deur die voorbeeld wat jy stel, leierskap te midde van lewensomstandighede en uiteindelik om iemand te help om sy lewe heeltemal te verander.
Jy moet van 'n geestelike sesjarige groei tot 'n volwassene wat volledige dissipelskap ondergaan het. Hebreërs 5:12-14 verwys soos volg hierna: "Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig. 'n Mens moet julle met melk voed en nie met vaste kos nie. Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog 'n kind. Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei."
Dit is nie vir volgelinge van Jesus genoeg om maar net weekliks kerk toe te gaan en aan te neem dat jy alles ervaar wat God vir jou wil gee nie. Alhoewel dit beslis deel van 'n gesonde Christelike lewe is om saam met die liggaam van Christus kerkbywoning te beleef, wil God van jou 'n dissipel maak deur Bybelstudie, gebed en godvresende verhoudings. Op jou beurt sal jy agterkom dat jy 'n al hoe groter invloed op ander mense se lewens het. Jy begin 'n diepgaande impak maak wat lei tot geestelike volwassenheid.
Voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het Hy vir sy dissipels gesê: "Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld" (Matteus 28:19-20).
Jesus het aan die dissipels verduidelik dat Hy altyd daar sou wees vir hulle, as gevolg van die doop deur die Heilige Gees wat hulle binnekort sou ontvang. Hy sou steeds daar wees om hulle te onderrig, Hy sou steeds daar wees om hulle te begelei, en Hy sou steeds daar wees om hulle lief te hê. Te danke aan sy Heilige Gees binne-in hulle, was hulle nou bekwaam om ander dissipels te gaan maak.
Daar is iets wat jy behoort te weet. Jesus is steeds hier om jou te onderrig, te begelei en lief te hê. Dis wat jou bekwaam maak om op jou pad saam met Christus te leer en te groei, en dan dissipels te gaan maak … selfs as dit beteken dat jy nou en dan 'n "horlosie-lekker" genoem word.
Geloof is 'n desperate duik uit die sinkende boot van menslike pogings, en 'n gebed dat Jesus daar sal wees om jou uit die water te haal.
~ Max Lucado
Memoriseervers
"Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld" Matteus 28:19-20.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.
More