20/20: God se Visie Vir My LeweVoorbeeld

20/20: God's Vision For My Life

DAG 15 VAN 35

Van Sandput Na Sandput

Deur Zach Neese

"Nou wil ek julle baie ernstig vra, broers en susters: As julle dink aan alles wat God in sy groot barmhartigheid vir julle gedoen het, gee dan julleself aan Hom as 'n lewende en heilige offer. Dit is die soort offer waarvan Hy hou, en wat julle diens aan God werklik sinvol maak. Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hy wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is"Romeine 12:1-2 (NLV).

Toe ek klein was, het ons bure 'n ongelooflike sandput gehad. Daar was diep, skoon sand in. Dit was in die koelte en goed toegerus met emmers en botterbakkies, grawe, soldate, vullistrokke en avontuurkarakters. Daardie sandput het eindelose geleenthede verteenwoordig. Daar was wêrelde om te skep en te vernietig, leërmagte wat kon opstaan en val — alles aan die vingerpunte van verbeeldingryke, magtige sewejariges.

Die enigste probleem was, as ek in die sandput wou speel, moes ek met die buurkind speel. Hy het gekul, maklik gehuil, en was 'n bedorwe brokkie; maar as ek in sy sandput wou speel, moes ek volgens sy reëls speel. En sy reëls was eenvoudig — hy het altyd gewen … en ek het altyd verloor.

Nie lekker nie.

Dus vra ek toe my pa of ons 'n sandput in ons agtertuin kan kry. Ek en Pa het 'n fort gebou en toe het ek 'n reusagtige gat in die grond gegrawe wat ek met sand, water, paddas met horings … enigiets wat ek wou, kon opvul. My sandput was die heerlikste in die wêreld en die lekkerste daarvan was dat ons volgens die "regte" reëls gespeel het, en ek altyd gewen het.

Vryheid hang grotendeels daarvan af in wie se sandput jy speel. Dikwels is Christene soos kinders wat in die duiwel se sandput speel. Ons hou aan om ons wêrelde te bou en die lewe se spel te speel, maar kan nie verstaan hoekom ons altyd voel ons verloor nie. Daar is terreine in ons lewens waar ons net nie vryheid kan vind nie en ons kan nie verstaan hoekom nie. Die antwoord is eenvoudig: ons speel in die verkeerde sandput.

Die beste manier om in die regte sandput te beland, is deur aanbidding. Jy sien, aanbidding behels nie net om vir God liedjies te sing nie. Inteendeel, dit is waarskynlik die geringste aspek van aanbidding. Die Hebreeuse woord wat mees dikwels vertaal word met aanbidding, is die woord shachah. Dit beteken "om neer te buig". Die Griekse woord vir aanbidding, proskuneo, beteken "om jou liefde vir God te demonstreer deur jouself eerbiedig op die grond voor Hom uit te strek." Wat het hierdie twee woorde in gemeen? Die konsep om neer te buig. Mense wat aanbid, verneder hulleself voor God. Mense wat aanbid, onderwerp hulleself aan Jesus se heerskappy.

Voor ek begin het om te aanbid, het ek my hele lewe onderwerp aan 'n gevalle stelsel, gebonde aan stukkende reëls. Ek kon nie in daardie stelsel vry wees nie, want sy heersers was sonde, die dood, die graf en die duiwel self. Solank as wat ek in hulle gebied en volgens hulle reëls gespeel het, het hulle altyd gewen en ek het altyd verloor.

Toe ek egter begin aanbid, het vernuwende verandering gebeur. My hart het na God gekeer en ek het my lewe aan sy heerskappy onderwerp. Toe ek dit doen, het ek 'n algehele paradigma verskuiwing ervaar. Skielik het ek nie meer in pas met die wette van sonde geleef nie; ek was nou in pas met die wette van die lewe. In God se sandput speel ons volgens God se reëls en sy Seun se oorwinning definieer alles. Verslawings gee voorrang aan vryheid, wellus gee voorrang aan liefde, woede gee voorrang aan geduld, gierigheid gee voorrang aan barmhartigheid, bitterheid gee voorrang aan vergewensgesindheid, vloeke gee voorrang aan seëninge, die dood aan die lewe, siekte aan genesing en sonde gee voorrang aan genade.

In God se sandput bepaal die reëls dat ek lewe. In God se sandput bepaal die reëls dat ek wen. Ek is meer as bloot 'n deelnemer aan die lewe. Volgens Romeine 8:37 is ek 'n oorwinnaar.

Aanbidding plaas my in die Vader se sandput, want aanbidding is 'n kwessie van heerskappy. Aanbidders is burgers van hulle Vader se koninkryk, onderdanig aan sy begeertes en reëls en geregtig op al die beskerming en voordele van sy troon. In wie se koninkryk leef jy? Aan wie se reëls is jy gebonde?

Kyk om jou en maak seker in wie se sandput jy speel. As jy in 'n area van jou lewe vryheid kortkom, is jy waarskynlik in die verkeerde een. Jy moet uit daardie sandput kom en huis toe gaan. Dis so maklik as om vir God te sê: "Vader, ek het nie volgens U wil geleef nie en dit werk duidelik nie. Ek wil U aanbid. Ek wil U as Here volg en my lewe volgens u weë leef. Dus sal ek van nou af enigiets doen wat U vir my sê om te doen. Maak u heerskappy, u koninkryk, u liefde en u krag sigbaar in my lewe. In die Naam van Jesus. Amen."

As gelowiges is ons geroepe om 'n lewe van onderdanigheid te leef — onderdanigheid aan God. Onderdanigheid behels eenvoudig dat jy jou lewenstaak onder God se beheer plaas. Jy neem wat jy wil doen en maak dit ondergeskik aan wat God wil hê jy moet doen. God het 'n taak vir jou lewe, maar jy moet jou lewe onder sy beheer plaas om daardie taak te vervul. Wanneer jy dit doen, seën Hy jou met die vermoë om sy roeping vir jou te kan vervul.
~Robert Morris

Memoriseervers

“"Die Here” beteken hier “die Gees”, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid" 2 Korintiërs 3:17.

Aangaande hierdie leesplan

20/20: God's Vision For My Life

God wil hê dat elkeen van ons gered, genees, vrygemaak, 'n dissipel, toegerus, bemagtig en dienende moet wees. Kom saam met ons op 'n sewe weke toewydingsreis wat jou sal help om hierdie gebiede in jou eie lewe uit te leef. Ons hoop is dat jy die volle omvang van God se visie vir jou lewe sal ontdek en vervul.

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com