Daar Staan GeskryweVoorbeeld

It Is Written

DAG 15 VAN 31

Geskep vir Passie

deur Robert Morris

Toe ek in my twintigs was, het ek God leer liefkry, maar ek het nog 'n klomp bagasie gehad, want ek het 'n onsedelike lewe gelei voor ek tot bekering gekom het. Ek het na my pastoor, Olen Griffing, gegaan en vir hom gesê: "Ek weet nie wat om te doen nie. Ek het baie wellustige gedagtes, maar ek weet nie hoe om van die begeertes ontslae te raak nie. Is daar enige raad of 'n boek wat jy my kan gee om my te help?" Ek sal nooit vergeet wat volgende gebeur het nie. Hy het na my gekyk, sy hande op my kop gesit en gebid: "Vader, ek bid dat Robert 'n passie vir U sal ontwikkel. In die Naam van Jesus. Amen." Toe draai hy om en loop weg. Daardie gebed het my lewe verander.

Die afgelope paar dae het ons oor maniere gepraat waarmee die vyand probeer om ons te verstik en ons van die Woord van God af probeer weghou. Een manier hoe hy dit doen, is om ons 'n begeerte vir ander dinge te gee. In my geval was dit wellus, maar dit kan wyer strek as dit. Dalk begeer jy meer besittings, 'n ander eggenoot, meer klere of 'n ander werk. Ek het gesien hoe dit mense meer depressief maak as enigiets anders, omdat hulle nooit tevrede gestel word nie. Die enigste ding wat die mens se siel kan bevredig is God, nie 'n nuwe kar of huis nie.

Kyk na vandag se vers, 1 Johannes 2:16 AFR53: "Want alles wat in die wêreld is — die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe — is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld." Paulus gebruik die woorde begeerlikhede van die vlees. Wanneer ons daaroor nadink, kom daar waarskynlik negatiewe, seksuele betekenisse by ons op. Die oorsprong van die woord wat as "begeerlikheid" vertaal word (epithemia), beteken eintlik "passie". God het jou met passie geskep, maar die Satan het dit na wellus verdraai. Ons is veronderstel om passievol oor God en mense te wees, maar die Satan verdraai dit na begeerlikhede na verkeerde mense en dinge, wat ons van die Woord van God weerhou.

Weet jy wat die Here die volgende oggend in my stiltetyd vir my gesê het nadat pastoor Olen vir my gebid het? Hy het gesê: "Seun, dis 'n passie vir My wat wellus vir ander uit jou lewe verdryf." Dis hoe eenvoudig dit is. Streef na die Here — nie om dit net op jou lysie af te merk nie, maar sodat jy die Een wat passievol oor jou is, passievol kan liefhê.

Gebed

Vader, ek wil U passievol liefhê. Help my om my oë op U gevestig te hou sodat my begeertes vir ander dinge sal verdwyn. Gee my vandag 'n hernude passie vir u Woord sodat ek U beter kan leer ken. In die Naam van Jesus. Amen.

Geheuevers

"Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle" 1 Petrus 5:6-7.

Aangaande hierdie leesplan

It Is Written

Hierdie 31-dag oordenking, wat saamgestel is uit die onderrig van pastore Robert Morris en Marcus Breechen van Gateway Church, fokus op die belangrikheid om die Woord van God in jou alledaagse lewe te hê. Elke dag onthul wat die Woord is — asem, brood, water, 'n swaard en 'n lamp — en hoe om dit in jou lewe toe te pas. Terwyl jy lees, sal jy geïnspireer word om nader aan God te kom en sy Woord daagliks in jou hart te bêre.

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com