Daar Staan GeskryweVoorbeeld

It Is Written

DAG 18 VAN 31

Ek Word Beskerm

deur Marcus Brecheen

Ek het my bestuurderslisensie gekry toe ek 16 jaar oud was, op 'n gewone skooldag. Na aandete, net voor my pa vir my die sleutels van sy kar gegee het, het hy my eenkant geroep. Hy het gesê: "Seun, sit. Ons moet 'n bietjie gesels. Jy het jou lisensie verdien en is 'n goeie bestuurder, maar daar is nog iets wat jy moet weet. As jy 'n verkeersboete kry, gaan ek die sleutels vir 'n maand lank van jou af wegneem." Wat dink jy het gebeur? Die derde dag is ek afgetrek en het 'n spoedboete gekry. Natuurlik was die eerste woorde wat my pa gesê het: "Gee die sleutels vir my." Ek het probeer om sy arm te draai, maar dit was nutteloos. Net soos hy gesê het, was ek vir 'n maand lank nie toegelaat om te bestuur nie. Dis wat ek omtrent my pa geleer het: hy het bedoel wat hy gesê het. Was hy te streng en liefdeloos? Nee. Dit was in der waarheid uit liefde dat hy my in die eerste plek toegelaat het om sy kar te bestuur. Hy was nie besig om my te straf nie. Hy was besig om my te beskerm.

Op dieselfde manier is ons hemelse Vader lief vir ons en wil Hy ons beskerm. Baie kere kan mense dit verwar met streng en onredelik wees. God het ons egter sy Woord gegee om ons te beskerm; nie om ons in te perk of te beperk nie.

Die feit dat ek en jy beskerming nodig het, veronderstel dat ons negatiewe aandag gaan kry. Daar is egter iets belangrik wat jy moet verstaan oor hierdie negatiewe aandag wat jy gaan ontvang: dis nie op jou gemik nie. Aangesien die duiwel nie vir God kan aanval nie, val hy ons aan en maak ons seer sodat hy God kan seermaak. Die manier waarop hy dit doen, is om die Woord van God by sy kinders te steel. Markus 4:15 sê: "... sodra hulle die woord hoor, kom die Satan en vat die woord weg wat in hulle gesaai is."

Dis al van die begin van die skepping aan die gebeur. In Genesis 2:16-17 beveel God vir Adam om nie van die boom van alle kennis te eet nie, met 'n waarskuwing daarby: "Die dag as jy daarvan eet, sterf jy." Dit was die heel eerste keer wat God sy Woord in die mens se hart gesaai het. Kort daarna het die Satan vir Eva gesê dat wat God oor die boom gesê het, nie waar was nie. Hy het in werklikheid die woord van God aangeval en nie vir Eva nie. Adam en Eva het God se bevel, om nie van die een boom in die tuin te eet nie, as 'n straf gesien in plaas van beskerming. Wanneer ons eers verstaan dat die Woord van God bedoel is om ons te beskerm, sal ons ophou om God as 'n wetstoepasser te sien en Hom begin sien as ons Vader en beskermheer.

Gebed

Vader, dankie dat U 'n goeie Vader is wie se woorde beskerming teen die vyand bied. Beskerm asseblief my lewe onderwyl ek nader aan U groei deur u Woord te lees en te gehoorsaam. In die Naam van Jesus. Amen.

Geheuevers

"Die Here is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou. Hy het my gehelp" Psalm 28:7. 

Aangaande hierdie leesplan

It Is Written

Hierdie 31-dag oordenking, wat saamgestel is uit die onderrig van pastore Robert Morris en Marcus Breechen van Gateway Church, fokus op die belangrikheid om die Woord van God in jou alledaagse lewe te hê. Elke dag onthul wat die Woord is — asem, brood, water, 'n swaard en 'n lamp — en hoe om dit in jou lewe toe te pas. Terwyl jy lees, sal jy geïnspireer word om nader aan God te kom en sy Woord daagliks in jou hart te bêre.

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com