Daar Staan GeskryweVoorbeeld

It Is Written

DAG 14 VAN 31

Die Bedrieglikheid van Rykdom

deur Robert Morris

Oor die afgelope paar dae het ons oor die grond vol dorings in die gelykenis van die saaier gepraat. Gister het ons geleer hoe die dorings, of duiwels, probeer om die Woord van God te verstik of om dit van ons af weg te hou, deur ons swaar te laat dra aan die bekommernisse van die wêreld. 'n Ander manier waarop hulle probeer om ons te verstik, is deur die bedrieglikheid van rykdom.

1 Timoteus 6:17 sê dat ons nie veronderstel is om op geld te vertrou nie. Kom ons kyk na verse 9 en 10: "Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. Geldgierigheid is 'n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal." Hierdie verse sê dat ons nie rykdom moet najaag of begeer nie. Weet jy hoekom dit so belangrik is? Dis omdat ons veronderstel is om op God te vertrou, Hom na te streef en lief te hê … nie rykdom nie. As ons na rykdom begin kyk vir die dinge waarvoor ons liewer op God moet vertrou, gaan ons ophou om sy Woord diep in ons hart te bêre, gaan versoeking ons oorval en gaan ons baie kommer beleef.

Dis so maklik om in hierdie verkeerde denke te verval — dat geld ons sekuriteit, voorsiener en vredemaker is. Vir baie mense word hulle bankstate en besittings hulle identiteit. Rykdom is egter bedrieglik. Wanneer ons na geld begin kyk om geluk te bring of liefde te bewys, is dit nooit genoeg nie. Dis presies wat die Satan doen; hy bekruip jou en herinner jou stilletjies aan jou kar wat nie nuut genoeg is nie en jou huis wat nie groot genoeg is nie. Hy probeer om jou te laat vergeet dat Jesus jou voorsiener en sekuriteit is en dat daardie dinge nie sonder Hom bestaan nie.

Voor jy nou begin sleg voel oor daardie nuwe kar of mooi huis, kom ek sê dit: daar is niks mee verkeerd om 'n goeie werk te wil hê om in jou gesin se behoeftes te kan voorsien nie, of om sukses te behaal in jou loopbaan nie. Die woord "rykdom" verwys na 'n oorvloed van aardse besittings. Die vers sê dus, as jy jou vertroue, begeerte en liefde in die oorvloed van dinge stel, sal die Woord van God uit jou lewe gedryf word en sal jnie vrug dra nie. God het egter sy Woord geskep om vrug te dra in dié wat dit ontvang het. Wanneer jy Hom toelaat om vir jou te voorsien, maak jy jou hart oop om sy Woord te ontvang.

Gebed

Vader, dankie dat U my voorsiener is. Vergewe my dat ek my vertroue in enigiets anders as U stel. My aardse besittings sal verdwyn as ek sterf, maar u voorsiening is vir ewig. Ek sal geheel en al op U vertrou. In die Naam van Jesus. Amen.

Geheuevers

"Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle" 1 Petrus 5:6-7. 

Aangaande hierdie leesplan

It Is Written

Hierdie 31-dag oordenking, wat saamgestel is uit die onderrig van pastore Robert Morris en Marcus Breechen van Gateway Church, fokus op die belangrikheid om die Woord van God in jou alledaagse lewe te hê. Elke dag onthul wat die Woord is — asem, brood, water, 'n swaard en 'n lamp — en hoe om dit in jou lewe toe te pas. Terwyl jy lees, sal jy geïnspireer word om nader aan God te kom en sy Woord daagliks in jou hart te bêre.

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com