Daar Staan GeskryweVoorbeeld

Werp Jou Bekommernisse
deur Robert Morris
Gister het ons oor die gelykenis van die saaier in Markus 4 gepraat. Die saad wat tussen die dorings geval het, het verstik en het nie 'n oes gelewer nie. Hierdie saad verteenwoordig die Woord van God. Oor die volgende paar dae gaan ons na drie maniere kyk hoe dorings jou kan verstik, met ander woorde, keer dat jy die Woord van God hoor. Die eerste manier hoe hulle jou van die Woord kan weghou, is deur jou met die laste van die wêreld neer te druk.
Het iemand al ooit vir jou gesê: "Kyk mooi na jouself"? Dis 'n goeie gesegde wat beteken jy moet versigtig wees. Ek hou nie baie van daardie gesegde nie. Ek wil eintlik nie myself oppas nie. Ek wil eerder hê dat God mooi na my sal kyk. 1 Petrus 5:7 sê: "Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle." Ons is nie gemaak om laste te dra nie, maar om hulle op die Here te werp. Wanneer jy probeer om dit self te dra, beland jy in die moeilikheid.
Ek wonder hoeveel van ons werp nie regtig hulle bekommernisse op die Here nie. Ek hoor so baie mense wat kla dat hulle belas is met sorge — finansies, die ekonomie, die wêreld, hulle kinders — en dat hulle dit al telkemale vir God gegee het. Hoe kan jy egter soveel kere iets vir iemand anders gee tensy jy dit elke keer weer terugneem? Ek is nie so seker dat ons dit in werklikheid vir God gee nie. Daar is 'n gevaar aan verbonde: al lees jy die Bybel kan die sorge van die wêreld die Woord van God verstik as jy dit bly dra.
Dink 'n bietjie hieroor. Was jy al ooit in 'n kerkdiens en probeer aanbid en die Woord hoor, maar jou gedagtes dwaal en jy bekommer jou oor baie dinge? Jy kan nie fokus nie, want hierdie wêreld kom by jou op — dalk het jy op pad kerk toe met jou eggenoot baklei, jy het probleme met 'n vriend of jy weet nie hoe jy hierdie maand se huur gaan betaal nie. As jy regtig die Woord van God wil absorbeer, moet jy jou bekommernisse op die Here werp. Hy is die enigste Een wat dit kan dra en een van die redes hoekom Hy dit doen, is sodat jy vrede kan ervaar. Is jy gereed om al jou bekommernisse op Hom te werp? Hy is gereed en wag om dit op Hom te neem.
Gebed
Vader, dankie dat ek nie die sorge van hierdie wêreld hoef te dra nie. Ek gee nou op hierdie oomblik al die dinge in my lewe wat my bekommer vir U. Ek gaan hulle nie meer dra nie. In die Naam van Jesus. Amen.
Geheuevers
"Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle" 1 Petrus 5:6-7.
Aangaande hierdie leesplan

Hierdie 31-dag oordenking, wat saamgestel is uit die onderrig van pastore Robert Morris en Marcus Breechen van Gateway Church, fokus op die belangrikheid om die Woord van God in jou alledaagse lewe te hê. Elke dag onthul wat die Woord is — asem, brood, water, 'n swaard en 'n lamp — en hoe om dit in jou lewe toe te pas. Terwyl jy lees, sal jy geïnspireer word om nader aan God te kom en sy Woord daagliks in jou hart te bêre.
More